Raak ontslae van die inperkingsgevoel en kom kuier op Franschhoek
Steeds nie heeltemal ontslae van die gevolge van kajuitkoors nie? Wel, dan het Franschhoek net die regte “medisyne” om van die laaste stuiptrekkings ontslae te raak, die jaarlikse Franschhoek Uncorked-fees wat oor die naweek van 6 tot 8 November aangebied word.
Franschhoek Uncorked sal besoekers nie net die kans bied om al Franschhoek Vignerons se die kelderskatte te ervaar nie, maar ook om die streek se vele ander aanbiedinge te ontdek en verken.
Die deelnemende wynmakerye in die streek sal hul beste voet voorsit om gaste aan die jongste oesjaarwyne bekend te stel, insluitende Cap Classiques, witwyne, rosé’s en selfs rooiwyne wat die somer soos ’n handskoen pas. Lewende musiek en smaaklike kos sal die spreekwoordelike kersie op die koek wees.
Wees gerus op die uitkyk vir ’n paar spesiale aktiwiteite wat beslis die belangstelling gaande sal maak. Dit sluit in ’n unieke chardonnay-en-soesji-pasmaak en ’n trekkerrit deur die wingerde, om maar net twee te noem.
Met die meeste van die streek se wynmakerye wat aan die fees deelneem, sal daar beslis iets vir almal wees om te geniet. Reis gerus van plaas tot plaas en geniet die vars lug en heerlike sonskynweer terwyl jy die natuurskone omgewing gade slaan.
Breek behoorlik weg van die alledaagse en kuier sommer die hele naweek. Behalwe puik wyn en kos bied die vallei ook weelderige verblyf, wat wissel van bed-en-ontbyt en gastehuise tot vyfster-boetiekhotels. Dit sal gaste die kans gee om die dorp met al sy winkels, kunsgalerye en markte behoorlik te verken.
COVID-19-protokol, soos van toepassing in Vlak 1, sal oral van krag wees.
Bespreek vooraf ’n Franschhoek Uncorked-naweekpas teen R180 per persoon by www.webtickets.co.za. Die naweekpas, wat geldig is vir al drie dae, bied toegang tot al die deelemende wynmakerye, asook ’n komplimentêre proeglas en gratis wynproeë.
Vir meer inligting en die beskikbaarheid van verblyf, kontak die Franschhoek-wynvallei op 021 876 2861 of besoek www.franschhoekuncorked.co.za. Om op datum te bly van verwikkelinge, volg @Franschhoek_SA op Twitter.