Wyne in swart besit kry stewige hupstoot

Wegspring van ‘n nuwe begin

Die bekendstelling van The Wine Arc dui die wegspring van ‘n nuwe begin en groeimoontlikhede vir wynhandelsmerke in swart besit aan. Dertien handelsmerke, wat insluit Aslina Wyne, Bayede!, Cape Dreams Wyne, Carmen Stevens Wyne, Koni Wyne, La Ricmal, Libby’s Pride Wyne, M’Hudi Wyne, Paardenkloof Wyne, Ses’fikele Wyne, The Bridge of Hope Wyne, Tesselaarsdal Wyne en Thokozani Wyne sal aan die loodsprogram deelneem wat in Desember afskop.

In sy verwelkomingstoespraak het die voorsitter van die SA Wynindustrie Transformasie-eenheid (SAWITU), Tshililo Ronald Ramabulana, gesê dat dit die eerste stap is om wynhandelsmerke in swart besit in die wynbedryf te vestig.

Carmen Stevens, wat namens die deelnemende handelsmerke gepraat het, het genoem dat The Wine Arc drie draaipunte in die bedryf simboliseer. “Hierdie wynhandelsmerktuiste simboliseer die einde van meer as twee dekades in die Suid-Afrikaanse wynbedryf waar ons nie ‘n handelsmerktuiste van ons eie gehad het nie. Hierdie is ‘n kleinhandelspasie wat vriendelik en akkommoderend is en vooruitsigte van groei en geleenthede vir ons handelsmerke bied. Stevens het verder genoem dat The Wine Arc die verlede, hede en die toekoms vir wynhandelsmerke in die land verteenwoordig.

Joyene Isaacs, voorsitter van die Landbounavorsingsraad (LNR), het genoem dat die ekonomiese ontwikkeling krities belangrik is en dat almal anders en kreatief moet dink en hande moet vuil maak soos daar vorentoe beweeg word, want die uitdagings waarmee daar op ‘n daaglikse basis gekonfronteer word, vereis dit.  “Die LNR het R12 biljoen se infrastruktuur en ons moet uitwerk hoe om dit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners te gebruik. Kreatiewe vennootskappe soos die een met SAWITU voorsien die kreatiewe spasie vir mense om nader aan die LNR te beweeg”, sê Isaacs.

In haar gelukwensing aan die wynhandelsmerke in swart besit, daag sy hulle uit om geensins verskonend te wees omdat hulle geld via The Wine Arc maak nie en het die SAWITU-raad gekomplimenteer dat hulle hierdie kreatiewe platvorm vir wynhandelsmerke, nie net in die Wes-kaap nie, maar regoor die land, geskep het.

In sy toespraak het Dr Ivan Meyer, minister vir landbou in die Wes-Kaap, die belangrikheid van die vyf prioriteite wat hy sedert sy toetrede as landbouminister identifiseer het, genoem.  Een daarvan is marktoegang en aangesien wyn een van die grootste uitvoerprodukte van Suid-Afrika is, het Meyer na afloop van sy toespraak sy ondersteuning herbevestig deur ‘n voortsettingsooreenkoms vir die befondsing van die e-handel platform vir The Wine Arc te teken. “The Wine Arc skep optimisme en waarde vir wynhandelsmerke in swart besit en ons samewerking maak dit ‘n werklikheid”, sê Meyer.

In haar hoofrede het Thoko Didiza, nasional minister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, erkenning gegee aan die voorlopers in die bedryf wat kernrolle gespeel het in die transformasie van die wynbedryf. Een van hierdie voorlopers is Jabulani Ntshangase, ‘n pionier in die wynbedryf. Sy het Wendy Petersen, operasionele bestruurder van SAWITU vir haar veerkragtigheid, kapasiteit om die aanslagte te weerstaan en haar volharding om op koers te bly, bedank.

“Ons moet ‘n inklusiewe bedryf bou, alhoewel ons die behoefte aan ondersteuning van handelsmerke in swart besit erken en daarom direk op hulle fokus. Ons moet egter beweeg tot totale inklusiewiteit binne die wynbedryf. Aan die einde van die dag, ten spyte daarvan of jy ‘n groot korporatiewe besigheid of slegs ‘n klein wynmakery het, gaan dit alles oor wyn.”

Didiza het die belangrikheid van samewerking met die provinsiale eweknieë in die regering beklemtoon sodat marktoegang op die Afrika-kontinent en die res van die wêreld verhoog kan word en dat daar seker gemaak word dat Suid-Afrikaanse wyn die markte se aandag trek.

Die wynhandelsmerke het deur ‘n taai proses op verskillende vlakke gegaan, wat kommersieel, bemarking en ‘n tegniese 360-evaluasie om hul gereedheid vir hierdie program te verseker. Tydens die tegniese evaluasie het die handelsmerke ‘n blinde wynproe met kompeterende handelsmerke in die mark ondergaan en het hoë punte behaal, wat die kwaliteit van die wyne wat op hierdie platvorm aangebied word, beklemtoon.

Malcolm Green, mede-eienaar van La Ricmal, het kommentaar gelewer op die uitstaande standaard van The Wine Arc-fasiliteit. “La Ricmal is geëerd om gekies te word as een van die dertien handelsmerke en ons is greed om geskiedenis in Suid-Afrika te maak. Dit het baie mense gekos om hierdie vir ons op te rig en daar is geen woorde wat ons dankbaarheid kan beskryf nie. Hierdie gaan nie oor rand en sent nie, dit gaan oor baie meer as dit en ons is opreg dankbaar.”

By die bekendstelling van The Wine Arc was, van links, Dr Caleb Oluwafemi, LNR navorsingspanleier, Derusha Crank, LNR bemarking en kommunikasiebeampte, Wendy Petersen, SAWITU operasionele bestuurder, Dr Bongani Ndimba, senior navorsingsbestuurder,  Infruitec-Nietvoorbij en Prem Naidu, besturende vennoot: Next Generation Beverages.