Jong wynsterre gesoek vir SA se oudste wynskou

Tyd om jong sterre in te skryf vir SA Jongwynskou

Die spertyd om in te skryf vir vanjaar se SA Jongwynskou, is vasgemaak vir 24 Junie in al die Suid-Afrikaanse wyngebiede en 9 Julie by die skou se kantoor in die Paarl.

Die organiseerders van die kompetisie – vir jongwyne wat in dieselfde jaar gemaak is en in die oudste wynkompetisie ter wêreld beoordeelword – die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), het aangekondig dat die beoordeling vir 26 – 30 Julie by Nederburg in die Paarl geskeduleer is.

Die organiseerders sal die veiligheidsmaatreëls soos vereis deur die plaaslike Covid-19-pandemie noukeurig implementeer vir hierdie kompetisies om te kan voortgaan. Deeglike protokolle is verlede jaar ontwikkel om die ingeskrewe wyne so te kan hanteer dat alle gesondheids- en veiligheidsvereistes vir die beoordelaars, beamptes en personeel betrokke by die proesessies, nagekom word.

Die SA Jongwynskou is die wêreld se oudste en word reeds vir 189 jaar aangebied. Dit gee wynmakers sedert 1833 die geleentheid om hul verskillende jongwyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul mededingers op te weeg.

Die wynmakers is besonder opgewonde oor die wyne van die 2021-oesjaar, wat hoë gehalte wit- en rooiwyne opgelewer het ondanks klimaatstoestande wat baie gewissel het  gedurende beide die groei- en oesperiodes.

Die Jongwynskou bied weer eens die ideale geleentheid vir alle produsente om met hul uitsoekwyne mee te ding vir SA Kampioentrofee-status in 17 klasse. Twee besonder gesogte trofeë is op die spel, naamlik die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë, onderskeidelik as die kompetisie se top toekennings sedert 1952 vir die algehele kampioenwyn, en erkenning vir die hoogste totale punte behaal vir vyf ingeskrewe wyne.

In pas met die gebruik oor die jare, word spesialis-beoordelaars in al die panele aangestel om te verseker dat top kundigheid ingespan word om die wenners te identifiseer.

Die SA Jongwynskou se kernbesigheid is om die wynbedryf die geleentheid te gee om jongwyne vir beoordeling voor te lê en die uitslae as ʼn maatstaf van gehalte te gebruik. Dít behoort besonder betekenisvol te wees vir die huidige oesjaar, wat tot dusver as ʼn uitnemende een bestempel is.

Danksy die waarde van hierdie trofeë – sowel as 17 ander spogstukke wat sedert die gloriedae van die toekenings  in verskillende kategorieë in die Kompanjiestuin in Kaapstad en later die Goodwood-skouterrein, het die SA Jongwynskou in samewerking met Agri-Expo van krag tot krag gegaan en is die kompetisie ʼn maatstaf van die land se nuwe wyne met elke nuwe oesjaar.

Die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap – wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het – is oor al die jare aktief betrokke by die SA Jongwynskou as eienaar van hierdie merkwaardige wynskou en handhaaf tot vandag sy verbintenis as beskermheer. In die proses het Agri-Expo die besonder indrukwekkende versameling goue en silwer trofeë wat jaarliks aan die wenners oorhandig word, aan die SANWSV as organiseerder toevertrou.

Die skou het boonop in 2019 ʼn goeie hupstoot gekry – danksy ʼn nuwe vennootskap tussen die organiseerders en Porex SA,  ʼn prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboukundige toerusting aan die bedryf –  waardeur die twee onderskeidelike wenners van die Generaal Smuts en Pietman Hugo Trofeë vir ʼn sesdaagse reis na Duitsland geborg word.

Verlede jaar se wenners, die keldermeesters van Badsberg, Robertson Wynmakery en Wellington Wyne, kon egter weens reisbeperkings nie dié reis aanpak nie. Hulle sal egter vanjaar in November by die nuutste wenners aansluit, mits die pandemie-situasie internasionale reise toelaat. Die wenners sal ʼn bekende fermentasie-maatskappy en filtrasie-aanleg, sowel as verskeie kelders, besoek en moontlik ook ʼn internasionale skou vir die drankbedryf in Duitsland bywoon.

  • Intussen, in die lig van die Covid-19 realiteite, sal ʼn besluit oor die vorm en datum van die kompetisie se tradisionele toekenningsfunksie op ʼn later stadium deur die SANWSV en Agri-Expo geneem word.