Sewe van SA se bestes uit Stellenbosch
Die wenners van vanjaar se Absa Top 10 Pinotage-kompetisie is vandeesweek by ‘n klein intieme funksie op Stellenbosch aangekondig om nasionaple pinotage dag (Saterdag) te vier.
Hierdie gesogte kompetisie het 24 jaar gelede begin met slegs 45 inskrywings en vanjaar – ondanks die uitdagende begin van 2020 – is meer as 149 inskrywings ontvang. Die vennootskap tussen Absa en die Pinotage Assosiasie het die groei van hierdie unieke Suid-Afrikaanse kultivar moontlik te maak. Die vordering wat die bedryf deur die jare gemaak het getuig van die sukses van die wyn wat sinoniem is met ons land. Suid-Afrika produseer van die beste wyne ter wêreld en kry die nodige publisiteit op die internasionale front, wat help om Suid Afrika as handelsmerk te bou.
Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, sê: “Die Assosiasie se Vision2025 poog om alle belanghebbendes in pas te laat kom met betrekking tot pinotage-navorsing, kennis-oordrag en bemarking. Ons wil pinotage se bydrae tot die ekonomie verdubbel in die tydperk wat in 2025 eindig, wanneer pinotage sy eeufees vier. Dit sal wel moontlik gemaak kan word met die toewyding van ons vennoot en hul volgehoue ondersteuning aan die wynbedryf”.
Truter beklemtoon ook die verbeterde gehalte van pinotage en dat wynmakers hul terroir beter verstaan, dit is die fundamentele bestanddele van die suksesresep. Absa se uitvoerende hoof van die Wes-Kaap, John Tshabalala, het gesê dat sy maatskappy is trots om saam te werk met die Pinotage Assosiasie om die 24ste Top 10 Pinotage-toekennings te oorhandig. Hierdie geleentheid is ‘n hoogtepunt op die kalender en beklemtoon die bank se verbintenis om die wynbedryf en pinotage-pioniers te ondersteun.
“Die plaaslike wynbedryf is nie net sinoniem met uitmuntendheid in Suid-Afrika nie, maar ondersteun duisende werksgeleenthede en lewer ‘n betekenisvolle bydrae tot die ekonomie en gemeenskappe”, het hy gesê.
Die volgehoue verhouding tussen die borg en die Pinotage Assosiasie het die top 10-kompetisie een van die gesogste Suid-Afrikaanse wynpryse gemaak. Die deskundige beoordelingspaneel – Winnie Bowman, Kaapse wynmeester en sameroeper van die paneel, Georgio Meletiou, sommelier van die Tsogo Sun, Frans Smit,keldermeester van Spier, die wynskrywer Fiona McDonald en die wingerdboukundige Solly Monyanane, ‘n protégé-beoordelaar in 2019, is almal toevertrou om die wenners van 2020 te bekroon.
Truter is nie net verheug oor die gehalte van die wyne nie, maar ook dat dit ‘n groot aantal van die Kaapse wynlande verteenwoordig. Die wenners se verteenwoordiging sluit in drie van Stellenbosch, twee van Durbanville, twee van die Paarl, een van die Wes-Kaap, Swartland, en Worcester onderskeidelik in. Vyf van die Top 10-wenners is van die 2018-oesjaar, 2019 (een), 2017 (drie) en 2016 (een).
Die groeiende Icon Vintage / Museum-klas vir wyne van minstens tien jaar of ouer, het weer die goeie verouderingspotensiaal van top pinotage beklemtoon. Met 2 wenners van die wenwyne van die Stellenbosch en een van die Tulbagh area.
2020 ABSA TOP 10 PINOTAGE WENNERS
Aan de Doorns Pinotage 2018
WO Worcester, Wynmakers Gert van Deventer & Chris Geldenhuys
Anura Signature Pinotage 2017
WO Simonsberg-Paarl, Wynmaker Stander Maass
Beyerskloof Diesel Pinotage 2017
WO Stellenbosch, Wynmaker Anri Truter
Conradie Family Vineyards Pinotage 2019
WO Western Cape, Wynmaker CP Conradie
Delheim Vera Cruz Pinotage 2016
WO Simonsberg-Stellenbosch, Wynmaker Roelof Lotriet
Diemersdal The Journal Pinotage 2018
WO Durbanville, Wynmaker Thys Louw
Durbanville Hills Collectors Reserve Pinotage 2017
WO Durbanville, Wynmaker Wilhelm Coetzee
Kaapzicht Pinotage 2018
WO Stellenbosch, Wynmaker Danie Steytler
Pulpit Rock’s Brink Family Vineyards Pinotage 2018
WO Swartland, Wynmaker Dewald Huisamen
Windmeul’s The Legend Collection Pinotage 2018
WO Paarl, Wynmaker Abraham van Heerden
ICON VINTAGE/ MUSEUM KLAS WENNERS
Kanonkop Pinotage 2009
WO Simonsberg-Stellenbosch, Wynmaker Abrie Beeslaar
Neil Ellis Vineyard Selection Pinotage 2010
WO Jonkershoek Valley in Stellenbosch, Wynmaker Warren Ellis
Rijk’s Reserve Pinotage 2010
WO Tulbagh, Wynmaker Pierre Wahl







