Wyn-lekkerte in ‘n blik van Nuy
Min drankies vang die gees van luilekker saamkuier só goed vas soos ’n mimosa. Nou het Nuy Wynkelder sy heel eerste drankie in ’n blikkie aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel – ’n sprankelende, verfrissende mimosa wat perfek by Suid-Afrikaners se ontspanne buitelugleefstyl pas.
Die nuwe Nuy Mimosa Orange Sparkling Spritzer is ’n ligte, vrolike drankie met 5% alkohol – ’n versnit van wit vonkelwyn en lemoensap – sonder enige bygevoegde suiker. Die vonkeldrankie pas perfek by Suid-Afrikaners se ontspanne buitelugleefstyl.
Volgens AC Goodger, bemarkingsbestuurder van Nuy Wynkelder, was die inspirasie eenvoudig: om iets smaaklik, gerieflik en ’n bietjie speels te skep.
“Ons sien dat mimosa al hoe gewilder word – nie net vir brunch nie, maar sommer enige tyd van die dag. Daarom het ons besluit om iets nuuts tot ons reeks by te voeg – ’n mimosa in ’n blikkie wat maklik saamgaan braai toe, ’n piekniekwenner is en ook in die kampsak pas,” sê hy.
Binne-in
Wat hierdie mimosa besonders maak, is die bestanddele. Die drankie word saamgestel met 100% lemoensapkonsentraat, sonder geursel, kleursel of ekstra suiker. Die resultaat is ’n helder, natuurlike sitrussmaak wat herinner aan vars uitgedrukte lemoensap, met fyn borrels van Nuy se eie sauvignon blanc-vonkelwyn uit die vrugbare Breederiviervallei.
Ontwerp
Selfs die blikkie vertel ’n storie. Die illustrasies van lemoene is spesiaal vir Nuy geskep deur die De Doorns-kunstenaar Hildegard Reyneke, wat die ontwerp met potlood en waterverf geteken het.
Bediening
Of jy dit lekker verkoel reg uit die blikkie geniet, of in ’n mooi glas skink met ’n skyfie lemoen of ’n takkie roosmaryn, die nuwe Nuy Mimosa hou dinge eenvoudig, maar steeds feestelik.
Koop dit hier
Die Nuy Mimosa is beskikbaar teen R25 per blikkie of R100 vir ’n vierpak. Jy kan dit aanlyn koop by https://nuywinery.co.za/product/mimosaorangesparkling/ asook by die gewilde Nuy on the Hill-bestemming op die R60-roete tussen Worcester en Robertson.


