Derde oesskatting dui op groter opbrengs

Klimaatstoestande speel saam vir beter wyndruifoes

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente se vertroue herstel namate die 2026-oes vorder, met die derde oesskatting wat ’n groter oes aandui en kwaliteitsaanwysers wat sterk potensiaal in verskeie kultivars toon.

Met ongeveer driekwart van die oes reeds voltooi teen vroeg Maart, verwag die bedryf nou ’n groter 2026-oes. Dis bemoedigend om te sien dat die nasionale wingerdoppervlak grootliks stabiel gebly het, met slegs ’n afname van 19 hektaar jaar-op-jaar tot 85 525 hektaar, wat ’n periode van konsolidasie na onlangse strukturele aanpassings in die sektor weerspieël.

Volgens dr. Etienne Terblanche, bestuurder van Vinpro Konsultasiedienste, het gunstige klimaatstoestande tydens sleutelstadiums van die wingerdgroeisiklus die grondslag gelê vir ’n positiewe oes.

“Matige somertoestande tydens trosvorming in 2025 het ’n sterk grondslag geskep vir vrugontwikkeling in 2026. Saam met gesonde lower na die oes en winterreënval naby langtermyngemiddeldes, het wingerde die nuwe seisoen met voldoende reserwes en goeie grondvogvlakke betree,” sê Terblanche.

Dr Etienne Terblanche

“Warm, droë lentetoestande het gelei tot bot ongeveer tien dae vroeër as gewoonlik, met besonder eweredige bot en minimale rypskade. Hierdie toestande het goeie blom, bevrugting en korrelset ondersteun, wat gelei het tot meer trosse per wingerdstok, veral in vroeë kultivars soos chardonnay, pinotage en chenin blanc. Hoewel kleiner korrelgrootte voorgekom het weens droë toestande, is dit grotendeels uitgebalanseer deur verhoogde vrugbaarheid, wat meer korrels per tros of meer trosse per wingerdstok beteken.”

Na ’n langdurige periode van warm, droë en winderige weër het Februarie-reënval oor verskeie wynboustreke welkome verligting gebring en vroeë bekommernisse oor waterbeskikbaarheid weerlê. Terwyl plaaslike reënbuie sanitêre uitdagings in sommige wingerde geskep het, het die reën ook gehelp om produksieverwagtinge in baie streke te stabiliseer.

Aanvanklike kwaliteitsaanwysers vir die 2026-oes is belowend, veral onder vroeë kultivars, wat gebalanseerde suiker- en suurvlakke toon. Laat rooivariëteite vorder ook goed, met klein korrels en goeie kleurontwikkeling wat op uitstekende wyngehalte-potensiaal dui.

Die oesperiode was ook relatief ingekort deur vroeër rypwording en tydelike weerverwante onderbrekings, wat druk plaas op kelderkapasiteit terwyl druiwe teen optimale rypheid verwerk word.

“Die verbeterde oesvooruitsigte en belowende kwaliteitsaanwysers is bemoedigend vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf,” sê Rico Basson, bestuurshoof van South Africa Wine. “Na ’n gedempte verkoopsperiode in sommige markte oor die afgelope jaar, sal die groter oes noukeurige voorsieningsbestuur dwarsdeur die waardeketting vereis. Terselfdertyd versterk dit ons vermoë om op groeiende geleenthede vir Suid-Afrikaanse wyne wêreldwyd te reageer, terwyl ons voortgaan om die land se reputasie vir kwaliteit, diversiteit en waarde te bou. Die fokus bly op die stimulering van aanvraag, die uitbreiding van marktoegang en die versekering van die langtermyn-volhoubaarheid en mededingendheid van die bedryf.”