Wingerdwerkers omskep sewe sakke sout in hoopvolle besigheid
Aan die voet van die mees suidelike bergreeks in Afrika bewerk en versorg ‘n groep werkers al dekades lank grond en wingerde in die bekroonde Overbergse wynstreek. Nóú is die werkers van Akkedisberg Boerdery PTY (LTD) die trotse eienaars van ‘n eie handelsmerk én storie.
Die opwinding is tasbaar in die fynbos-seelug op die bekende wynplaas Raka, tussen Caledon en Stanford. Dit is hier waar twintig lede van Akkedisberg op Woensdag 10 Mei hul eerste wyn, Southern Treasures Pinotage 2021, bekend gestel het. Akkedisberg-boerdery, ‘n maatskappy met ‘n trust as aandeelhouers en begunstigdes, is in 2013 gestig. Hulle huur 16 ha grond van Raka teen ‘n nominale bedrag met ‘n 30-jaar ooreenkoms.
“Hierdie is ‘n storie oor ‘n gerespekteerde familiebesigheid, die Dreyer-familie, ‘n toegewyde mentor wat saam met hul werkers ‘n reis onderneem het om ‘n droom te skep en te bou.” Só sê Wendy Petersen, uitvoerende bestuurder van die SA Wynindustrie Transformasie-eenheid (SAWITU).
“Die storie agter die nuwe handelsmerk is hoe hierdie gemeenskap in een lewe met wat die natuur vir hulle bied en hoe daar ‘n wedersydse waardering is. Nou is ‘n verborge skat uit die Kleinriviervallei in ‘n bottel vir almal om te geniet en te waardeer.”
Die skatte in die naam Southern Treasures verwys na die mense wat hierdie bemagtigingsprojek moontlik gemaak het. Volgens Petersen beskryf die uitdrukking “’n sak sout saam met iemand opeet” nie goed genoeg wat hierdie projek binne tien jaar reggekry het nie.
“Dis eerder sewe swaar sakke sout wat die werkers van Akkedisberg en die eienaars van Raka in 16ha van hoop omskep het. Hulle inspireer die hele gemeenskap.”
Gehalte wyn
Onder leiding van hul mentor, Josef Dreyer, en hul twee direkteure, Mariette Moos en Christel Moses, het Akkedisberg se trotse groep mans en vroue nou hul eerste vat-verouderde Southern Treasures Pinotage 2021, gemaak van druiwe uit hul eie wingerde, bekendgestel.
Generasies ná aan die wingerd het saamgewerk om uit hul suidliggende wingerde ‘n uitmuntende weergawe van Suid-Afrika se eiesoortige pinotage-kultivar te maak. ‘n Wyn met geure van ryp kersie, braambessie, pruim en ‘n bietjie eikehout wat uitstekende verouderingspotensiaal beloof. Wyndrinkers wat vir die omgewing omgee sal bly wees om te hoor dat die impak van verpakking tot wingerd sorg weerspieël. Boonop ondersteun die verkope van hierdie wyn ‘n beter lewe vir die families van Akkedisberg.
Die 37-jarige Josef Dreyer het op Raka grootgeword, aan Elsenburg studeer en in 2007 die wynmakery by sy pa oorgeneem. Dié bekroonde wynmaker het van kleins af beleef hoe sy pa by die tye aangepas het, sitrus op die plaas met wingerd vervang het, ‘n kelder gebou het, én ‘n bemagtigingsprojek in die visbedryf staangemaak het.
“Ek kén die mense,” sê Dreyer oor sy Akkedisberg-kollegas. “Ons werk saam en het ‘n goeie verhouding. Daarom was dit belangrik om ook vir hulle ‘n geleentheid in die landbou te skep en te vestig.”
Die Dreyers het Akkedisberg bygestaan om in 2014 by Vinpro aansoek te doen vir ‘n wingerdaanplantingsprojek asook om kapitaal in ‘n vissersbesigheid te belê. Die eerste wingerde is in 2015 geplant – sangiovese, pinotage en malbec. Eers is die druiwe aan Raka verkoop, maar teen 2019 was die lede gretig om hul eie etiket te skep.
Volgens Dreyer is die hoofdoel van die projek om werkers te bemagtig deur vaardighede aan hulle oor te dra.
“Nelson Mandela het gesê dat opleiding die belangrikste gereedskap is om die wêreld mee te verander. Raka het geen aandeel in hierdie projek nie, ons is twee aparte entiteite. Ek sou dit nie kon bekostig om so ‘n projek op my eie te doen nie. Kapitaal is belangrik en dis waar die Wes-Kaapse en nasionale regering inkom wat die meerderheid van die geld gegee het, asook die finansiële bydrae, mentorskap en leiding wat SAWITU verskaf. My bydrae is my tyd en my liefde vir ons gemeenskap. Ek kan nie net handjies gevou sit en dink iets gaan gebeur nie. Maar die belangrikste is iemand wat die projek self wil dryf en eienaarskap daarvan wil neem. Mense soos Mariëtte Moos en Christel Moses.”
Stokkiesdraai
Mariëtte Moos (48), ‘n direkteur van Akkedisberg, het in die Boland en so te sê in die wingerd grootgeword. Haar man, Andrew Moos, is Josef se linker- én regterhand in die kelder. Die gesin woon en werk reeds twee dekades op Raka.
“Ek is baie lief vir die wingerd,” sê Moos, wat nie hoër skool voltooi het nie, maar reeds op 16-jarige ouderdom op Wellington voltyds in die wingerd begin werk het. Op haar pad na ‘n eie wingerd het sy op fynbosuitvoerplase in die Overberg gewerk, nartjies “teen die pad” verkoop terwyl haar vier kinders klein was, en vandag werk sy steeds in Raka se wingerde.
Moos sê sy het nooit kon droom dat sy haar eie wingerd sou verbou of ‘n eie wyn sou bekendstel nie.
“Piet Dreyer en sy seun Josef het ons oor baie jare aangemoedig om deel te raak van ‘n bemagtigingsprojek en het nooit opgegee nie,” sê Moos. “Die projek en ook die mense wat ek oor die afgelope agt jaar ontmoet het, is vir my baie inspirerend. Nou weet ek dat ek iets kán doen, nie net vir myself nie, maar ook vir mense rondom my. Dit is werklik ‘n goeie ding wat die Dreyers gedoen het.”
Moos is trots op haar kinders wat op die plaas werk, haar twee dogters wat Matriek voltooi het, waarvan een besig is om ‘n toerismekursus aan Boland Kollege te voltooi. “Hierdie projek is vir al ons werkers. Eendag as ek kan, sal ek graag werk skep ook, veral vir jongmense wat nie skool voltooi het nie.”
Groei
Christel Moses (43) werk nie net in Raka se proelokaal, waar sy help met administrasie, aflewerings en wynproeë nie, sy is ook sedert 2022 ‘n direkteur van Akkedisberg.
Sy het op die plaas Rietpoel naby Riviersonderend grootgeword en was op Caledon in die hoërskool. Al het sy nie matriek voltooi nie, is sy rekenaarvaardig en het sy al ‘n plaaswerkertoekenning ontvang. Voor sy in 2015 by Raka aangesluit het, het sy by Springfontein-wynlandgoed gewerk waar sy wynproe- en kelderopleiding ontvang het, en Vinpro se SKOP-kursus voltooi het. Sy woon op Stanford saam met haar ma en haar 17-jarige dogter.
“Ek leer elke dag iets,” sê Moses. “Dit is wonderlik hoe Raka se eienaars alles in hulle vermoëns doen om ons te ondersteun – Piet Dreyer, wat gevoel het hy wil die paadjie stap saam met sy werkers, en Josef wat as wynmaker en mentor hand-aan-hand saam met ons werk en finansiële raad gee.”
Moses sonder ook die rol van SAWITU uit. “As dit nie vir Wendy Petersen, SAWITU en die regering was nie, sou ons nie by hierdie punt gekom het nie. Ons as werkers voel trots daarop dat ons gekies is vir hierdie projek. Die fondse word aangewend vir ons wingerde, wat alles van die aankoop van stokke en pale, aanplanting, bespuiting, water en elektrisiteit, trekkers, brandstof en meer insluit, asook vir ons wyn, van die bottels tot die etikette en bemarkingsmateriaal.”
Volgens Moses is al 20 werkers op die plaas betrokke en is dit belangrik dat almal se insette geag word.
“Wees geduldig,” is haar eerste raad aan mense wat droom van soortgelyke projekte. “Doen wat die werkgewer jou vra. Luister. Moenie hardkoppig wees nie. Wees bereid om gehelp te word, dan sál jy ‘n geleentheid kry. As as jy alles gee, sal hulle van hulle kant af probeer help. As jy jou hart daarin sit, en as jy in jouself glo, glo ek sal jy bo uitkom.”
Skat
Moses is opgewonde noudat hulle produk op die rakke kom waar almal dit kan sien. “Dit is ietsie anders, ‘n pinotage maar nie noodwendig met die geurprofiel waaraan mense gewoond is nie,” verduidelik sy. “Selfs mense wat nie van pinotage hou nie, maar dit proe omdat ek hulle aanmoedig, sê agterna ek was reg.”
Daar is slegs ‘n beperkte oplaag van sowat 5000 bottels van die Southern Treasures Pinotage 2021 beskikbaar. Dit kan teen R300 by Raka Wines tussen Caledon en Stanford gekoop word.
“Suidoos van Hermanus, net so ‘n ou entjie van Stellenbosch af,” soos Piet Dreyer tong in die kies sê.
“Kom ervaar die mees noordelike punt van die mees suidelike bergreeks in Afrika,” nooi Josef Dreyer. “Die Kleinrivier is in die volksmond bekend as die langste rivier in die wêreld waarvan die oorsprong en die mond die naaste aan mekaar is – 90 km se gekronkel, maar slegs 3.3km soos die kraai vlieg.”