Eerste raadsvergadering van SA Wine suksesvol aangebied
Die eerste bestuurshoof van die nuwe sambreelliggaam vir die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf, SA Wine, is op die organisasie se eerste vergadering aangewys.
Dit lui ’n nuwe era vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf in waar die wysiging in bedryfsondersteuning-strukture broodnodige verbeterde samewerking en dus bykomende impak sal meebring, sowel as ’n verbeterde belynde en gefokusde benadering wat die bedryf meer veerkragtig, winsgewend, en volhoubaar sal maak.
Volgens die inlywingsooreenkoms het die Vinpro- en SALBA-direksies, as stigterslede van SA Wine, vyf produsentedirekteure en vyf handelsmerkeienaar-direkteure aangestel om in die direksie te dien. Hulle is Antoinette Vermooten, Anton Smuts, Boyce Lloyd (wat brandewyn verteenwoordig), Sakkie du Toit, James Reid, Mohseen Moosa, Phillip Retief, Rydal Jeftha, Vivian Kleynhans en Wessel de Wet. Ronald Ramabulana is as ’n onafhanklike raadslid aangestel en is as voorsitter van die direksie verkies.
Khumbuzile Mosoma van die National Agricultural Marketing Council (NAMC), sal ’n waarnemer wees.
“SA Wine gee ons die geleentheid om ’n inklusiewe wynbedryf te laat groei,” sê SA Wine direksievoorsitter, Ronald Ramabulana. “Ek is baie opgewonde om die winsgewendheid van maatskappye in die wynwaardeketting te verhoog. Ek sien ook uit om saam met die direksie en ons nuwe bestuurshoof, asook alle ander rolspelers in die wynbedryf te werk.”
Die direksie het Rico Basson, tans Vinpro-bestuurshoof, as die bestuurshoof van SA Wine aangestel. Hy neem sy nuwe rol 1 Junie 2023 op.
“Ek is baie opgewonde oor die totstandkoming van SA Wine en die reis wat voorlê. Ek sien daarna uit om die wyn- en brandewynbedryf na die volgende vlak te neem met die hulp van die res van die span van SA Wine,” sê Basson.
Die werwingsproses vir ander nuwe uitvoerende rolle is reeds aan die gang. Hierdie nuwe rolle, tesame met die personeeloorplasing na SA Wine, sal in Julie geskied.

Ronald Ramabula