Beste jongwyne nou uitgesoek

SA Jongwynkampioene nou in 2022-kollig

Die soeke na die beste jongwyne van die 2022-oesjaar is vandeesweek in volle swang met meer as 1 200 inskrywings wat meeding vir trofeë, sowel as goue, silwer- en bronsmedaljes, by die SA Jongwynskou in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl.

Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld en dateer terug tot 1833 en is nou in sy 190ste jaar.

Die Kaap die Goeie Hoop-landbougenootskap – wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het – is oor al die jare aktief betrokke by die SA Jongwynskou as eienaar en handhaaf sy verbintenis ook as beskermheer tot vandag toe. As sodanig het Agri-Expo die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) as organiseerder toevertrou met die besonder indrukwekkende versameling van goue en silwer trofeë, wat jaarliks aan die wenner-wynmakers toegeken word.

Johan Ehlers, hoofuitvoerende beampte  van Agri-Expo, sê: “Ons is trots om steeds in die 190ste jaar van die SA Jongwynskou as beskermheer deel te wees van hierdie uitsonderlike skou. Ons sien uit daarna om saam met ons vennote in die bedryf erkenning aan wyne van uitblinkergehalte te gee.”

Die ingeskrewe wyne sal om 17 gesogte  trofeë in die verskillende klasse meeding, met slegs een van die inskrywings wat as die algehele kampioenwyn van die jaar bekroon sal word en die gesogte Generaal Smuts-trofee sal ontvang. Dit word al sedert 1952 uitgeloof. Terselfdertyd sal die Pietman Hugo-trofee aan die kelder met die hoogste totale punte vir inskrywings in vyf kategorieë, oorhandig word. Altesaam 14 panele met meer as 50 beoordelaars sal op die uitkyk wees vir die beste jongwyne van 2022.

Die klasse wat vanjaar die meeste inskrywings gelok het was ander rooi kultivars, chenin blanc, sauvignon blanc, shiraz, rooi versnitte, chardonnay, pinotage en  cabernet sauvignon.

Die 17 mededingende kategorieë vir SA kampioen-glorie onder die witwyne is chenin blanc, sauvignon blanc, chardonnay, sémillon, ander wit kultivars, droë witversnitte, effe-droë witwyne en edellaatoes.

Onder die rooiwyne, word trofeë toegeken vir die beste pinotage, shiraz, cabernet sauvignon, merlot, ander rooi kultivars en droë rooiversnitte. Die gefortifiseerde klas se trofeë behels uitnemende Kaapse Port-style, dessertwyn en muskadel.

Die omvattende beoordelingsproses gaan vanjaar gepaard met goeie nuus vir wynliefhebbers, naamlik dat Suid-Afrika se puik 2022-oes  uitnemende wyne vir die verbruiker sal oplewer wanneer hulle gebotteleer is. Wynmakers is dit eens dat wyne van besonderse gehalte vanjaar gemaak is, met beide wit- en rooiwyne wat wonderlike geure opgelewer het ondanks aansienlik wisselende klimaatstoestande gedurende die groei- en oesperiodes.

“Ons is beïndruk met die gehalte van vanjaar se wyne en hierdie positiewe stemming in die bedryf word ook weerspieël in die toename van wyne wat uit al die gebiede ingeskryf is,” aldus die SANWSV-voorsitter, Christo Pienaar.

Die toekenningsfunksie word op Vrydag 26 Augustus deur Agri-Expo by Nederburg aangebied, voorafgegaan deur ‘n proe van alle goue medalje- en trofeëwenners.

Christo Pienaar, Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, en Bennie Howard.