Shiraz-uitdaging: Saronsberg verower nuwe Podlashuk-trofee

Shiraz SA vier 10 jaar se kompetisie met nuwe trofee

Die uitblinkers van die 10de jaarlikse Shiraz SA Challenge is op Woensdag 17 Augustus 2022 in die Paarl deur Shiraz SA bekend gemaak. Om die eerste dekade van dié kompetisie te vier, is ‘n splinternuwe trofee en ‘n groot kontantprys aangekondig.

Vanjaar is die trofee, die Bernard Podlashuk-ptrofee, toegeken aan die produsent wat die beste presteer het oor die 10 jaar van die Shiraz SA Challenge, met Saronsberg wat die prys voor die neus van ‘n paar sterk kandidate weggeraap het. Volgens Edmund Terblanche, Voorsitter van Shiraz SA, sal die kriteria vir die Bernard Podlashuk Trofee in die toekoms “innovasie, uitnemendheid, volhoubaarheid” wees.

Die nuwe trofee is vernoem na Podlashuk, die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”. Die trofee het ‘n kontantprys van R30 000 en word geborg deur Bellingham. Bernard en sy vrou, Fredagh Podlashuk, het dié Franschhoek-plaas in 1943 gekoop en was die baanbrekers wat Suid-Afrika se eerste enkelkultivar-Shiraz in 1956 gebotteleer het.

Finaliste en bekendes in die wynbedryf het by Santé Wellness Retreat and Spa byeengekom vir vanjaar se glanstoekenningsgeleentheid. Die alombekende radio- en televisiepersoonlikheid Tracey Lange was die seremoniemeester en die befaamde musikant Schalk Joubert het die gaste vermaak. Vinventions, die internasionale verskaffer van sluitmiddels vir wynbottels wat reeds vir ‘n geruime aantal jare by Shiraz SA betrokke is, was weer die hoofborg.

Presstasievermoë

“Ons is ingenome met die voortdurende prestasievermoë van shiraz-produsente sedert die ontstaan van die kompetisie in 2013, asook van die shiraz-versnit- en Shiraz Rosé-kategorieë wat onderskeidelik in 2014 en 2020 toegevoeg is,” sê Terblanche. “Ons sien uit na die potensiaal wat die volgende dekade vir die kultivar inhou.”

Wenners

Sestien wenners is in die kompetisie se drie kategorieë aangewys.

Die top-12-Shiraz van 2022 is:

* Bon Courage Inkará Shiraz 2020              * Fuselage Side Slip Shiraz 2021

* Cederberg Shiraz 2020                               * Diemersdal Shiraz 2021

* De Grendel Op die Berg Shiraz 2020        * Stellenbosch Reserve Syrah 2020

* Saronsberg Shiraz 2020                              * Groot Phesantekraal Syrah 2021

* KWV Cathedral Cellar Shiraz 2019           * Driehoek Syrah 2020

* Swartland Bush Vine Syrah 2020              * Bellingham The Bernard Series Basket Press Syrah 2019

Die 2022 Shiraz-versnitwenners is:

* Lomond Belladonna 2019

* Bellingham The Bernard Series The Maverick 2019

* Guardian Peak SMG 2020

Die 2022 Shiraz Rosé-wenner is:

* Allée Bleue Shiraz Rosé 2022

 Gehalte

Die bekende wynmaker en keldermeester van De Grendel, Charles Hopkins, was die voorsitter van die beoordelaarspaneel. Die span gesoute proeërs op die paneel was Higgo Jacobs (Sommelier), Cathy van Zyl (Britse Wynmeester), Riaan Möller (MAN Vintners-keldermeester en ondervoorsitter van Shiraz SA) en Frans Smit (Spier-keldermeester).

Hopkins sê hy was oor die algemeen beïndruk met die gehalte van vanjaar se inskrywings. “Ek vind eikehout word slim gebruik. Daar is duidelike nuwe neigings soos laer alkohol. Meer vruggedrewe unieke Shiraz-geure soos kombuisspeserye, Mediterreense speserye, en swart- en witpeper gee ‘n nuwe diepte aan shiraz.”

Hopkins sonder Shiraz van enkelwingerd-afkoms uit. “Hierdie wyne weerspieël ‘n unieke milieu wat eg is aan die plek van oorsprong en vanjaar het ons daardie element weer ervaar.”

Die proestelsel, wat in samewerking met Stellenbosch Universiteit ontwikkel is, bepaal dat elke beoordelaar die wyne in ‘n unieke volgorde proe en geen gesprekke daaroor voer nie. Die sagteware-en-ondersteuningsverskaffer Wine MS, wat reeds sedert die ontstaan van die kompetisie betrokke is, het die beoordelaars weer bygestaan. Die ouditeursmaatskappy Exceed Group het die proses gemonitor en die uitslae gekontroleer.

Crystal Direct het vanjaar met ‘n borgskap van groter glase, ideaal vir die proe van shiraz, aan boord gekom. Lebone Paarl Labels is weer die borg van die bottelseëls vir wenwyne. Soos gebruiklik, is ‘n hoeveelheid van die wyne wat nie tydens die beoordeling gebruik is nie, aan die Pebbles-projek geskenk.

Nasionale shirazdag

Ná die sukses van verlede jaar se eerste nasionale Shiraz-dag, nooi Shiraz SA vanjaar weer alle shiraz-entoesiaste om dié dag op Sondag 21 Augustus landwyd te vier.

“Augustus is die perfekte tyd van die jaar vir Shiraz,” sê Terblanche. “Ons vier dit ‘n hele week lank met ons jaarlikse Seven Days of Shiraz & Venison in samewerking met deelnemende lede van Shiraz SA – bespreek jou plek om seker te maak dat jy nie hierdie ervaring misloop nie.”

Shiraz SA wenners vir 2022 iss:
Voor van links:
Edmund Terblanche (Shiraz SA voorsitter), Philip Viljoen (Bon Courage, Marius Prins (Swartland-wyne), James Ochse (KWV), Tracey Lange (seremoniemeester) en Anzél Stofberg Rabie.
Agter: Hannes Meyer (Lomond-wyne), Danie Morkel (Fuselage), Richard Duckitt (Bellingham wyne), Tienie Louw (Diemersdal), Richard Schroeder (Groot Phesantekraal), Tiaan Kits (Driehoek-wyne), Van Zyl Du Toit (Allée Bleue), Morgan Steyn (De Grendel-wyne), Jean Nel (Cederberg-wyne), Dewaldt Heyns (Saronsberg-kelder), Johan Conradie (Vinventions), Danielle le Roux (Stellenbosch Reserve) en Duran Cornhill (Guardian Peak)

 

 

 

Die nuwe Bernard Podlashuk-trofee, vernoem na die vader van Shiraz in Suid-Afrika, is aangekondig en oorhandig deur Andrew Harris (links), Bemarkingsdirekteur van Wyn, DGB.

Leave a Reply