Bonnievale plaas kollig op cinsaut met toekennings

Bonnievale skitter by Rosé-uitdaging

 Uitnemend! Dít beskryf Bonnievale Wines se prestasie by die eerste Rosé wyn-en-spiritualieë-toekennings, beide die The Vale Cinsault Rosé Brut en The River Collection Cinsault Rosé 2022 wen goue medaljes.

“Ons verwelkom die jongste pluimpie vir ons ‘Cinsault susters’, sê Bonnievale Wines se hoofwynmaker Marthinus Rademeyer. “Cinsault is uitsonderlik veelsydig. Verkoel is dit suiwer genot in ‘n glas veral wanneer dit warm en sonnig is.”

Die eerste Rosé-uitdaging het vir sowat 130 wyn- en spiritualieë-inskrywings gesorg. Die kompetisie is georganiseer deur The Awards Show, wat ook die Lumo-toekennings (voorheen die SA Vroue Wyn-en- Spiritus-toekennings) en die Vitis Vinifera-toekennings aanbied. Die beoordelaarspaneel van die Rosé-uitdaging het die Kaapse Wynmeesters dr Caroline Snyman en dr Winifred Bowman ingesluit.

Marthinus sê die medaljes vul nie net Bonnievale se immergroeiende versameling van toekennings aan nie, “dit beantwoord ook wynliefhebbers se groot vraag: watter wyn moet ek volgende probeer?”

River Collection Cinsault Rosé 2022 is pure plesier. Dit is ‘n droë rosé gemaak in die styl tipies van Suid-Frankryk. Die wyn is lig, geurig en verfrissend en sal jou ‘n tweede glas vinniger laat skink as wat jy “magnifique” kan sê!

Die Vale Cinsault Brut Rosé is ‘n vars, effe-droog vonkelwyn vir alle geleenthede. Die delikate stringe pêrelagtige borrels is aanloklik, so ook die heerlike geure van aarbeie en kersies. Wilde bessies verlei jou palet verder.

Bonnievale se wyne is landwyd beskikbaar en kan in hul aanlynwinkel bestel word.The Vale Cinsault Brut Rosé verkoop teen R91/bottel en The River Collection Cinsault Rosé 2022 teen R66/bottel.

Die wynbestemming self lê aan die buitewyke van Bonnievale, die dorp waaraan dit sy naam ontleen, 125km oos van Kaapstad.