BONNIEVALE PRYSE LIG CABERNET SAUVIGNON UITMUNTENDHEID UIT

Top cabernet sauvignon in kollig

Die onlangse klomp gehalte toekennings vir die Bonnievale Wyngroep lig nie net die kelder se top wingerdbou- en wynmaak-praktyke uit nie, maar laat val ook die kollig op die streek se top-gehalte cabernet sauvignon.

Cabernet sauvignon is die wêreld se nommer een rooi druifkultivar en is ook die mees aangeplante rooi druifsoort in Suid-Afrika, wat dit ‘n hoogs mededingende klas maak. Wynplase en -kelders wat hiermee uitblink, word as leiers in hul klas gereken.

Daar is dus baie goeie rede vir Bonnievale-wyngroep se opgewondenheid oor hul cabernet sauvignon prestasies. Stellenbosch is ’n prominente, bekroonde streek vir cabernet sauvignon, maar nie meer die eksklusiewe houer van dié titel nie.

Dit het alles by die Robertson streek-afdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou begin, toe Bonnievale-wyne se ongehoute cabernet sauvignon vir die tweede agtereenvolgende jaar as beste in sy klas gekroon is. Daarna wen dié wyn die Castle Wine and Brandy Company-trofee as algehele, ongehoute kategorie-wenner by die nasionale kompetisie.

Hierdie toekenning volg kort op die hakke van die onlangse Old Mutual Trophy Wine Show, waar die Bonnievale Barrel Select 2015 Cabernet Sauvignon die goue medalje én die trofee vir vonds van die skou / beste waarde ingepalm het.

“Bonnievale Cabernet Sauvignon het nou, op ’n baie belangrike tyd, tot sy reg gekom,” sê Carina Gous, Bonnievale-wyne se uitvoerende direkteur: bemarking en verkope.

“Soos produsente onder al meer druk gebuk gaan, word wingerde toenemend vir meer winsgewende gewasse verruil. Uitstaande kwaliteit gaan egter nooit uit die mode nie en sal altyd volhoubaar wees. Daar is nog heelwat kwaliteit ontwikkelinge by die Bonnievale-wyngroep, wat binnekort bekend sal wees.”

Die huidige portefeulje se top-presteerders sluit onder meer ’n cabernet sauvignon/merlot-versnit in die River Collection-reeks in. ’n 100% Cabernet sauvignon is ook onlangs, ná verbruikersdruk en die wynkelder se sukses met die kultivar, by die reeks gevoeg.

Marthinus Rademeyer, Bonnievale-wyne se bestuurder: wynmaak en produksie, sê die grootste bydrae tot produksie van top-kwaliteit wyn, lê by die wingerdbou-praktyke ten einde gesonde druiwe te verseker.

“Bonnievale Cabernet Sauvignon word gekenmerk deur sy goeie rooibessie, vruggedrewe karakter, met ’n goeie, ryp tannien-struktuur,” sê Rademeyer.

“Selfs in die jong wyn is dit elegant sonder droë tanniene – die resultaat van perfekte wingerd-bestuur en die feit dat die druiwe teen die optimale fenoliese rypheid geoes word.”

Higiëne is die primêre fokus in die kelder, veral vir ’n kultivar wat laat in die seisoen geoes word, asook die versigtige hantering van vrugte. Wanneer die wyn klaar gemaak is, word die cabernet sauvignons deur ’n paneel wynmakers geproe.

Onder die paneellede wat Bonnievale Cabernet Sauvignon proe, is Callie van Niekerk, die voormalige Distell Groep se algemene bestuurder: wyne, wat nou ’n konsultant vir Bonnievale-wyngroep is. “Die cabernet is vir my in ’n meer moderne styl – ’n wyn wat vrug- en bessiegedrewe aromas, goeie kleur en sagte tanniene op die tong, vertoon,” sê hy.

Anneke du Plessis, KWV se wyn-aankoper en wingerdboukundige, prys Bonnievale-wyne vir al sy toekennings. “Hierdie prestasies is beslis die gevolg van toewyding en fokus op wynkwaliteit en die moontlikhede binne die Bonnievale-wynstreek,” sê sy.

“Die KWV- wynspan is trots op die toekenning en baie gelukkig om deel te wees van die wynkelder se grootmaat-wyn besigheid, plus die rigting waarin die Bonnievale-wyngroep met sy wyne beweeg.”

Die Bonnievale-wyngroep se totale hoeveelheid cabernet sauvignon beslaan 58 wingerdblokke, wat in grootte wissel van 0.64ha tot 7.17ha. ’n Totaal van 30% is agt jaar en jonger, met nuwe aanplantings onderweg. Die variëteit is die Bonnievale-kelder se grootste rooi kultivar-aanplanting en die vyfde grootste in die portefeulje.

“Die streek se voordeel in top-gehalte cabernet sauvignon-produksie, is dat die dagtemperature gedurende die oestyd en laaste rypwordingsperiode, genoeg is vir optimale fisiologiese rypwording, maar die geleidelike koeler nagte ’n beduidende verkoelende uitwerking op die wingerde en vrugte het,” sê Sakkie Bosman, Bonnievale-wWyngroep se wingerdboukundige.

Sakkie voeg by: “Bonnievale se sukses berus op die hoeksteen van ’n goeie- en noue verhouding tussen die produsente en die wynmaakspan. As jy in ag neem, dat die wyne in die wingerd gemaak word, moet baie krediet aan die produsente gaan, wat die styl en kwaliteit wat ons benodig, lewer.”

Die Bonnievale-wynkelder is in November 2006 gestig na die drieledige samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale-wynkelders, wat meer as ’n dekade se groei vir lede-kelders ingelui het.

In Desember 2018 het ’n samesmelting met Wandsbeck-wyne nog meer kultivar-, styl- en terroir-diversiteit tot die portefeulje toegevoeg, met die skepping van die Bonnievale-wyngroep.

Die wynkelder se wyne is landwyd beskikbaar en kan ook deur sy aanlyn-winkel bestel word.

Chris van Reenen, Marthinus Rademeyer, Jean Slabber