Haute Cabrière lig sluier op The Haute Collection 2021
Om ‘n wynproe van ‘n nuwe reeks wyne onder die wakende oog van Takuan von Arnim, keldermeester van Haute Cabrière mee te maak, is soos om ‘n sprokieswêreld van humor, gemeng met ‘n diepgaande liefde en kennis van wyn, te betree. Jy moet so konsentreer en fokus op die woordewaterval dat jy gou na ‘n wynwêreld sonder weerga meegesleur word.
Geleë aan die voet van die Franschhoekpas en met ‘n wasige uitsig oor die vallei met die reën wat neersif, het Takuan die gaste vermaak met ’n mengsel van pittige sêgoed, diepgaande kennis van die nuwe wynreeks gedeel en ‘n ervaring geskep wat ‘n mens nie aldag kry nie.
Haute Cabriere het onlangs hul nuwe Haute Cabrière Collection 29021 bekend gestel, en nadat jy bykans ‘n uur en ‘n half in die proelokaal saam met Takuan en Tim Hoek, die wynmaker, spandeer het, en natuurlik die wyne vergelykend geproe het, weet jy hierdie wyne is in ‘n klas van hul eie.
Takuan volg gemaklik in die voetspore van se wynmaaklegende pa, Arnim von Achim, en kry dit reg om die nalatenskap met gemak onder die vergrootglas te sit. En nog te meer omdat hy die baasbrein agter hierdie nuwe Haute Collection 2021 is.
Haute Cabrière se elegante en beperkte erfenisreeks, in sy tweede generasie, The Haute Collection, bly ontvou in die 2021-oesjaarwyne wat pas die lig gesien het, en dit sal beslis groot plesier verskaf, nes hul voorgangers.
The Haute Collection, wat die vaardigheid, kreatiwiteit en pionerende gees van Haute Cabrière se stigters ten toon stel, stel nie teleur nie. Elke oesjaarwyn word in ’n beperkte hoeveelheid bekend gestel met so min as 480 bottels beskikbaar. Die reeks is doelbewus nie so bekend as van die ander wyne van die landgoed nie en kry groot aftrek by toegewyde chardonnay- en pinot noir-aanhangers wat dit uitsoek.
Nadat die wyne van die 2020-oesjaar uitverkoop is, is daar baie uitgesien na die 2021-oesjaar s’n deur diegene wat chardonnay en pinot noir ken en waardeer. Die wyne is gemaak van druiwe uit spesiaal uitgesoekte wingerdblokke en vier die klassieke Boergondiese kultivars waarvoor Haute Cabrière so bekend geword het. Dit fokus op die fenomenale terroir van Franschhoek, die karakter van die gesertifiseerde ou chardonnay-wingerde wat in 1983 aangeplant is en die unieke gehalte van verouderde premie-wyne in tradisionele klei-amforas.
Minimale inmenging word vir The Haute Collection-wyne gevolg wat die natuurlike aard van die wyn laat uitstaan. Die amforas wat gebruik word, is in Italië gemaak. In teenstelling met eikehout bied hulle geen geure van hul eie tydens die gistings- en verouderingsproses nie. Dit verseker ’n suiwer uitdrukking in die wyne van die natuurlike geure van die vrugte en die mikro-klimate binne die gekose wingerdblokke.
In teenstelling met die meeste vlagskip-wynreekse staan The Haute Collection uit bo sy tydgenote as ’n elegante interpretasie van premie-wyne met subtiele houtveroudering. Ongewoon en onverwags in styl, is elke wyn goed afgerond, fluweelsag en broeiend in die mond. ’n Vertoonkas vir terroir, oesjaar, vaardigheid en skoonheid.
Haute Cabrière se elegante en beperkte erfenisreeks, is in sy tweede generasie.
Haute Collection Chardonnay 2021
R 300.00 per bottel | R 2,160.00 per kis van 6
Die druiwe kom uit ’n blok wat in 1983 aangeplant en gesertifiseer is as ou wingerdstokke. Klei-amforas is gebruik bo en behalwe eerstevul- en tweedevul- Franse eikehoutvate vir ’n gebalanseerde diepte en elegansie. Geniet die komplekse, subtiele eikehoutkarakter van die wyn met sy geure van sitrus, gevolg deur subtiele sweempies heuning en botterkaramel.
OESJAAR 2021 | 1 792 BOTTELS BEKEND GESTEL
Haute Collection Amphora Chardonnay 2021
R 500.00 per bottel | R 3,000.00 per kissie van 6
Die Amphora Chardonnay se druiwe kom uit ’n enkele blok wat in 1983 aangeplant en gesertifiseer is as ou wingerdstokke. Die wyn is gegis en vir 12 maande verouder in klei-amforas van 450 liter. Dit het gelei tot ’n wyn wat tropiese vrugtegeure ten toon stel met genuanseerde lemmetjie en sitrus wat ondersteun word deur ’n puik mondgevoel en ferm suur.
OESJAAR 2021 | 856 BOTTELS BEKEND GESTEL
Haute Collection Amphora Semillon 2021
R 450.00 per bottel | R 2,700.00 per kissie van 6
Komende uit ’n enkele blok van Franschhoek se oudste semillon-wingerde wat in die 1990s aangeplant is, is die Amphora Semillon gegis en verouder in klei-amforas van 450 liter. Ontdek ’n getekstureerde middelmondgevoel met goed gebalanseerde suur wat hierdie wyn in staat sal stel om te ontwikkel met ouderdom.
OESJAAR 2021 | 721 BOTTELS BEKEND GESTEL
Haute Collection Pinot Noir 2021
R 440.00 per bottel | R 2,640.00 per kissie van 6
Hierdie druiwe kom uit ’n klein, driehoekige wingerdblok van slegs 0,8 hektaar met hoë digtheid wat gelei het tot klein korrels met intense geure vir ’n wyn met ongelooflike terroirkarakter. Die wyn is vir 12 maande verouder in Franse eikehouvate. Verken sy ryk diepte met pruim- en rooikersiegeure, gevolg deur subtiele aardse aromas.
OESJAAR 2021 | 2 845 BOTTELS BEKEND GESTEL
Met pryse wat wissel van R300 tot R500 per bottel is The Haute Collection 2021-wyne slegs by Haute Cabrière se proelokaal en uitgesoekte restaurante beskikbaar. Wyn-entoesiaste wat graag hierdie wyn wil proe, kan dit in die gerief van Haute Cabrière se Vinoteque doen. Haute Cabrière, in familiebesit, se wortels strek diep in Franschhoek se wynvallei, erfenis en gemeenskap. Met ’n passie vir die skep van oomblikke vir mense om byeen te kom en gehaltewyn te geniet, word klassieke en Boergondiese kultivars verken in pionerende versnitte en enkelkultivarwyne. Twee geslagte keldermeesters verwesenlik wat hulle glo die droom en lewenstaak was in die 17de eeu van die Franse Hugenoot, Pierre Jourdan.