HIER IS DIE WENNERS VAN VANJAAR SE STANDARD BANK CHENIN BLANC TOP TEN CHALLENGE
Vanjaar se wenners van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Challenge lewer meer as voldoende bewyse van die indrukwekkende vordering met hierdie variëteit, sê Ina Smith, bestuurder van die Chenin Blanc-vereniging.
“Internasionale smaakbepalers se toenemende fokus op chenin blanc het ongetwyfeld gehaltestandaarde help verhoog,” sê Ken Forrester, die vereniging se voorsitter. “Die onlangse chenin blanc-kongres in Angers in Frankryk het op ondubbelsinnige wyse by afgevaardigdes tuisgebring die mate waarin Suid-Afrikaanse produsente met hierdie variëteit gevorder het sowel wat gehalte as stylverskeidenheid betref. Ons glo die 150 wyne, ingeskryf deur 87 produsente vir vanjaar se kompetisie, lewer oorvloedige bewys hiervan.”
Forrester sê wat opgeval het by die kongres in Angers, die tuiste van chenin blanc in Frankryk, was dat die welslae wat baie Suid-Afrikaanse wynmakers die laaste klompie jare met hierdie variëteit behaal het, die Franse nou groter aandag aan hierdie druifsoort laat gee. Hy het verwys na ʼn onlangse uitspraak van die Britse wynskrywer Tim Atkin MW, wat in die tydskrif Harpers geskryf het dat “hoewel die Franse onwillig mag wees om dit te erken, ek meen dat Suid-Afrika se prestasies met chenin blanc, wynmakers in Anjou en Touraine beïnvloed het op dieselfde wyse waarop Argentynse malbec Cahors beïnvloed en bande tussen die twee versterk het”.
“Wat egter belangrik is, is die voordele wat toenemende kritiese en akademiese aandag vir chenin blanc inhou, waar dit ook geproduseer word.”
Hy het verwys na onlangse navorsing wat bewys dat chenin, wat vermoedelik sy oorsprong sowat 500 jaar gelede gehad het, die nakomeling is van twee Franse wit druifsoorte, Savagnin en Sauvignonasse. Waar dit vroeër byna uitsluitlik in Suid-Afrika en Frankryk aangeplant is, word dit nou in 23 lande verbou en is dit vandag die 26ste mees aangeplante variëteit, met wingerde wat in totaal tussen 33 000 en 36 000 ha beslaan. Suid-Afrika is die land met die grootste aanplantings van chenin – dié beslaan saam sowat 17 000 ha.
Cathy van Zyl MW, voorsitter van die paneel van beoordelaars, het gesê die meerderheid van die top tien-wyne is gemaak van druiwe afkomstig uit wingerde wat 30 jaar en ouer is, die oudste synde een wat 55 jaar gelede geplant is.
“Onder hulle is daar egter ook wyne gemaak van druiwe van stokke wat tien en agt jaar oud is wat dui op wat met kundige wingerdbou en wynmaaktegnieke bereik kan word.” Die druiwe van vyf van die top t kom van wingerde in die Stellenbosch-omgewing terwyl die druiwe vir die ander vyf gekweek is in die Sederberg en die omgewing van Durbanville, die Paarl, Slanghoek en Wellington.
Stephan van der Merwe, wat aan die hoof van Standard Bank se handelsbankbedrywighede in die Wes-Kaap staan, het gesê dit was verblydend om te sien dat die gemiddelde prys per bottel van vanjaar se bekroonde wyne tot R255,80 gestyg het teenoor ʼn gemiddelde van R200 in 2018.
“Suid-Afrikaanse wynmakers wat wêreldklas-standaarde met hul wyne behaal, verdien om behoorlik daarvoor vergoed te word. Terselfdertyd, met pryse wat by R108 per bottel begin, is daar steeds uitstekende waarde in die lys van wenners te vind.”
Standard Bank skenk ʼn kontantprys van R25 000 vir elk van die bekroonde wyne wat produsente moet bestee op ʼn wyse wat “ekonomiese en sosiale voordele in die werkplek versterk”.
Die wenners, in alfabetiese orde, is:
• Cederberg Cellars Five Generations Chenin Blanc 2017
• DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2018
• Durbanville Hills Collector’s Reserve The Cape Garden Chenin Blanc 2018 (nuut)
• Flagstone Winery Tributary Bush Vine Chenin Blanc 2018 (nuut)
• Ken Forrester Wines The FMC 2018 (nuut)
• Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2018
• Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2018
• Rijk’s Cellar Touch of Oak Chenin Blanc 2017
• Slanghoek Wynkelder Legends Barrel Fermented Chenin Blanc 2017
• Stellenrust The Mothership Chenin Blanc 2018
Stellenrust is die enigste produsent wat sedert die instelling van die kompetisie in 2014 nog elke jaar die top tien gehaal het. Hierdie onderskeiding is sedert 2015 ook elke jaar deur DeMorgenzon behaal. Nuwelinge vanjaar is Durbanville Hills, Flagstone and Ken Forrester.
2019 se paneel van beoordelaars:
Cathy van Zyl MW (voorsitter)
Richard Kershaw MW
James Pietersen (Wine Cellar)
Joseph Dhafana (La Colombe)
Fabien Laine (in Frankryk gebaseer, gewese sommelier, wynbeoordelaar, entrepreneur op die gebied van sosiale media)
*Penelope Setti (Chef’s Warehouse, assosiaat-beoordelaar)