Finaliste van Kaapse versnitkompetisie

Hier is vanjaar se Kaapse versnit-finaliste

Met die buitengewone reeks pinotage-style wat tydens die onlangse Absa Top 10 Pinotage-kompetisie vertoon is, is dit geen wonder dat daar groot afwagting is vir die aankondiging van vanjaar se finaliste in die Perold  Absa Kaapse Versnit-Kompetisie.

Hierdie kompetisie het in 2011 begin en het van jaar tot jaar gegroei. Wynmakers is gretig om hul interpretasie van ‘n Kaapse versnit uit te beeld, natuurlik met pinotage as ‘n belangrike komponent.

Die sameroeper van die paneel, Wilhelm Pienaar, het gesê pinotage sorg vir ‘n unieke versnit-komponent wat versoenbaar is met verskillende kultivars en dit stel wynmakers in staat om kenmerkende en ekspressiewe Suid-Afrikaanse rooi versnitte te maak.

Hy het bygevoeg dat dit ‘n groot voorreg is om die kreatiwiteit van wynmakers letterlik te proe met hul verskillende Kaapse-versnitpogings, waarvan daar vanjaar 44 inskrywings was.

Soos altyd is die finaliste-wyne van wêreldgehalte, wat wys hoe Suid-Afrikaanse wynmakers nie net uitgepluis het hoe om harmonieuse pinotage-gebaseerde versnitte met druiwe van verskillende streke te maak nie, maar ook hul toewyding aan hierdie pinotage-gedrewe wynstyl. ‘n Nuwe reël geld hierdie jaar. Die jarelange reël dat ‘n Kaapse-versnit minstens 30% pinotage, maar hoogstens 70%, moet bevat, bestaan steeds. Maar vanaf die 2019-oesjaar moet pinotage ook die grootste  komponent wees. Die tien finaliste hierdie jaar kom uit vyf verskillende streke, naamlik Stellenbosch, Wellington, Botrivier, Weskus en Robertson.

Die volledige beoordelingspaneel bestaan uit: Wilhelm Pienaar (Hermanuspietersfontein), Janno Briers-Louw (Eenzaamheid), Samarie Smith (Benguela Cove), Nataleé Botha (Kleine Zalze) en Heinrich Kulsen (Nederburg).

Finaliste: 2019 Kaapse versnitkompetisie

Asara Vineyard Collection Cape Fusion 2016, WO Stellenbosch: shiraz, pinotage, malbec. Wynmaker: Janette van Lill.

Beyerskloof Faith 2016, WO Stellenbosch: pinotage, cabernet sauvignon, merlot. Wynmaker: Anri Truter.

Clos Malverne Spirit of Malverne Limited Release 2015

WO Stellenbosch: pinotage, cabernet sauvignon, shiraz, malbec. Wynmaker: IP Smit.

Flagstone Dragon Tree Cape Blend 2017, WO Wes-Kaap: Pinotage, shiraz, cabernet sauvignon, mataro, pinot noir, malbec. Wynmaker: Gerhard Swart.

Kaapzicht Steytler Vision 2017, WO Stellenbosch: cabernet sauvignon, pinotage, merlot. Wynmaker: Danie Steytler.

KWV Abraham Perold Tributum 2012, WO kusstreek: pinotage, cabernet sauvignon, shiraz, petit verdot, petit sirah. Wynmaker; Izélle van Blerk.

Cape West Cabernet Sauvignon/Pinotage 2018 (Namaqua-wyne)

WO Weskusstreek: pinotage, cabernet sauvignon. Wynmaker; Reinier van Greunen.

 

Rooiberg Winery Reserve  Cape Blend 2015, WO Robertson: pinotage, cabernet sauvignon, shiraz. Wynmaker: André Scriven

Wellington Wines La Cave Cape Blend 2016, WO Wellington: pinotage, cabernet sauvignon, shiraz. Wynmaker: Francois van Niekerk

Wildekrans Cape Blend Barrel Select Reserve 2016, WO Botrivier: pinotage, Cabernet sauvignon, pinot noir, shiraz. Wynmaker: Braam Gericke

2019 Pinotage Rosé-kompetisie:

Wat die Pinotage Rosé-kategorie betref, wat reeds in sy derde jaar is, het die inskrywings vanjaar aansienlik gegroei en dit het meer as verdubbel tot 26 wyne. Die vier finaliste is van produsente uit die Stellenbosch-, Worcester- en die Paarl-streek.

Finaliste:

Alvi’s Drift Signature Pinotage Rosé 2019, wynmaker – Dr. Alvi van der Merwe

Beyerskloof Pinotage Dry Rosé 2019, wynmaker: Anri Truter

Landskroon Blanc de Noir Pinotage Off-Dry 2019, wynmaker: Michiel du Toit

Windmeul Pinotage Rosé 2019, wynmaker – Abraham van Heerden

Die Perold Absa Kaapse Versnit-kompetisie is in sy negende jaar en die vyf wenners word tydens ‘n toekenningsfunksie op 29 Augustus 2019 by die Lanzerac-wynlandgoed op Stellenbosch aangekondig.