Die Roodeberg-storie

Ruil hom vir rugbykaartjies

Roodeberg, die geliefde Suid-Afrikaanse rooiwyn, is in 1949 bekend gestel en het die toets van die tyd deurleef. Gedurende die afgelope 70 jaar het hierdie kenmerkende rooiwyn ontwikkel van die meester se oorspronklike versnit tot ‘n lekker toeganklike, kontemporêre wyn in pas met veranderende tye en voorkeure, maar steeds in tradisie gesetel. Die wyn se ryk erfenis maak dit ‘n legende.

Roodeberg is die geesteskind van dr. Charles Niehaus, ’n gesiene Suid-Afrikaanse wyn-pionier, wat die eerste wyn van druiwe uit die 1946 oesjaar gemaak het. Dis aanvanklik ontwikkel as ’n uitbeelding van ‘n egte Kaapse rooiwyn. Niehaus was die opvolger van dr Abraham Izak Perold, die KWV se hoofwynwetenskaplike en vader van pinotage. Die naam Roodeberg verwys na die Rothenberg-wingerde buite Geisenheim in Duitsland, waar Niehaus wynkunde studeer het. Dié naam het by hom opgekom terwyl hy by sy lessenaar gesit en ’n asemrowende sonsondergang oor die Paarlberge betrag het. Met sy aftrede in 1971, het Niehaus ‘n beduidende invloed op die wynlandskap agtergelaat.

Vir die eerste 55 jaar is Roodeberg eksklusief vir uitvoere gemaak, nadat Kanada in die vyftigerjare die weg gebaan het. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaners Roodeberg tot 2004 net kon verkry deur ’n wynkennis met ’n KWV-kwota, het Roodeberg altyd ikoniese status in die harte van Suid-Afrikaners geniet. Daar word vertel dat ruilhandel met gesogte rugbytoetskaartjies, biltong en dies meer, vir ’n bottel of twee, geen uitsondering was nie. Volgens die Januarie 1986-uitgawe van Wynboer, was ’n glas Roodeberg vir Suid-Afrikaners wat oorsee woon, soos ’n drukkie van hul tuisland.

Dis vandag nog so. Vir baie mense roep Roodeberg steeds teer herinneringe van mense, plekke en geleenthede op en veral van gedeelde lewensveranderende gebeurtenisse met vriende en familie, dikwels met skaars oesjare wat spesiaal vir só ‘n groot oomblik gebêre is.