Edelspatz – SA se bekendste laatoes weer beskikbaar

Nuwe oesjaar van Delheim Edelspatz verwelkom

Delheim, die bekende Stellenbosch-landgoed, het pas die nuwe oesjaar van sy Edelspatz Riesling – een van die wêreld se bekendste edellaatoeswyne (NLH) vrygestel.

Met hierdie vrystelling neem die Edelspatz Riesling 2020 ongetwyfeld sy plek in die ranglys van uitsonderlike wyne, wat ontstaan ​​het uit ‘n seisoen wat beskou word as een van die dekade se bestes vir edelvrot-uitdrukkings. Voorts is dit die nuutste toevoeging tot ’n lang ry, wat dalk nooit sou begin het, as dit nie vir ’n toevallige ontmoeting tussen twee legendariese wynmakers was nie.

“Dis tyd om aan Edelspatz die lof te gee wat dit verdien,” sê Roelof Lotriet, Delheim-landgoed se wynmaker, met verwysing na die nuwe voorkoms wat ook saam met die 2020-vrystelling bekendgestel word.

“Ons het vir baie jare wêreldgehalte edel-laatoes uit hierdie blok riesling gemaak. Om dit in  ’n gepaste bottel te verpak – in dieselfde reeks as ons vlagskip Grand Reserve Bordeaux-versnit – was ’n maklike besluit.”

Delheim Edelspatz – wat wêreldwyd bekend is – het tot die status van ’n ware volksikoon gegroei. Die wyn is byvoorbeeld gereeld by Tuynhuys afgelewer, toe Nelson Mandela nog president was. Die gevierde Britse wynpersoonlikheid, Oz Clarke, het Delheim as een van die beste produsente van dessertwyn in die wêreld aangewys.

Dis merkwaardig dat dit gemaak word van ’n enkele 35 jaar oue riesling-wingerd. Die wyn se 2019-oesjaar het die eerste van sy soort geword, wat gesertifiseer is as ’n lid van Suid-Afrika se uitgesoekte Old Vine-wyne, wat uit ’n geakkrediteerde erfeniswingerd afkomstig is.

Dit word deur ’n amptelike projek onderskryf, wat deur die Old Vine Project (OVP) bestuur word, wat erken dat ouer wingerde wyne met ’n unieke karakter maak. Lede van die OVP is geregtig om ’n Certified Heritage Vineyards-seël en die plantdatum op bottels wyn wat van wingerde van 35 jaar of ouer gemaak is, aan te bring. Dit is verbruikers se waarborg van outentieke wyne wat volgens die OVP-wingerdbou- en wynmaak riglyne gekweek word.

Delheim Edelspatz het die weg gebaan en net drie NLH-wyne geniet vandag hierdie status.

Die skaarsheid van hierdie wyn kan nie genoeg beklemtoon word nie, veral as die afname riesling-wingerde in ag geneem word, omdat dit so moeilik is om hoë gehalte wyne daarvan te maak.

“Die variëteit verg koeler klimaatstoestande om sy beste te wees, en dis ook nie die kultivar wat die hoogste opbrengs lewer nie. Dit is ook baie, baie vatbaar vir botritis-swam,” sê Roelof. “Daarom trek ons ​​ten volle voordeel uit die feit dat ons ’n baie koeler ligging gevind het om botritis-infeksie nog verder te bevorder.

“Die afgelope 20 jaar was daar ’n groot afname in die hoeveelheid riesling-wingerde in Suid-Afrika om meer gunstiger kultivars aan te plant, maar wanneer jy só ’n unieke ligging in die hartjie van Stellenbosch het, wat kwaliteit met elke oesjaar lewer, raak dit baie moeilik om dit eers te oorweeg om die wingerdstokke uit te trek.”

Trouens, Roelof beskryf die riesling as sy “gunstelingkind” onder al die variëteite, hoewel ’n skaarste aan Suid-Afrikaanse vrugte beteken het dat sy ervaring vroeg gevorm is deur blootstelling aan Franse- en Duitse riesling. “Ek het tyd in Bordeaux deurgebring, waar edellaatoes hul spesialiteit is. Om met botritis-besmette druiwe te werk, is niks nuuts vir my nie. Om die tegnieke en styl by ons riesling-wingerdblok aan te pas, was maklik en ek dink die kwaliteit wys,” sê hy.

Delheim-landgoed se oorspronklike riesling-wingerde is deur die plaas se bekende patriarg, oorlede Spatz Sperling geplant – aan wie Edelspatz sy naam te danke het. Spatz het veral tydens sy eerste jare op die plaas dikwels geëksperimenteer om variëteite by hul beste ligging te pas. Gelukkig het Delheim destyds een van Stellenbosch se hoogste (en koelste) liggings gehad om wingerde aan te plant en dit is waar hy die riesling geplant het.

Edelspatz het egter aanvanklik na ’n mislukking gelyk. Spatz skryf in sy dagboek dat die seisoen voor die oestyd in 1979 reënerig en koel was. “Toe ek na my wingerde kyk, het ek oormatige verrotting gevind en die druiwe as basies nuttelose materiaal afgeskryf… Omdat ek niks beter gehad het om te doen as om oor my sorge te tob nie, het ek die pos gaan haal…”

Op pad loop hy ’n mede-wynmaker raak en deel sy sentiment. Die reaksie wat hy kry, was heeltemal onverwags: “Nee man, Spatz!” het die vriend uitgeroep. “Daardie is die beste druiwe vir ’n edellaatoes.” Dié advies het van niemand anders as Frans Malan van  Simonsig gekom nie.

Wat aanvanklik as ‘n mislukking gereken is, het toe een van Delheim se grootste skatte geword.

Die wyn het daarna ’n trotse nalatenskap opgebou ná sy erkenning as waarskynlik dié NLH-kampioen in gesaghebbende wynkompetisies. Die 2019-oesjaar het vyf sterre in die Platter-wyngids ontvang; die titel as beste edellaatoes by Winemag, en 95/100 punte van Tim Atkin MW.

Roelof skryf in sy proenotas dat die Edelspatz 2020-oesjaar klassieke botritis karaktereienskappe toon, met elemente van kanferfoelie, gedroogde perskes en marmelade. Op die tong is die smaak fyn gebalanseerd en bied dit lae helder vrug en lemoenbloeisel.

Dit kan nou geniet word of tot 30 jaar verouder word, stel hy voor.

Die wyn verkoop vir R330 en kan direk van Delheim se aanlynwinkel bestel word by  www.delheim.com.

Spatz Sperling in Delheim se kelder in 1960.

Roelof Lotriet, Delheim se wynmaker wat nou na die erfenis van Edelspatz. omsien.

Die onderste kelder op die Delheim-landgoed waar die landgoed se bekende wyne geproe kan word..