‘n Eerste – Weskus-kaasfees op Groote Post

‘n Eerste jou naweek in ‘n Weskus-kaas en wynfees

Oor die naweek van Saterdag 23 tot Sondag 24 April sal die geskiedkundige Groote Post-wynlandgoed, wêreldbekend vir sy bekroonde wyne, gasheer speel vir die eerste Suid-Afrikaanse Kaasfees ooit aan die Weskus, in die Darling-heuwels. Liefhebbers van buiteluggeleenthede kan uitsien na twee feestelike dae waartydens hulle Groote Post en buurplase se wyne kan pas en proe met ‘n opwindende verskeidenheid kaas, kos, bier, jenewer en meer – selfs ‘n kaaskerfkompetisie en ‘n kans om melkkoeie te leer ken … Groote Post het immers ‘n inspirerende suiwelgeskiedenis!

 Melk na wyn?

“Om kaas saam met wyn by Groote Post te vier is soos om ‘n sirkel te voltooi,” sê die landgoed se kommunikasiebestuurder, Peter Pentz Jnr. “Ons is so opgewonde om hierdie fees op ons plaas aan te bied in samewerking met Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika en organiseerder van die SA Kaasfees sedert 2002. As ‘n landbouprodusent met ‘n betekenisvolle geskiedenis in die suiwelbedryf, lê hierdie geleentheid ons na aan die hart. Trouens, by Groote Post het suiwel eers in 2001 plek gemaak vir wyn.”

“Niemand het ooit vir my gesê dat hulle gisteraand ‘n wonderlike bottel van my melk gedrink het nie,” is hoe Peter Pentz Snr, suiwelboer van faam en patriarg van Groote Post, hierdie waagstuk verduidelik. Die familie se suiwelgeskiedenis dateer terug na 1904, met Pentz Snr wat as ‘n derdegenerasie-suiwelman begin het om melk van deur tot deur met elektriese karre af te lewer. Uiteindelik is Pentz Snr in 1998 as SA Landbouskrywers se Nasionale Boer van die Jaar vereer, en as die World Dairy Expo se Internasionale Persoon van die Jaar in 2001, vir sy merkwaardige suiwelbedryf-prestasies.

Vandag bring Groote Post se The Old Man’s Blend hulde aan Pentz Snr se visioenêre oorskakeling van 40 jaar van suiwelboerdery na die produksie van wêreldklaswyn. Sy seun Nick neem hierdie filosofie van uitnemendheid verder in hul wingerde en kelder hier in die koel-klimaat Darling-heuwels, 6 km van die Atlantiese Oseaan. Pentz Snr se liefde vir beeste leef voort deur sy gesogte trop Angusbeeste – ‘n gesig om te aanskou by die SA Kaasfees!

Grotte Postr is ‘n moet-besoek

Besoekers wat wéét is gaande oor Groote Post as ‘n “off-the-beaten-path” Darling-bestemming, net ‘n paar gruiskilometers van die Weskuspad af, ‘n uur se ry vanaf Kaapstad. Bo en behalwe hul wyne, loof gaste veral die unieke plattelandse gasvryheid wat hulle op dié 18de eeuse plaas ervaar.

“Ons maak gereed om gróót te gaan op Groote Post en beloof besoekers ’n onvergeetlike naweek,” sê Pentz Jnr. “Kom ervaar ’n stukkie geskiedenis, ontspan op die grasperke met ‘n glas wyn en musiek, en geniet die uitsigte, met die kelder wat op die pragtige Klawervallei en die gerestoureerde Kaaps-Hollandse opstal uitkyk.”

 Gaste kan ‘n hele fees van opwip-ervarings verwag (volledige program beskikbaar by www.cheesefestival.co.za):

•   Kaas is bobaas: Geniet ‘n dekadente dag van proe en vul jou proviant van gehalteprodukte aan uit ‘n uitgesoekte versameling van meer as 40 uitstallers wat ‘n watertandverskeidenheid bied, insluitend kleinkaasmakers se unieke handgemaakte kase; “Cape Made: Taste the Alternatives” soos olywe, bessies en kersies direk van die plaas af; asook vars oesters, vegan-lekkernye, lam op die spit, pizza, roosterkoek, en nog baie meer.

•   WineFest, BeerFest, Gin’OClock: Proe en koop heerlike wyne, boetiekbiere, -jenewer, likeurs en spritzers uit die streek (jou toegangsfooi sluit ‘n eksklusiewe SA Kaasfeesglas in) en stel jou eie pas-en-proe-ervarings saam. ’n Eksklusiewe kelderdeuraanbod op die dag is die immergewilde Groote Post Limited Release Pinor Noir Rosé, perfek vir ’n lekker naweek aan die Weskus.

•   ‘n Fees van musiek: Geniet topkunstenaars wat by die Hollard Band Stand optree, soos Die Heuwels Fantasties (Saterdag) en Francois van Coke (Sondag), plus plaaslike musikante Dehan Marais, Red Sheep en Jimm Harisson Project (Sondag).

•   Reis en proe: Sluit aan by bekende glans-sjefs en wynmakers vir drie Standard Bank Travel & Taste-sessies per dag, teen geen ekstra koste, insluitend sjef Tiaan Langenegger van kykNET se “Tiaan Proe” (daagliks) saam met sy akteurvriend Neels van Jaarsveld (Saterdag), Ladismith Cheese en Sea Harvest; sjef Isabella Niehaus en haar bekende gerooktesnoek-kaaskoek (Sondag); asook die Chenin Blanc-vereniging (Saterdag); Groote Post-wynmaker Lukas Wentzel en Kokerboom-kaas (Saterdag); en Deep South Distillery se wêreldbekroonde jenewer (Sondag). (Beperkte spasie, kom vroeg.)

•   Kerf jou hart uit: Skryf in vir die daaglikse Ladismith Kaaskerfkompetisie en wen groot pryse!

•   Bring die kleingoed (kinders 12 jaar en jonger gratis): Ontmoet die vriendelike koeie en bokke by die Afgri Feeds Melkfabriek en leer meer oor hierdie besonderse diere, die belangrikste deel van die produksielyn in die kuns van kaas maak. ‘n Bekende en genotvolle ervaring by die jaarlikse SA Kaasfees!

•   Maak dit ‘n Weskus-naweek: Bespreek by www.yzerfonteinaccommodation.co.za.

 Die fees is inderwaarheid vanjaar twéé keer so lekker, want die SA Kaasfees vind ook oor die langnaweek van Saterdag 30 April tot Maandag 2 Mei by Sandringham buite Stellenbosch plaas.

 Koop kaartjies hier

Die feestye is daagliks van 10:00 tot 18:00. Kaartjies teen R290 p.p. per dag (kinders 12 jaar en jonger gratis) is beskikbaar by Webtickets (https://bit.ly/SACheeseFest) en Pick n Pay. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. ‘n Covid-19-toegangsbeleid van bewys van inenting, of ‘n negatiewe toetsuitslag sal van toepassing wees.

Die 2022 SA Kaasfees word ondersteun deur platinumvennote, die Wes-Kaapse departement van landbou en Standard Bank, asook ander vennote. Vir meer inligting, besoek www.cheesefestival.co.za, Twitter @SACheeseFest, Facebook @SACheeseFestival of Instagram @sacheesefest, of kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

Drie Pentz-generasies werk sy aan sy in die familiebesigheid en is gereed om die SA Kaasfees by Groote Post te verwelkom. Peter Pentz Snr (regs) word met liefde The Old Man deur sy kinders genoem, van wie Nick (middel) sedert 1992 saam met hom boer. Kleinseun Peter Jnr (links) het in 2020 by die besigheid aangesluit.