Niks word hier aan toeval oorgelaat
By Tokara wat vanjaar sy 20ste oesjaar vier, word niks aan toeval oorgelaat nie. Familiewaardes en ’n doelgerigte visie om tydlose, wêreldklaswyne te produseer is die grondslag van hierdie Stellenbosse wynlandgoed.
“Ons mantra was nog altyd een sonder kortpaaie en geen kompromie nie. Ons streef van die heel begin af na ‘n internasionale styl met ‘n kenmerkende Suid-Afrikaanse identiteit. Uit die staanspoor was die doel om iets te skep wat as tydloos erken sal word,” aldus Karl Lambour, Tokara se besturende direkteur.
Alles het in 1994 begin toe G.T. en Anne-Marie Ferreira ’n plaas teen die hange van die Simonsberg gekoop het om ’n tuiste vir hul jong gesin tussen die pragtige ou eikebome te vestig.
Die aantrekkingskrag van die omgewing en die insig van gesiene bure, het die droom wat eindelik Tokara sou word, laat wortel skiet. Vandag, 25 jaar later, is Tokara ’n toeristebestemming wat aan besoekers elegante en bekroonde wyne bied. Verdere trekpleisters sluit twee pragtige restaurante, ’n kunsgalery, ’n beeldhoutuin, en van die beste Suid-Afrikaanse ekstra suiwer olyfolie in. Tokara bly ook die tuiste vir ’n familie met ‘n visie, toewyding en die heel belangrikste – vasbeslotenheid.
“Na 25 jaar geniet ek steeds die geleentheid om op so ’n mooi eiendom te bly en soveel pret te hê terwyl ons wyn produseer,” deel eienaar G.T. Ferreira oor die vreugde wat hul belegging en langtermynvisie vir Tokara, vir die hele gesin beteken.
Hierdie ongelooflike onderneming, met die familie as middelpunt, vereis vele hande. Vandag is daar steeds nege toegewyde personeellede by Tokara wat van die begin af deel is van die landgoed se storie. Die diepte van kennis oor die unieke terroir en wingerde versamel deur gesoute wingerdboukundige, Aidan Morton, is nog ’n pluspunt.
“Van die heel begin af is wêreldklas die minimum standaard vir alles wat ons doen en dit sal in die toekoms aanhou om so te wees,” sê Morton, wat al sedert die eerste dag deel is van Tokara.
Deur voort te bou op hierdie standvastige fondasie kry nuwe spanlede die geleentheid om lewenslus en onbevreesdheid na vore te bring, wat ‘n belowende toekoms vir Tokara inhou.
“Die toekoms in die kelder is opwindend. Met ons wingerde wat al hoe beter word, ’n styl wat reeds goed gevestig is en die gebruik, na baie proeflopies, van die mees innoverende wynmaaktegnieke in die wynwêreld, streef ons na wynperfeksie met elke wyn wat ons maak,“ volgens wynmaker Stuart Botha.
Vlagskipwyne
Die eerste wyne wat onder die Tokara-etiket vrygestel is, die vlagskip Director’s Reserve Red en die Director’s Reserve White, geniet internasionale lof en is as ’t ware ‘n weerspieëling van alles waarvoor die plaas staan – verfyning, elegansie en balans.
Sedert die eerste 2003-oesjaar, het die cabernet sauvignon gedrewe Director’s Reserve Red in gestalte gegroei as ’n wêreldklas Bordeaux-styl versnit met ’n rits toekennings agter sy naam.
“Na baie jare van fokus is Tokara Cabernet Sauvignon as ons primêre spesialiteitsdruifsoort geïdentifiseer. Ons grond is perfek geleë om die beste van Stellenbosch se cabernet sauvignon-produksie te benut en om hierdie uitdrukking te versterk, vul ons dit aan met die kompleksiteit van bykomende Bordeaux-variëteite. Die Director’s Reserve Red is ’n skitterende resultaat,” sê Lambour.
Die jongste 2016-oesjaar is ’n uitsonderlike versnit van cabernet sauvignon (78%), merlot (11%), petit verdot (7%) en cabernet franc (4%) – alles afkomstig uit Tokara se wingerde teen die helling van die Simonsberg. Die wyn word vir 22 maande in ’n kombinasie van nuwe en ouer Franse eikehoutvate verouder. Die resultaat is ’n wyn van ontsaglike suiwerheid wat spog met donker kersies, braambessies, ryp pruime en ’n tikkie speserye. ’n Fyn, tog ferm tannienstruktuur voorspel goeie verouderingspotensiaal wat sinoniem is met hierdie Tokara-vlagdraer.
Sauvignon Blanc is nog ’n noemenswaardige hoeksteen van Tokara. As ‘n versnit tesame met semillon, staan die formidabele Director’s Reserve White, die vlagskip wat terugdateer na die 2004-oesjaar, ook trots op die wêreldverhoog.
Die pas vrygestelde Director’s Reserve White 2017 is ’n klassieke Bordeaux-styl sauvignon blanc (69%) en semillon (31%) versnit, gemaak van druiwe wat op die hoogste hellings van Tokara groei. Albei variëteite word afsonderlik gefermenteer en verouder in hoofsaaklik Franse eikehoutvate. Kontak met die gismoer vir nege maande verleen pragtige integrasie en tekstuur aan die komplekse wyn. Ryk lae van grenadella en pienk pomelo meng met sweempies sitroengras en vars gebakte brioche. Die wyn wys ongelooflike suiwerheid en diepte.

Tokara is bekend vir sy vlagskip-wyne onder die Director’s Reserve-etiket.

Die ingang na die Tokara-proelokaal en deli is ‘n besonderse ontwerp.

Aidan Morton en wynmaker Stuart Botha dryf die gehalte-wyne wat so sinoniem met Tokra ageword het.