Handelsmerkbou in kollig op wyntoerismeberaad

Handelsmerkkenners praat saam oor wyntoerisme

“Handelsmerke, die uitbou van handelsmerke en die onderskeiding van handelsmerke” is die tema vir die konferensie oor wyntoerisme wat op 17 Mei op Lanzerac buite Stellenbosch aangebied word. Die konferensie word geborg deur Wesgro, Delta Air Lines en die WWF.

Margi Biggs, die sameroeper van dié  jaarlikse konferensie, nou in sy sewende jaar, het ’n indrukwekkende lys plaaslike en internasionale kenners en innoveerders op die gebiede van bemarking, handelsmerke en toerisme byeen gebring om as sprekers op te tree by hierdie byeenkoms.

“In die geheel gesien, doen plaaslike wyntoerisme goed en is dit op pad terug na die 2019-vlakke,” sê Biggs. “Terwyl ons ernstig hoop dat hierdie neiging sal voortduur, lyk die globale ekonomiese vooruitsigte steeds onseker. As ons wil voortgaan om langafstand-besoekers te lok, sowel as diegene nader aan ons, insluitende plaaslike reisigers, sal ons net eenvoudig slimmer, vinniger en meer doeltreffend in ons aanbiedings moet wees en op die manier wat ons dit aanbied.”

Volgens Andile Ntingi, stigter van GetBiz, in ’n artikel in Business Day, hoop die Suid-Afrikaanse regering om 21 miljoen internasionale besoekers per jaar teen 2030 te lok.  In 2019 het 10,2 miljoen reisigers die land binne gekom.

“Die prominente wynkommentator, Michael Fridjhon, het verlede jaar daarop gewys hoe bruikbaar bywoning van die konferensie vir hoof- uitvoerende beamptes en bestuurders van wynmakerye kan wees. Soos hy benadruk het, moet ons nou, meer as ooit tevore, oortuigende, nuwe maniere vind om ons wynmakerye na kliënte te vat. Ons glo afgevaardigdes sal geïnspireerd en entoesiasties wees oor wat hulle vanjaar sal leer.”

Die hoofrede oor handelsmerkbou en handelsmerkonderskeiding sal gelewer word deur Pepe Marais, medestigter en hoof- kreatiewe beampte van Joe Public United, een van die land se voorste handelsmerk- en kommunikasie-agentskappe. Marais, ’n leierskap- en selfontwikkelingsmentor, is ook die skrywer van Growing Greatness: A Journey Towards Personal and Business Mastery.

Peter McAtamney, ’n Australiër wat sterk in aanvraag is en aan die hoof staan van Wine Business Solutions (Australia), globale spesialiste in wynmarknavorsing, wyn-opvoeding  en direk-aan-verbruiker-wynbesigheid (DTC), sal ook ’n rede lewer. Hy werk in Suid-Afrika, Australië, Nieu Seeland en Spaanse markte.

’n Ander groot trekpleister sal die Australiese wyntoerismekenner, Robin Shaw, wees. Shaw, die stigter van die bekende konsultasie-onderneming Wine Tourism Australia, is ’n gewilde spreker op die globale wyntoerismekalender en die brein agter Wine Australia se jongste Growing Wine Tourism-program. Sy werk met ’n reeks wyn- en toerismeliggame, nie net in Australië nie, maar wêreldwyd, en het selfs konsultasiewerk vir VinPro gedoen.

Mike Ratcliffe, HUB van Stellenbosch Wine Routes wat ’n leidende rol speel in die hervestiging van Stellenbosch as ’n vooraanstaande sentrum van uitnemendheid, sal maniere aanspreek om kollektiewe handelsmerk-identiteite te bou. Hy het ’n groot rol gespeel in die sukses van Warwick Wines, en meer onlangs in die vestiging van Vilafonté, die eerste gesamentlike wynonderneming deur Suid-Afrikaners en Amerikaners. Stellenbosch Wine Routes is ook die borg van die konferensie.

Die daglange byeenkoms sal ook verskeie ander prominente toerisme- en handelsmerkspesialiste hê. Hulle sluit in Tshifhiwa Tshivhengwa, HUB van die Tourism Business Council of South Africa; Katlego Flocart Ditlhokwe, stigter van die handelsmerkstrategie-agentskap The Hyphen; Chantel Botha, Besturende Direkteur van Brandlove Training, wat die ontwikkeling van handelsmerkstryders sal bespreek; en Hardy McQueen, uitvoerende vervaardiger van The CyberCellar Wineshow wat sal praat oor diversiteit en die insluiting van gehore.

Wesgro sal die konferensie open en Delta Airlines sal praat oor veranderende tendense in lugreise.

Terwyl Paul Siguqa, HUB van Klein Goederust by Franschhoek, sal kyk na die bou van ’n nuwe Suid-Afrikaanse handelsmerk, sal DTC-futuris, Andrew Douglas, ’n bespreking oor die herbou van gevestigde handelsmerke modereer. Die paneellede sal die bekende wynpersoonlikhede Hein Koegelenberg, Kevin Arnold en Pieter Cronjé wees.

’n Paneelbespreking oor hoe eko-bewaring die bou van handelsmerke kan beïnvloed, sal deur André Morgenthal, projekbestuurder van die Old Vine Project, gemodereer word. Die paneel sal Shelly Fuller van WWF South Africa, Jeremy Borg van Painted Wolf Wines en Kathryn Cilliers van Spier insluit.

Vroeë inskrywings vir die konferensie is R2 500 (plus BTW). Indien na 7 April bespreek word, is die koste per persoon R3 450 (plus BTW).

Pieter Cronje is deel van die paneelbespreking oor handelsmerkbou, saam met Hein Koegelenberg en Kevion Arnold.

Kevin Arnold

Margi Biggs, die konferensie se fasiliteerder.

Pep Marais lewer die hoofrede oor handelsmerkbou en handelsmerk-onderskeiding.