Wyn-ikoon Dave Hughes (84) sterf op Stellenbosch
In wat beskryf kan word as ‘n donker dag vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het die dood van Dave Hughes, wynlegende by uitstek, gister in sy huis op Stellenbosch, skokgolwe deur die wynwêreld laat trek.
David Hughes, of Dave soos almal hom geken het, is op 12 Junie 1938 in die destydse Rhodesië gebore en is daar geskool.
Hy het nadat hy verskillende posisies by African Distillers daar gevul het, in 1986 na Suid-Afrika gekom en by die destydse Stellenbosch Boerewynmakery (SBW) as bedryfsbestuurder in Transvaal aangesluit. Hy het verskillende poste in die SBW beklee, insluitend die van bemarkingsbestuurder vir kliënteverhoudinge wat hy tot 1989 gevul het totdat hy daardie jaar sy eie konsultasiewerk begin het.
Hy was in 1979 ‘n stigter van die Kaapse wynakademie en het Phyllis Hands as die eerste hoof daarvan aangestel. Hy was ook sedert die begin van die Nederburg-wynveiling daarby betrokke, was ‘n konsultnat vir Veritas, die wynkeuses van die SAL en die internasioanle wyn- en spiritualiëkompetisie in London.
Dave was die skrywer van talle beoek oor wyn en die SA-wynbedryf, insluitend Living with wine, 300 Great South African Wines, South African Wine Buyers Guide (9 uitgawes), Winelands of the Cape, Visiting Wine Routes,
Enjoy Wine (medeskrywer saam met Dave Biggs), A Dictionary of South African Wine, en sedert 1996 ook ‘n bydraende skrywer by die gewilde John Platter’s South African Wine Guide, en nog talle ander.
Op internasionale vlak was hy ewe bekend as wynambassadeur vir Suid-Afrika: hy was ‘n gerekende en gewilde spreker oor wyn in die VSA, Kanada, Duitsland, Australië, Nieu-Seeland, Holland, Frankryk, Portugal, Rusland, Sloevenië, Mexiko, Kuba en Chilli. Hy was ook wynbeoordelaar in Suid-Afrika, die VSA, Brittanje, Duitsland, België, Italië, Frankryk, Sloevenië, Australië, Portugal, Spanje en Kanada. Sedert 1975 was hy ook beoordelaar by die IWSC in Brittanje. In 2007 het hy erelid van die Pinotage Assosiasie geword en is in die daaropvolgende jaar as lid van die Gilde van die SA Brandewynstigting ingehuldig.
Die SANWV het die Dave Hughes-trofee ingestel vir mense wat ‘n besonderse bydrae tot die wynbedryf gemaak het. Die trofee is die eerste keer, postuum, aan Dave se groot vriend en jarelange kollegea. Duimpie Bayly, ook van Stellenbosch, gemaak.
Baily het by funksies waar hy seremoniemeester was en waar Dave ook teenwoordig was, dikwels gespot en gesê toe Jan van Riebeeck in die Kaap geland het, was Dave al daar om hom te verwelkom …een van die legendes oor hierdie innemende wynpersoonlikheid.
Daar is soveel te sê oor hierdie wyn-ikoon, maar dat hy ‘n mense-mens was, is beslis so en sy nederigheid, menslikheid, wynkennis en bloot die ruimte wat hy gevul het, in die bedryf en daar buite, sal vir altyd gemis word.
Danie Keet