Stellenbossers onder top-vereerdes by SA-wynbedryf se huldigingseremonie
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het formele eerbewyse aan vier uitnemende individue by die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid op Donderdag 2 Februarie betoon. Die funksie is op Suid-Afrika se oudste wynproduserende plaas, Groot Constantia, gehou.
Drie van die vier ontvangers van spesiale toekennings kom uit die Stellenbosch-streek, wat weereens die kollig op die gehalte van die wynbedryf hier beklemtoon. Ken Forrester, Rydal Jephta en Erna Blancquaert is almal van Stellenbosch.
Die Wynoesherdenkingsgeleentheid is ‘n ryke tradisie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en inspireer die sektor tot nuwe vlakke van voortreflikheid. By die geleentheid is die begin van Suid-Afrika se wynbedryf, 364 jaar gelede, herdenk, terwyl die seën op die nuwe oes ook uitgespreek is. Vier baanbrekers is vereer vir hul werk as rigtingwysers vir toekomstige generasies om hulle talente te ontgin en sodoende ‘n unieke en trotse Suid-Afrikaanse nalatenskap te bou. Hulle het erkenning in die volgende vier kategorieë ontvang: visioenêre leierskap, bevordering van inklusiwiteit, wynbevordering, en wingerd- en wynbou.
Volgens dr Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia, is dit verblydend om te sien hoe die jaarlikse geleentheid in omvang groei. “Elke jaar word meer wynmense uit diverse agtergronde genomineer om vir hulle werk erken te word,” sê Messina. “Dit strook met ons doelwit om almal wat aan die bedryf verbonde is, te vereer. Ek vertrou dat die erkenning van die vier individue vanjaar ook ander sal inspireer om die bedryf na nog groter hoogtes te neem.”
Visionêrte leierskap
Vanjaar is die gesogte 1659 toekenning vir visioenêre leierskap aan Ken Forrester, alombekend as “Mnr Chenin”, toegeken. Sy bydrae tot die ontwikkeling en internasionale aansien van die chenin blanc-kultivar het die reputasie van Suid-Afrikaanse chenin ingrypend verbeter. As sodanig is Forrester ‘n hoogs verdienstelike ontvanger van een van die mees inspirerende eerbewyse in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Forrester het sy eerste smakie van die wynbedryf gekry tydens ‘n besoek aan die Kaap in die vroeë ‘90s, waartydens hy die geleentheid kry om die geskiedkundige Scholtzenhof-plaas in Stellenbosch te koop. Dit was juis hier waar sy liefde vir die chenin blanc-kultivar posgevat het en ten spyte van terugslae en vele uitdagings, vestig Forrester Suid-Afrikaanse chenin spoedig viervoet in die wêreldarena.
In 1998 is die Chenin Blanc-vereniging van Suid-Afrika gestig met Forrester as een van die stigterslede. Te danke aan die werk van die vereniging kweek Suid-Afrika meer chenin as die res van die wêreld gekombineerd. Insgelyks word dit wêreldwyd as Suid-Afrika se de facto-witwyn beskou. Sedert sy ontstaan het die vereniging se aansien in internasionale kringe vinnig toegeneem deur navorsings- en ander projekte in samewerking met verskeie internasionale liggame en akademiese instellings. Van die vernaamste mylpale wat die vereniging bereik het, sluit in:
- Leier in die wêreldarena: Die vereniging vestig chenin blanc as die kultivar waaroor die meeste studies en navorsing ter wêreld gedoen word, wat ook die ontwikkeling van die wêreld se eerste veeltalige aromawiel insluit.
- Eksponensiële finansiële groei: Die netto waarde van chenin blanc wat in Suid-Afrika geproduseer word, vermeerder van R6 miljard in 1998 tot R888.7 miljard in 2020.
- Terugploeg: Die vereniging maak bydraes tot die opheffing van wynwerkersgemeenskappe ter waarde van R2.1 miljoen as deel van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10-Uitdaging toekennings.
Sy unieke visie maak van Forrester een van die mees invloedryke ambassadeurs van Suid-Afrikaanse wyn, en veral die chenin blanc-kultivar. Oor die jare het sy inspirerende werk nie slegs tot groei in plaaslike wynverkope gelei nie, maar veral wêreldwye bekendheid vir Suid-Afrikaanse wyn, en in besonder chenin blanc, tot gevolg gehad. Forrester se leierskap bewys dat visie en vasberadenheid tot nuwe geleenthede en vooruitgang vir Suid-Afrikaanse wyn in die hoogs kompeterende internasionale mark kan lei. Sy werk maak van hom ‘n waardige voorbeeld waarop nuwe geslagte kan voortbou.
Inklusiwiteit
Die ontvanger vir 2023 in hierdie kategorie is Rydal Jeftha, HUB en die afgelope 16 jaar besturende direkteur van Koopmanskloof-wynmakery in Bottelary. Die persoon of instelling wat erkenning in die kategorie vir die bevordering van inklusiwiteit ontvang, moet ‘n inspirerende voorbeeld stel, die weg na die wynbedryf vir ander baan deur hindernisse uit die weg te ruim, en in die algemeen ‘n positiewe impak op die Suid-Afrikaanse wynbedryf hê.
In hierdie verband is Jeftha ‘n baanbreker van baie jare deur sy wye ondervindingsveld en ware leierskap. Hy was aan die voorpunt van talle belangrike inisiatiewe, soos:
- Bevordering van bemagtiging: Onder Jeftha se leierskap word Thandi Wyne as die eerste werklike breëbasis-swartbemagtigingsmaatskappy gevestig. Dit is ook die grootste wynuitvoermaatskappy onder swart eienaarskap, met groei in verkope van 500 na 42 000 kiste in slegs twee jaar.
- Voorloper in Fairtrade: As ‘n bemagtigde maatskappy is Koopmanskloof een van die grootste Fairtrade-uitvoerders ter wêreld. Te danke aan Jeftha word dié wynplaas getransformeer van ‘n 100% grootmaat-wynprodusent vir die plaaslike mark na ‘n internasionale uitvoerder van grootmaat- en verpakte wyn.
- Opkomende landbou: Jeftha was ‘n finalis in die kompetisies Toyota opkomende boer van die jaar asook die Kaapse Kamer van Koophandel se uitvoerder van die jaar.
Jeftha spog met 42 jaar se ondervinding in Suid-Afrikaanse landbou, waarvan 20 jaar in die wynbedryf. Hiervan spandeer hy tyd by onder andere Lourensford, Capespan en Vinfruco. Hy is ‘n raadslid van Vinfruco en Wines of South Africa (WoSA). Met sy passie vir opkomende generasies van boere en wynmakers is Jeftha ‘n mentor en inspirerende leier vir talle jongmense. Hy slaag daarin om ‘n gevoel van hoop en ‘n sterk toekomsfokus te skep by diegene wat hindernisse om die bedryf te kan betree, te bowe moet kom.
Wynbevordering
Die ontvanger vir 2023 in hierdie kategorie is Wendy Jonker, beherende amptenaar van die wet op drankprodukte, soos aangestel deur die minister van landbou. Die persoon of instelling wat erkenning in die kategorie vir wynbevordering ontvang, moet ‘n merkbare bydrae maak tot die beeld van wyn en die verantwoordelike gebruik daarvan, en eweneens die beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf as ‘n geheel.
In haar rol as beherende amptenaar is Jonker ‘n sleutelverteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse regering in bilaterale en multilaterale besprekings en onderhandelings as tegniese wynkundige in die internasionale organisasie vir wingerd en wyn (OIV) en die World Wine Trade Group (WWTG). Sy is ook ‘n geregistreerde professionele natuurwetenskaplike, skrywer en keurder van wetenskaplike publikasies as visepresident van die OIV se wetenskapskomitee. Haar prestasies in die vestiging van optimale bestuurstrukture vir die wynbedryf sluit die volgende in:
Fasilitering van uitvoerprosesse: Betrokkenheid by die ontwikkeling van ‘n aanlyn-uitvoerplatform om die die uitvoerproses te vergemaklik en vereenvoudig.
- Bevordering van internasionale handel: Verteenwoordig Suid-Afrika se wynbelange in die daarstelling van die ekonomiese vennootskapsooreenkoms tussen die Europese Unie en die Suid-Afrikaanse doeane-unie.
- Vestiging van effektiewe korporatiewe bestuurstrukture in die Suid-Afrikaanse wynbedryf: Handhaaf goeie verhoudings met invoerlande en spreek hindernisse rakende nie-tariefdraende aangeleenthede aan.
Jonker se werk agter die skerms het ‘n reusebydrae daartoe gelewer om deure vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die internasionale arena te open. Sonder die toewyding en kundigheid van rolspelers soos dié sou die bedryf dit moeilik vind om op volhoubare wyse te groei.
Wingerd- en wynbou
Die 2023-ontvanger in hierdie kategorie is dr Erna Blancquaert, dosent en navorser in wingerdkunde. Die persoon of instelling wat in hierdie kategorie erkenning ontvang, moet nuwe idees, tegnologie en metodes vir die wynbedryf ontwikkel het, sodanige idees en metodes geïmplementeer en gevestig het, en daardeur bestaande opvattings verander het tot voordeel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf as ‘n geheel.
Blancquaert is ‘n dosent in wingerdkunde aan die Universiteit van Stellenbosch (US), sowel as nagraadse toesighouer vir meesters- en PhD-studente in wingerd- en wynkunde, volhoubare landbou enbBiotegnologie. Sy was die eerste swart Suid-Afrikaner om ‘n PhD in wingerdkunde te behaal in 2015. Haar onvermoeide toewyding aan uitnemendheid en bemagtiging maak van haar een van die vernaamste rolspelers in haar veld. Die volgende is maar enkele voorbeelde van haar invloed en prestasies:
Akademie: Ontvang vele akademiese toekennings, van die SAWIT-beurs in 2003 tot die Fulbright Afrika-navorsingskundigetoekenning in 2018, en meer onlangs die Taylors Port Golden Vines diversiteitsbeurs in 2021 wat haar in staat stel om haar studies as ‘n Internasionale Wynmeester aan te pak.
- Industrie: Dien op verskeie bedryfstrukture onder andere as verteenwoordiger van die nasionale minister van landbou op die sagtevrugtebedryf-ontwikkelingstrust asook op wetenskaplike joernaal-hersieningspanele,.
- Internasionale arena: Mentor vir die New York akademie vir wetenskap se ‘1000 Girls, 1000 Futures’-program, tree op as die Suid-Afrikaanse leier van die internasionale konsortium VitaGlobal, wat op die verskerping van universiteitsbydraes tot plaaslike ontwikkeling konsentreer (die US was een van 17 lede van die konsortium).
Blancquaert bou voort op haar akademiese loopbaan aan die US met ‘n sterk fokus op die vestiging en ondersteuning van ‘n nuwe generasie swart navorsers. As ‘n rolmodel werk sy graag met studente uit alle vlakke van die samelewing met die oog op die uitruil van idees en vestiging van nuwe perspektiewe. Sy wy haarself ook aan haar lewenslange verbintenis om vooroordeel in die wynbedryf en akademie konstruktief aan te spreek, iets wat haar besonder na aan die hart lê.

Dr Erna Blancquaert

Rydal Jeftha

Wendy Jonker