Is wyn-vonkel nou finaal verby? Vinpro gaan hof toe

Vinpro-interdik teen wynverbod van regering uitgestel

Met verwysing na Vinpro se dringende interdikaansoek wat voorlopig geskeduleer was vir verhoor in die Kaapse Hooggeregshof op Vrydag, 2 Julie 2021, het die regering se regsadviseurs Vinpro se regspan genader en uitstel versoek gegewe die kort tydslyne. Dit sal die nasionale regering se respondente in staat stel om hul antwoordende eedsverklarings oor die komende naweek in te dien, gevolg deur Vinpro se repliek as aansoeker.

“Ons het bevestiging van alle betrokke partye ontvang dat die saak as uiters dringend hanteer word, en ons wag nou op die bevestiging van die regter oor die finale datum in volgende week waarop die saak aangehoor gaan word,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

Vinpro sou sy interdikaansoek op Dinsdag, 29 Junie 2021 by die Kaapse Hooggeregshof indien nadat ʼn landswye verbod op drankverkope weer op 28 Junie 2021 in werking gestel is.

Die interdikaansoek sou dien om die verbod op wynverkope in die Wes-Kaap op te hef en sodoende tussentydse verligting aan wynbesighede te bring.

“Die twee week lange verbod wat nou ingestel is volg op ʼn 19 weke verlies aan inkomste oor die afgelope 16 maande, wat ʼn verwoestende effek op die wyn- en toerismesektor gehad het – ʼn sektor wat meer as 269 000 mense in diens neem,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

“ʼn Groot aantal van ons wynprodusente en kelders is klein – meer as 80% van die 529 kelders is klein en mediumgrootte ondernemings wat afhanklik is van direkte verkope aan verbruikers. Hoewel wynuitvoere mag voortgaan, voer die bedryf steeds minder as 50% van sy jaarlikse produksie uit, en word die ander helfte plaaslik verkoop. Sonder enige finansiële ondersteuning van die regering aan hierdie besighede, lyk die vooruitsig en dié van hul werknemers uiters droewig.”

Die wynbedryf het die afgelope jaar onverpoos gewerk om deel te wees van die oplossing terwyl ons land in die greep van die dodelike Covid-19-pandemie vasgevang is. Dit sluit in samewerking met die regering en proaktiewe implementering van voorkomende maatreëls van plaasvlak tot die kleinhandel om die lewens en lewensbestaan van die mense wat in ons waardeketting en die breër gemeenskap werk, te beskerm.

Vinpro en sy bedryfsvennote het oor die afgelope naweek voorstelle by die Nasionale Koronavirus Bevelsraad (NCCC) ingedien, naamlik spesifieke ingrypings om ʼn gebalanseerde benadering te verseker ten einde die verspreiding van Covid-19 te stuit, en terselfdertyd die ekonomie aan die gang te hou. Ongelukkig is hierdie voorleggings ten opsigte van ʼn risikogebaseerde benadering nie in ag geneem nie, en ‘n algehele landwye alkoholverbod is weer eens ingestel.

Vinpro het aanvanklik op 27 Januarie 2021 die Hooggeregshof genader om dringende verligting tydens die vorige verbod. Dit is uitgestel toe die beperkings opgehef is en die saak word nou op 23 tot 27 Augustus 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof voor ʼn volbank regters aangehoor. Vinpro het egter die reg voorbehou om ʼn tussentydse interdik in te stel indien ʼn algehele verbod weer voor die hofdatum ingestel sou word.

Vinpro is nie van mening dat beperkings ongeregverdig is wanneer hospitale en veral trauma-eenhede onder druk is nie. Ons is egter van mening dat nie net die verkeerde regeringsvlak die kleinhandelverkope van drank tydens die nasionale ramptoestand hanteer nie, maar ook dat die regering herhaaldelik ʼn landwye verbod gebruik wat onnodig, ongegrond, onregverdig en inderdaad teenproduktief is.

ʼn Meer buigsame, vaartbelynde benadering is nodig, gebaseer op geloofwaardige empiriese data waar die provinsiale uitvoerende gesag bemagtig moet word om die verkoop van drank gedurende die res van die pandemietydperk te hanteer. Provinsiale owerhede is normaalweg verantwoordelik vir die regulering van die verkope van drank én in beheer van gesondheidsorg en provinsiale hospitale, en daarom beter toegerus om die fyn balans tussen lewens en lewensbestaan te bestuur.

Alhoewel die drankverbod daarop gemik is om te verseker dat hospitale die nodige vermoë het om diegene wat siek word te behandel, raak die pandemie provinsies op enige tydstip verskillend. Die kapasiteitsbehoeftes in hospitale sal dus landwyd verskil. Ten spyte hiervan het die regering nog nooit ʼn onderskeid tussen provinsies getref wat die instelling of opheffing van die drankverbod betref nie. In plaas daarvan is ʼn landwye verbod ingestel en dan weer opgehef, sonder inagneming van die omstandighede in die onderskeie provinsies.

Dringende tussentydse regshulp word nou versoek, wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landwye verbod af te wyk ten einde die verkoop van drank op persele en vir tuisverbruik in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot ander provinsies sal versoek word.

“Ons moet besluite neem en implementeer wat die behoud van lewens met die behoud van mense se lewensbestaan balanseer. Besluite moet op provinsiale vlak geneem word, gebaseer op wetenskaplike bewyse en volgens die infeksiesyfer en hospitaalopnames in hierdie provinsies,” sê Basson.

“Die wyn- en toerismebedryf kan nie langer ly weens die versuim van die regering om die gesondheidsfasiliteite voldoende voor te berei vir die moontlike gevaar van addisionele golwe, en om ʼn toereikende en doeltreffende inentingsprogram uit te rol nie,” sê Basson.

Die saak is voorlopig geskeduleer om op Vrydag, 2 Julie 2021 aangehoor te word.

“Ons moet besluite neem en implementeer wat die behoud van lewens met die behoud van mense se lewensbestaan balanseer,” meen Rico Basson, Vinpro se bedryfshoof.