Herontdek die essensiële pasmaats by Stellenbosch Hills
Kom koester hierdie winter jou sintuie wanneer Stellenbosch Hills alle proelokaal-besoekers weer voorstel aan die wêreld se oorspronklikste pasmaats: wyn en kaas.
Die wynkelder is in die hartjie van Suid-Afrika se bekendste wynstreek geleë en het pasmaat-ervarings vervolmaak. Dit sluit onder meer skeppinge soos wyn met biltong, en selfs springmielies, in.
Nou gaan dit terug na die begindae van hierdie tradisie – daar waar die twee onweerstaanbare pasmaats die heel eerste keer ontmoet het. Dit mag voorkom asof dit pure toeval was dat hierdie twee saamgevoer is en die saadjie vir wyn-en-kaasprodusente gesaai het. Onlangse studies het getoon dat sekere kossoorte – veral kaas – die wyn-ervaring kan verbeter. Hierdie hemelse vennootskap was beslis bestem vir die winter en dis presies wat Stellenbosch Hills in die kollig gaan plaas met ’n verskeidenheid van hul wen-wyne in Junie, Julie en Augustus vanjaar.
Dit sluit onder meer in die Stellenbosch Hills Shiraz 2018, wat pas dubbel platinum en die titel van Top 100 Suid-Afrikaanse wyne by die National Wine Challenge gewen het, die Muscat de Hambourg, wat dubbel silwer by dieselfde kompetisie gewen het en ook ’n vier-ster-gradering in die Platter’s South African wine guide ontvang het en die Cabernet Sauvignon wat verlede jaar ’n Gold Wine Award verower het.
Voeg hierby ’n verskeidenheid handgemaakte kase van die Stanfordse produsent, Stonehouse. Hierdie is ’n kaas-tronomiese-goeie proe-ervaring wat jy nie kan misloop nie, so berei jou voor vir proe-genot:
- Sauvignon Blanc en semi-sagte kaas gegeur met knoffel en sprietuie
Die wyn se vars en sterk geure is die ideale pasmaat vir die kaas in hierdie ervaring, wat vrugtigheid en sout-geure kombineer.
- Shiraz en semi-sagte kaas met Cajun-speserye
Die wyn het klassieke geure van rooivrug, eikehoutspeserye en skeutjies swartpeper – elemente wat die Cajun-speserye se volheid omarm en op die tong dans.
- Cabernet Sauvignon en harde Boerenkaas gegeur met komyn
Twee kragtige speelmaats span saam in hierdie kombinasie. Die volronde, komplekse wyn het baie ryp vrug, eikehoutspeserye en skeutjies sederhout. Die kaas het net soveel uitdruking en hou tred met die wyn se geur en intensiteit.
- Muscat de Hambourg en Camembert
Die gesegde lui dat teenoorgesteldes mekaar aantrek en dis beslis die geval in hierdie pasmaat. Die wyn is geurig met skeutjies spookasem, gekookte lekkergoed, roosblare en viooltjies. Dit komplementeer die jong, effense skerp en souterige kaas.
Met elke wyn- en kaaservaring, sal ’n Stellenbosch Hills wyn-ambassadeur ’n kort inleiding verskaf, voor hulle die proeërs in vrede laat om hulself aan die ervaring oor te gee.
Die Stellenbosch Hills proelokaal is van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00 en Saterdag van 10:00 tot 15:00 oop. Dis Sondag en openbare vakansiedae gesluit.
Die kelder is by die R310- en Vlottenburgpad se kruising buite Stellenbosch geleë.

Kaas en wyn bly ideale pasmaats.

Shiraz en semi-sagte kaas met Cajun-speserye.

Muscat de Hambourg en Camembert.