Kom vier 50 jaar se wyntradisies

Ervaar Stellenbosch in alle glorie by eerste dorpsfees

Van strikdasse tot braaibroodjies en alles tussenin, Wine Town Stellenbosch is ’n splinternuwe gedesentraliseerde wynfees wat die beste van die Eikestad aanbied. Dit word oor vyf dae, van Woensdag 3 November tot Sondag 7 November, gehou.

In hierdie plaaslike kos en wynversnit, is ’n reeks geleenthede wat by verskeie plekke op Stellenbosch en deelnemende wynplase aangebied sal word. Spesiale aanbiedinge op oornagverblyf sal besoekers aanmoedig om oor te bly en die volle ervaring te geniet.

Om die gees lekker aan te wakker, val Wine Town Stellenbosch saam met die dorp se immergewilde Straat Soiree-geleenthede, wat op Woensdag 27 Oktober, 10 November,  24 November en 8 Desember gehou word.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor Wine Town Stellenbosch,” sê Elmarie Rabe, Stellenbosch-wynroetes se bestuurder. “As die eerste in sy soort, is dit ’n uittgebreide weergawe van ons gewilde wynfees wat in Augustus sou plaasvind, maar weens inperking kon dit nie daardie maand gebeur nie. Met inperkingsregulasies nou op vlak 1, is almal terug en gereed vir aksie.”

Om die fees te desentraliseer, beteken dat veiligheid steeds die hoof-prioriteit is. “Ons het dus by elke geleentheid beperkte sitplekke beskikbaar gestel, so vroeë besprekings is noodsaaklik,” sê Elmarie.

Die geleenthede gaan baie gewild wees omdat dit ontwerp is om presies wat Stellenbosch en sy wyne behels, te vertoon. Van die hoogtepunte sluit onder meer ’n wynproe van plaaslike wyne oor vyf dekades in. Stellenbosch-wynroetes vier vanjaar sy 50ste herdenking en die geleentheid sal die roete se evolusie met ’n wynproe van wyne van die 1970’s tot nou, vier.

’n Ander wonderlike feesgeleentheid word deur die streek se Cabernet Collective gehou. Stellenbosch is bekend vir sy cabernet sauvignon en ’n wye keuse sal beskikbaar wees by ’n sonsak-deurstap proe van huidige en ouer oesjare wat deur meer as 20 produsente aangebied sal word. Die Stellenbosch Cabernet Collective bied “Cabernet through the Ages” by Ernie Els Wyne se nuut opgeknapte besoekersentrum aan en is ’n unieke geleentheid om skaars ouer oesjare – wat selde aan die publiek beskikbaar is – te vergelyk. Dis ’n móét vir alle cab-entoesiaste.

Wynliefhebbers sal ook danksy die Old Vine Project (OVP) die geleentheid kry om wyne van Suid-Afrika se ou wingerde te proe. ’n Meesterklas met ’n vergelykende proe van ou wingerd chenin blanc van verskeie streke, sal gevolg word deur ’n middagete deur sjef Craig Cormack.

Die OVP sal ook gedurende die fees ’n deurstap wynproe aanbied, waar wyne van sy Stellenbosch-lede geproe kan word.

Die kollig sal op nog ’n Suid-Afrikaanse kampioen-wynkultivar val by ’n aandete getiteld “Celebrate Chenin Blanc”, wat deur Jeff Grier, die wynkenner en Chenin Blanc Assosiasie se ondervoorsitter, saam met die spesiale gas, die wynspesialis, Michael Fridjhon, aangebied word. Die aandete is ’n viergang maaltyd deur sjef George Jardine voorberei.

Daar word ook ’n baie spesiale aandete aangebied om Stellenbosch-wynroetes se mylpaal herdenking te vier. Plase wat deurslaggewend was in wat die land se eerste toeriste-georiënteerde wynontdekkingsroete geword het, sal voor in die koor wees by Bertus Basson se Eike restaurant. Familielede en kollegas van die oorspronklike stigters van Simonsig, Spier en Delheim, sal stories oor ’n driegang maaltyd en wyne deel.

Om die goue 50ste herdenking van Cap Classique te vier, neem die Cap Classique Producers Association en Simonsig-wynlandgoed hande om ’n informele deurstapwynproe op die kelder se grasperk aan te bied. Altesaam 20 produsente sal meer as 50 wyne te proe aanbied. Daar sal lewendige musiek en kostrokke ook wees.

Nog meer pret wag by ’n proe wat heel gevat Big Bottles, Bowties & Braaibroodjies genoem word. Jy het reg geraai, daar sal uit magnums (1,5 liter) en groter bottels geproe word. ’n Lekker tong-in-die kies toevoeging tot hierdie baie informele geleentheid, vereis dat besoekers elkeen ’n strikdas moet dra – selfs al daag hulle in ’n kortbroek op.

Top plaaslike sjefs sal hul weergawes van die geliefde Suid-Afrikaanse braaibroodjie oor die kole berei en ’n paar minder bekende wynprodusente sal hul wyne te proe aanbied.

Ander geleenthede op plase gedurende Wine Town Stellenbosch sluit in:

  • First Sundays lewendige musiek by Neethlingshof;
  • Wine Down in Wine Town by Muratie;
  • Skilpadvlei Oppieplaas, ’n deurstap proegeleentheid;
  • Lanzerac Oppieplaas, ’n mini-pinotage-fees;
  • ’n Piekniek-styl Sondagbraai by Spier; en
  • ’n Wynmaker middagete by Waterford Wines, aangebied deur die Upper Blaauwklippen Collective.
  •  

    Die Stellenbosch Cabernet Collective bied “Cabernet through the Ages” by Ernie Els Wyne se nuut opgeknapte besoekersentrum aan.

     

 

 

 

 

 

 

Ddie dorp se immergewilde Straat Soiree-geleenthede, word op Woensdag 10 November,  24 November en 8 Desember gehou.