Veritas-toekennings: Spier-wyne palm rekordhoeveelheid Veritas dubbelgoues in
Spier-wyne het weggestap met die top trofee by die 2021 Veritas-toekennings vir sy 2018 Spier Creative Block 5, ʼn Bordeaux-styl versnit – waar ʼn rekord aantal dubbelgoud-medaljes oorhandig is.
Ander sterre van die geleentheid was KWV en Distell, wat elk ses dubbelgoud vir hulle wyne verower het, met Kleine Zalze en Spier kort op hul hakke met vier dubbelgoud elk. KWV het ook top louere in die brandewyn-kategorie ingeoes met vier dubbelgoud, wat ingesluit het die eerste 100-punt brandewyn wat ooit ingeskryf is, die KWV 15 Year Alambic Blend Potketel Brandewyn. Hoogtepunt in die wyn-kategorie is die De Grendel Shiraz 2018, in ʼn 1.5l-bottel, wat die eerste wyn was wat 98 punte gekry het.
Die uitslae is, soos verlede jaar, by ʼn informele middagete in die Paarl aangekondig en het 88 dubbelgoud- en 147 goud-toekennings ingesluit – te midde van ʼn atmosfeer van opwinding oor die bekroonde wyne en brandewyne ná die afgelope twee verlammende jare weens die Covid-19-pandemie se beperkings.
Die hoogtepunt van die geleentheid – wat onder streng Covid-19-protokolle by die Val de Vie-landgoed gehou is – was die oorhandiging van die Duimpie Bayly Veritas Vertex-toekenning vir die algehele kampioenwyn uit 1 300 inskrywings vanjaar, aan Spier-keldermeester Johan Jordaan.
Die 2018 Spier Creative Block 5-versnit het vir hom die “hoogste punt” (vertex), trofee van handgemaakte glas besorg, vernoem na die legendariese bedryfsrolspeler Duimpie Bayly wat in Augustus oorlede is. Dit is die tweede keer dat ʼn rooiwyn hierdie top trofee inpalm sedert die instelling daarvan in 2017 onder die vaandel van die Vertex-toekenning, asook die tweede Bordeaux-stylversnit wat dít vermag. Dit is ook die tweede keer dat Spier met die trofee wegstap. Al die dubbelgoudwyne, met die uitsondering van Vvrsterkte- en museumklasmedaljes, word op die laaste dag deur ‘n nuwe paneel beoordeel vir die toekenning.
KWV en Distell het vanjaar uitnemende uitslae behaal, met ses dubbelgoud elk – terwyl KWV ook 10 goud gewen het, vier meer as Distell se ses goud. Kleine Zalze en Spier het kort op hulle hakke gevolg met vier dubbelgoud en vyf goud elk.
Punte
Brekende nuus is by die toekenningsfunksie aangekondig, naamlik dat verbruikers voortaan die geleentheid sal hê om meer inligting op die wenners van dubbelgoud en goud se bottels te lees. Die toekenningsplakkers sal nou die punte wat die betrokke wyn van die beoordelaars gekry het, vertoon. Die puntetellings van dubbelgoud wissel tussen 93 – 100 en dié van goud, tussen 90 – 92.
Die Veritas-voorsitter, Christo Pienaar, het gesê: “Ons glo dat deur die werklike punte van hierdie bekroonde wyne te openbaar, dit verdere krediet aan die wynmakers en hul spanne, insluitend die wingerdboukundiges, sal verleen.”
Verbruikers kan die wyne wat Veritas-medaljes losgeslaan het met vertroue aanskaf, aangesien al die inskrywings deur die SA Wynbedryf Inligting en Stelsels (Sawis) gemoniteer word om aan die kompetisie se streng reëls te voldoen. Dít sluit verifiëring van die toepaslike dokumente in, asook besonderhede oor bottelering en etikettering as Wyn van Oorsprong.
Marathon-beoordeling
Die Veritas-toekennings het vanjaar byna 1 300 inskrywings gelok, wat deur ʼn gesaghebbende jurie van 64 plaaslike spesialiste gedurende ʼn vyfdaagse blindeproesessie beoordeel is. Die afgeskaalde panele het uit drie lede elk bestaan, met streng Covid-19-protokolle wat toegepas is. Weens die huidige reisbeperkings het geen internasionale beoordelaars vanjaar deelgeneem nie.
Veritas het verlede jaar al ʼn toonaangewende sanitasiestelsel vir wynbeoordelaars geïmplementeer – in samewerking met Tharo Wine – deur gevorderde ultra-violet en osoon lug-en-oppervlak sanitasietegnieke in te span. Dít benewens omvattende, spesiaal-geformuleerde protokolle om die mees virus-veilige omgewing moontlik vir almal betrokke te verseker. Die volledige beoordelingsproses is deur LDP-ouditeure geoudit.
Aanlyn wynaankope
Verbruikers kan nou die bekroonde wyne deur die Veritas-toep aankoop. Die Veritas-ondervoorsitter, Bennie Howard, het gesê dat hy in sy noppies is met die fenomenale sukses van die Vino Veritas App by CTP. “Ons het dit verlede jaar van stapel gestuur om verbruikers in staat te stel om die bekroonde produkte direk aanlyn te bestel vir aflewering op hul drumpel deur ons vennoot, GetWine, en verbruikers was baie ingenome met hierdie diens.”
Dit beteken dat die wyn-en-brandewynkoperspubliek die toep op hul slimfone of rekenaars kan aflaai, die uitslae onmiddellik kan sien en enige van die 235 produkte wat dubbelgoud of goud by vanjaar se Veritas-toekennings gewen het, kan bestel. Registreer op Android of Google met woorde “VinoVeritas by CTP”.
Openbare wynproeë
Goeie nuus vir wynverbruikers is dat ʼn aantal proeë van dubbelgoud- en goud-wenners vir die volgende vier maande beplan word, afhangend van beperkings van toepassing onder die jongste Covid-maatreëls. Hierdie proeë sal in die pers, sosiale media en deur die Veritas-webwerf bekend gemaak word.
Lewende legendes vereer
Die Veritas-tradisie om jaarliks sedert 2009 bedryfsleiers te vereer, is vanjaar voortgesit nadat dit verlede jaar teruggehou was weens die Covid-maatreëls. Daarvolgens het sewe leiersfigure die 2021 Lewende Legende-ererol ontvang vir hul toewyding tot en geesdrif en passie vir die plaaslike wyn- en brandewynbedrywe. Hulle is Kowie du Toit, Celia Gilloway, Marius Labuschagne, Carel Nel, Johan Pienaar, Erica Platter en Don Tooth.
Die toppresteerders was:
WYN
KWV – ses Dubbelgoud (benewens 10 Goud):
KWV The Mentors Perold 2017
KWV The Mentors Perold 2018
KWV The Mentors Canvas Western Cape 2019
KWV The Mentors Cabernet Franc 2018
KWV The Mentors Orchestra 2011
KWV Roodeberg Dr Charles Niehaus 2017
Distell – ses Dubbelgoud (insluitend ses Goud):
Durbanville Hills Blanc de Blancs Cap Classique 2017
Durbanville Hills The Tangram White Blend 2016
Durbanville Hills Rhinofields Noble Late Harvest 2014
Durbanville Hills Caapmans Cabernet Sauvignon/Merlot 2006
Nederburg Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest 2012
Zonnebloem Laureat Cabernet Sauvignon/Merlot 2018
Kleine Zalze – vier Dubbelgoud (vyf Goud):
Kleine Zalze Family Reserve Sur Lie Sauvignon Blanc 2021
Kleine Zalze Family Reserve Sur Lie Sauvignon Blanc 2019
Kleine Zalze Family Reserve Sur Lie Sauvignon Blanc 2015
Kleine Zalze Family Reserve Cabernet Sauvignon 2007
Spier – vier Dubbelgoud (vyf Goud):
Spier Frans K Smit White 2018
Spier 21 Gables Chenin Blanc 2020
Spier 21 Gables Chenin Blanc 2015
Spier Creative Block 5 Cabernet Sauvignon/Merlot/Cabernet Franc/Petit Verdot/Malbec 2018
Drie wynmakerye het ook uitgeblink met drie dubbelgoud elk benewens goud, naamlik Benguela Cove (en twee goud), Flagstone (een goud) en Ghost Corner (een goud). Sewe wynmakerye het elk twee fubbelgoud gekry: Graham Beck, Simonsig, Glenelly, Groot Constantia, Babylonstoren, Belle Rebelle en Stellenbosch Hills.
In die klas vir gesertifiseerde erfeniswingerdwyne, het die 2020 Bellingham The Bernard Series Old Vine Chenin Blanc Limited Release, ʼn dubbelgoud-medalje verower in die afdeling vir wingerde ouer as 35 jaar.
Brandewyn
KWV het in die brandewyn-kategorie presteer met die eerste 100-punt telling ooit vir ʼn brandewyn, met vier dubbelgoud en een goud. Distell was kort op hul hakke in tweede plek met drie dubbelgoud en een goud.
KWV se dubbelgoud was:
KWV 3 Year Old Finest Blend
KWV 10 Year Old Potstill Brandy
KWV 15 Year Alambic Blend Potstill Brandy –100 punte
KWV 20 Year Potstill Brandy
Gefortifiseerde wyn
Nuy het die voortou geneem met vier dubbelgoud en een goud, gevolg deur Boplaas met drie dubbelgoud en twee goud, en Van Loveren se een dubbelgoud.
Nuy Wynkelder – dubbelgoud:
Nuy Wit Muskadel 2007
Nuy Wit Muskadel 2013
Nuy Rooi Muskadel 1990
Nuy Barbiri Idro Vatverouderde Rooi Muskadel 2015
Klasse
Die beste presteerder in die klas vir tien wyne of minder was Flagstone Wynmakery, terwyl KWV die beste presteerder was vir meer as tien ingeskrewe wyne. Gefortifiseerde wyne, Museum- en Brandewyn-klas medaljes word uitgesluit by hierdie berekening.
Kategorieleiers
Die Veritas-toekennings het vanjaar 1 285 medalje-aanspraakmakers gehad. Altesaam 1 108 medaljes is toegeken – 88 dubbelgoud, 147 goud, 199 silwer uitstaande, 411 silwer en 263 brons.
Die sewe mees mededingende kategorieë volgens inskrywings ontvang, was: Rooi Versnitte (166), Sauvignon Blanc (150), Cabernet Sauvignon (110), Shiraz (107), Chenin Blanc (104), Chardonnay (93) en Pinotage (86). Altesaam 24 brandewyne is ingeskryf in twee kategorieë: Standaard en Potketel.
Top punte onder die Dubbelgoud-medaljes vir Wyn was Rooi Versnitte (12), Sauvignon Blanc (11), Cabernet Sauvignon, Chenin Blanc en Cap Classique (6), Chardonnay (5), Pinotage en Museum Wit (4), Museum Rooi (3), en Merlot, Museum NLH, Shiraz en Wit Versnitte 2 medaljes elk.
ʼn Dubbelgoud-medalje is ook toegeken vir Cabernet Franc, Cap Classique Rosé, Erfenis Wingerde Wyne, Museum Cap Classique, Ander Rooi Kultivars, Riesling en Sémillon.
Dubbelgoud vir Versterkte Wyne: Kaapse Styl en Rooi Muskadel (2 elk) en 1 medalje elk aan Museum Cape Vintage, Museum Rooi Dessertwyn, Museum Wit Dessertwyn en Wit Muskadel.
Potketel Brandewyne het uitgeblink met 7 Dubbelgoud en Standaard Brandewyn (1)
Onder Goud, het Rooi (30) voorgeloop, gevolg deur Sauvignon Blanc (23), Merlot (10), Cabernet Sauvignon en Cap Classique met 8 medaljes elk, dan Chardonnay (7), Chenin Blanc (5), Shiraz (5), Museum: Witwyn, Pinotage, Potketel Brandewyne en Wit Versnitte met 4 medaljes elk. Drie medaljes het gegaan aan Cap Classique Rosé, Cape Style, Colombar en Dessertwyn, gevolg deur twee medaljes elk vir Cinsaut, Museum Rooi, Edellaatoes, Standaard Brandewyne en Viognier. Een elk toegeken vir Cabernet Franc, Malbec, Museum Cap Classique, Museum Cape Vintage, Museum Dessert Witwyn, Natuurlike Soet, Ander Rooi Kultivars, Pinot Noir, Rooi Muskadel, Riesling, Strooiwyn, Wit Muskadel en Witwyn van Rooi Kultivars.