Kompetisie wys goeie stand van SA-muskadelwyne

Muskadel SA vereer ‘n indrukwekkende 16 wenners

Suid-Afrikaanse muskadel-produsente het rede om fees te vier, met Muskadel SA wat ‘n totaal van 16 wenners by hul 2024-toekennings vereer het. Ses platinum- en tien goue toekennings vir hierdie edelkultivar is Donderdag 6 Junie 2024 aangekondig by die 19de Muskadel SA-toekennings, geborg deur Vinochem, wat by Noop Restaurant in die Paarl aangebied is.

Die resultate weerspieël die beoordelaars se mening dat die standaard van inskrywings vanjaar in álle klasse besonders hoog was. Die sameroeper van die beoordelaarspaneel, Jaco Potgieter, wynmaker van Douglas Green Wines, was veral verheug oor die hoë getal én gehalte van ouer oesjare wat ingeskryf is.

“Hierdie ouer muskadelwyne het pragtig ontwikkel, wat ’n trotse prestasie is wat ons hele wynbedryf moet omhels en bevorder,” sê Potgieter.

Saam met Potgieter op die paneel was die Kaapse Wynmeester Raymond Noppé, Melissa Rhode, bestuurder van wynaankope by Heineken Beverages, Anton Swarts, Kaapse Wynmeester en wynmaker van Spier Wine Farm en Hermias Volgraaff, wynmaker van Montagu Wines. Die inskrywings is blind geproe en volgens ’n beproefde puntestelsel beoordeel. Die eiesoortigheid van die verpakking het ook bygedra tot die finale puntetelling.

PLATINUM TOEKENNINGS

Vyf vervaardigers het altesaam ses platinumtoekennings ontvang:

  • Mont Blois-wynlandgoed van die Robertson-wynvallei het uitgeblink as die toppresteerder en het twee platinumtoekennings ontvang vir hul Mont Blois Estate Muscadel Harpie 2016 en hul Mont Blois Estate Muscadel Pomphuis 2017.
  • Nuy Winery van die Nuyvallei naby Worcester het platinum gewen vir hul Barbieri Idro Red Muscadel 2016.
  • Thelema Mountain Vineyards, van Helshoogte, Stellenbosch, het platinum gewen vir hul Thelema Gargantua N/V, ‘n muskadel gemaak van ‘n enkele wingerd wat in 1986 op Thelema geplant is en 18 tot 21 jaar in Franse eikehoutvate verouder is voor bottelering.
  • Die Swartland-pionier AA Badenhorst Family Wines het platinum gewen vir The Saldanha Wine and Spirits Co. Hanepoot 2014.
  • Badsberg Wine Cellar naby Rawsonville in die Breederiviervallei het platinum gewen vir hul Hanepoot Jerepigo 2023, wat bewys dat jong wyne net so goed kan presteer soos hul ouer eweknieë.

GOUE TOEKENNINGS

Agt produsente het altesaam tien goue toekennings ontvang:

  • ‘n Volgehoue presteerder, Du Toitskloof Wines van die Breedekloofvallei, het twee goue toekennings ontvang vir hul Hanepoot Jerepigo 2021 en Du Toitskloof Red Muscadel 2020.
  • Klawer Cellars, die poort na die Olifantsriviervallei, het twee goue toekennings ontvang vir hul Klawer Cellars White Muscadel 2020 en Klawer Cellars Red Muscadel 2021.
  • Vanuit die Robertson-wynvallei het Le Grand Chasseur goud gewen vir hul Habata White Muscadel 2020 en Clairevaux Family Wines vir hul Red Muscadel 2023.
  • Aan de Doorns, van die Worcester-streek, het goud gewen vir hul Muscadel Sweet Red 2021.
  • Montagu Winery, geleë op die grens van die Klein Karoo, het goud gewen vir hul White Muscadel 2024.
  • Uit die Noord-Kaap het Orange River Cellars goud vir hul White Muscadel 2023 verower.
  • Constantia Uitsig het goud gewen vir hul Gravita 2020.

Die familie van muskaatdruiwe word nie net deur Suid-Afrikaners nie, maar ook deur wynliefhebbers regoor die wêreld hoog aangeprys. Muskadel SA, wat wynkelders en individue verteenwoordig, het ten doel om bewustheid en gehalte te verhoog in die produsering, verpakking en bevordering van topgehalte gefortifiseerde weergawes van hierdie edelkultivar.

Die groot getal en hoë gehalte van inskrywings wat vanjaar ontvang is, getuig van ‘n gesonde toestand van muskadel in Suid-Afrika én voorspel ‘n gesonde toekoms. Só sê Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA.

“Slegs ‘n uitgesoekte aantal produkte word vir hierdie kompetisie ingeskryf, maar ons het vanjaar meer inskrywings ontvang, en ons probeer altyd nuwe inskrywings lok. Dit is opwindend vir die verbruik sowel as die voortbestaan ​​van muskadel, selfs al geniet verbruikers dit net by geleentheid,” sê Swiegers.

Vinochem het die Muskadel SA-toekennings vir die tweede jaar geborg. “Suid-Afrikaanse muskadel is van die beste gefortifiseerde wyn ter wêreld en behoort meer erkenning te ontvang,” sê Marlee Malan van Vinochem. “Ons vertrou dat ons ondersteuning vir die bedryf ons muskadel-produsente sal help om ‘n wyer mark te bereik. Ons moedig verbruikers aan om hierdie wenwyne op die proef te stel, kyk uit vir die goue of platinum Muskadel SA-plakkers op die bottels.”

Die wenners van Muskadel-SA se jaarlikse kompetisie vir 2024 is, agter (van links) Henri Swiegers (Muskadel SA Voorsitter), Sean de Necker (Klawer Cellars), Herman le Roux (Orange River Cellars), Shawn Thompson (Du Toitskloof Wines), Rudi Schultz (Thelema), Marleen Malan (Vinochem) en Jaco van der Merwe (Clairevaux). In die middel is Jaco Booysen (Badsberg), Christo Basson (Nuy Winery), Selma Willemse (AA Badenhorst Family Wines), Paul Burger (Nuy Winery) en Carel Botha (Le Grand Chasseur). Voor is Estian de Wet (Constantia Uitsig), Chris Geldenhuys (Aan de Doorns) en Ernst Bruwer (Mont Blois). Fotograaf: Julian Kruger