Moeilike jaar wag weer vir wynbedryf

SA-wynbedryf moet innoverend wees in 2023

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet voorberei vir nog ‘n moeilike jaar, met die plaaslike en internasionale klimate wat steeds baie onsekerheid veroorsaak.

Sprekers by die 17de Nedbank Vinpro-inligtingsdag met die tema Connect & Grow, wat onlangs by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou is, was eerlik oor die dringende ekonomiese en landbou-realiteite wat die wynbedryf tans in die gesig staar, terwyl deelnemers aangemoedig is om hul verhoudings te benut ten einde die huidige werklikheid te versag. Nagenoeg 600 wynbedryfkundiges het die geleentheid bygewoon, wat vir die 16de agtereenvolgende jaar deur Nedbank geborg is.

“Dit is drie lang jare sedert die bedryf persoonlik op hierdie skaal kon byeenkom en as ek een ding in hierdie tyd geleer het, is dit beslis dat daar geen sekerheid in hierdie wêreld is nie,” sê Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, terwyl hy die noodsaaklikheid van mede-eienaarskap beklemtoon.

In aansluiting by Smuts besin Nedbank se uitvoerende hoof van handelsbankdienste, Herman de Kock, dat niks meer as vanselfsprekend aanvaar kan word nie – veral nie geleenthede vir aansluiting nie. “Ons glo dat dit as ‘n bank nie net oor die finansiële bydrae gaan nie – dit gaan oor die verbintenis met die bedryf om sektorgroei te help fasiliteer,” sê hy.

Besigheidsbestuur 

Die Nedbank-ekonoom, Isaac Matshego, het ‘n somber prentjie van Suid-Afrika se postpandemiese ekonomie geskets, met beide dalende beleggings en vinnig stygende werkloosheid.

“Ons is tans in die ergste afswaai in ons geskiedenis,” sê hy, en beklemtoon dat hierdie “die langste en diepste afswaai is, met die swakste begin van die dekade in die onlangse geskiedenis”.

Volgehoue herstel is moeilik weens globale sowel as veral plaaslike omstandighede en sal verder vertraag word deur voortdurende kragonderbrekings. “Dit wil voorkom asof fase 6-beurtkrag die norm vir 2023 sal wees. Ons het hierdie fase vanjaar meer as enige ander fase beleef. Die selftoegediende skade van beurtkrag aan die ekonomie sal beteken dat ons die internasionale beleggings wat van die wêreldwye ekonomiese opswaai in 2024 verwag word, kan misloop.

“Belegging bly swak weens lae sakevertroue. In vergelyking met ons eweknieë in die ontluikende mark het Suid-Afrika se inflasiekoers egter nie so vinnig opgeskiet nie en bly die Reserwebank daartoe verbind om inflasie te bestuur,” sluit Matshego af.

Wen in wyn

“Dit is tyd om die storm te bestuur wat ons as ‘n bedryf in die gesig staar,” sê Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson. “Ons word gekniehalter deur politieke ideologieë wat nie uitkomsgebaseerd is nie, beperkte aanspreeklikheid aanvaar en geen dringendheid het nie – en dit in ‘n tyd waarin ons wêreldwye mededingers baie meer aggressief is in hul uitvoering.”

Die afgelope drie jaar het krisis op krisis opgelewer. Die wynbedryf moet stabiliteit binne die ontwrigting van die plaaslike en globale handel skep omdat dít die toekoms van Suid-Afrikaanse wyn bedreig. “Ons gaan aanhou om ons mededingendheid te verloor as ons nie nóú optree nie,” sê Basson. “Premiumisering is die sleutel tot ons herstel as bedryf, gegewe die groot kostedruk op wynkeldervlak en die realiteit dat nie alle bykomende koste deur die mark geabsorbeer sal kan word nie. Kostestygings op keldervlak sal ‘n delikate balans moet wees.”

Na aanleiding van ‘n bedryfstrategie, befondsings- en ondersteuningsdienste­hersieningsproses, sê Basson die bedryf beoog om die storie van Suid-Afrikaanse wyn te verander deur soveel moontlik bedryfsdienste onder ‘n enkele sambreel, bekend as SA Wine NPC, te konsolideer. Doelwitte van SA Wine sluit in die skepping van een stem vir die bedryf met die koördinering van alle aktiwiteite rondom ‘n eenvormige bedryfstrategie, met een punt van aanspreeklikheid wat aan sy algehele strategie en behoeftes te voldoen.

Kleiner oes met menigte uitdagings

Die 2023-oes sal na verwagting aansienlik kleiner as vorige jare wees met verskeie faktore wat gelei het tot die vierde laagste oes in die afgelope 17 jaar.

“Hoewel daar voldoende besproeiing ná die oes in 2022 was ten spyte van laer damvlakke, het produsente voortgesette besproeiingsdruk met beurtkrag ondervind,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro-konsultasiedienste. “Bykomende infrastruktuurkoste vir permanente en mobiele dieselopwekkers was ook ’n harde werklikheid wat baie produsente in die gesig gestaar het.”

Droë en warm toestande gedurende die groeiseisoen het verdere druk bygevoeg, gesien in die ontwrigting van veraison en sonbrandskade. Haelskade in sommige streke en wind in ander, tesame met ‘n toename in donsskimmel in die algemeen, dra by tot die druk wat produsente reeds ervaar. Bykomende arbeid, asook spuit- en dieselkoste om bogenoemde toestande te versag, het ‘n baie duur seisoen tot gevolg gehad.

“Die enigste positiewe uit hierdie seisoen is dat ons ons ondernemings met bekwame wynbedryfpersoneel kan en moet verbind, aangesien maatskappye beter in verbintenis presteer.”

Vinnige resultate

Helen Kock van Vinimark skets ‘n positiewe prentjie van die plaaslike mark vir groei en innovasie en beveel die bedryf aan om na kreatiewe en strategiese oplossings te kyk om winsgewendheid vir handelsmerke te verhoog deur op ʼn innoverende manier voete in die wynkategorie in te trek en die bestaande reeks te laat groei.

Sy doen ‘n beroep op handelsmerke om verhoudings met plaaslike verspreiders te verbeter. “Verspreiders kan handelsmerke lei om te weet wie en wat hulle is, om geleenthede beter te verstaan terwyl hulle die handel ontleed om verkoopsplanne behoorlik uit te voer.

“Die rede waarom handelsmerke misluk, is weens ‘n gebrek aan fokus, aanspreeklikheid, eenvoud of deursigtigheid. Om te verstaan wat jou handelsmerk se fokus is; wie aanspreeklik is vir die werk; hoe jy eenvoudige handelsmerkdoelwitte sal bereik en hoekom jou handelsmerk doen wat dit doen, sal mettertyd tot deursigtigheid en konsekwentheid lei en die wynkategorie laat groei om meer handelsmerkleiers te huisves.”

Moontlikhede in oorvloed 

Siobhan Thompson, voorsitter van Wines of South Africa (WoSA), sê die behoefte op fokus moet met beperkte hulpbronne bestuur word om die vennootskappe wat reeds met sleutelmarkte soos die VK gebou is, te benut om waardegerigte groei te bewerkstellig.

Thompson beklemtoon waardegroei bo volumegroei en sê die vordering met die premiumisering van Suid-Afrikaanse wyn in die VK het ’n goeie beeld van SA wyne geskep, al kan ons nie altyd ons wyne by die mark uitkry nie.

“Wees trots, maar nie selfvoldaan nie,” sê David Cartwright van Seckford UK. “Suid-Afrikaanse wyn in die VK het die afgelope sewe jaar drasties in volume en waarde gegroei. Met vertroue en deursigtigheid is dit belangrik om te weet wat in die mark gebeur en die kennis met jou kliënte te deel. Dit is noodsaaklik vir die sukses van SA wyn as ‘n kategorie.”

In aansluiting met Basson en Thompson se voorstelle vir die premiumisering van Suid-Afrikaanse wyn, skets Cartwright ‘n optimistiese prentjie. “Daar is vele geleenthede in die £10+-kategorie vir groei, aangesien dit tans slegs 1,7% van die markaandeel beslaan, ondanks die feit dat dit die grootste groei-area vir Suid-Afrika is.”

Vertroue in besigheidsbelegging 

Michael Jordaan van Montegrey het die dag op ‘n positiewe noot afgesluit. “Ek bly geesdriftig oor beleggings in die wynbedryf ten spyte van trae wêreldwye ekonomiese groei en die hoë inflasie. Ek glo ook dit is belangrik om saam met entrepreneurs te werk, want onder al die neerdrukkende data lê geleenthede, veerkragtigheid en vindingrykheid.

“Geleenthede vir innovasie bestaan ook,” sê hy. “Hoewel ons ekonomiese vooruitsigte swak is, is Suid-Afrika relatief veerkragtig teen inflasie en lyk dit dus steeds goed vir buitelandse beleggers. As die afgelope paar jaar enige aanduiding is, is die wynbedryf lewenskragtig en moet Suid-Afrika steeds vir sy premiumwyne bemark word. Innovasie is die pad vorentoe. Die bedryf moet omswaai en meer op groeigeleenthede fokus.”

Siobhan Thompson het beklemtoon dat waardegroei bo volumegroei die fokuspunt moet wees.