Natuurlik is die beste

Perdeberg Natuurlik huldig natuur

As bewys van hul verbintenis tot bewaring en volhoubaarheid het Perdeberg Wines pas die jongste toevoeging tot hul uiteenlopende portefeulje bekend gestel, Natuurlik. Hierdie organies geproduseerde chenin blanc van die 2022-oesjaar sluit aan by die toenemende oproep om Moeder Natuur en al haar elemente, wat so ’n integrale deel is van die produksie van wyn van uitsonderlike gehalte, te bewaar en ondersteun.

Perdeberg Wines is geleë aan die voet van die majestieuse Paardeberg wat oor die wynmakery se wingerde wag hou en word omring deur velde vol inheemse flora en fauna. Dit sluit in madeliefies, peerboombloeisels en botterblomme. Hierdie lewendige ekosisteem is ook die tuiste van plaaslike “inwoners” soos protea-saadeters, liewenheersbesies, paddas en slakke. Hierdie landskap is ’n voortdurende herinnering vir wynmakers van hul groot verantwoordelikheid as bewaarders van die natuur. Dit word perfek vasgevang in die bottel se opvallende en pragtige hand-geïllustreerde etiket.

Die inspirasie vir die etiket kom van Perdeberg se biodiversiteitspogings in die wingerde.

“As deel van ons pogings om ons wingerde op ’n volhoubare manier te bestuur, gebruik ons natuurlike vyande om byvoorbeeld witluis te beheer,” sê Albertus Louw, keldermeester.

“Hierdie natuurlike vyande is klein insekte wat witluis natuurlik beheer sonder dat ons insekdoders hoef te gebruik. Dit laat ons toe om ’n natuurlik volhoubare omgewing vir die toekoms te skep.”

Albertus Louw, keldermeester.

Verder is daar nie net ’n vraag na organiese wyn in Suid-Afrika nie, maar is daar ’n groeiende tendens in lande in Skandinawië, Wes-Europa, die Verenigde Koninkryk en Noord-Amerika onder jonger wyn-entoesiaste wat na gesonder opsies soek. Met gesondheid en volhoubaarheid wat ’n belangrike rol speel, is daar ’n geleentheid vir organiese chenin blanc wat sowel die omgewing as verbruikers se gesondheid respekteer, om te groei onder verbruikers.

“Natuurlik” is ’n Afrikaanse woord wat dui op die natuurlike aard van die wynmaakproses en dien natuurlik ook as bevestiging daarvan. Dit moet natuurlik ook voor die hand liggend wees dat die omgewing vir toekomstige geslagte beskerm word, en natuurlik speel Perdeberg hul deel … op die heerlikste manier.

Die Perdeberg Natuurlik Organic Chenin Blanc 2022 het ’n sagte groen-geel kleur en toon aromas van sitrus, lemmetjie, witpeer en pomelo. In die mond is die wyn ryk en rond met ’n vars suur. Hierdie is die perfekte somerwyn, ideaal op sy eie of saam met pasta of pizza.

Die Perdeberg Natuurlik Organic Chenin Blanc 2022 is beskikbaar by die kelder teen R95 per bottel, aanlyn by Perdeberg’s Online Wine Shop of by uitgesoekte kleinhandelaars landwyd.

  • Perdeberg Wines is geleë aan die voet van die Paardeberg naby die Paarl, een van die beste wynbougebiede van die Kaap. Die eienskap wat hierdie gebied die meeste onderskei van ander is die gebruik van hoofsaaklik drooglandwingerde wat geen besproeiing ontvang nie. Hierdie wingerde moet moeilike groeitoestande oorkom en lewer gevolglik klein korreltjies met gekonsentreerde geur en kleur wat lei tot die maak van uitmuntende wyne. 

Die kelder se ryk geskiedenis dateer terug tot 1941 toe ’n visionêre boer, Jan Rossouw, voorgestel het dat die streek se boere hul eie wyn begin maak. Perdeberg het sy naam te danke aan die groot getalle Kaapse bergsebras wat eens in die area gewei het en verkeerdelik aangesien is vir wilde perde deur die plaaslike inwoners.

Met wingerde van oor die 3 000 hektaar, hoofsaaklik in die Paarl- en Swartland-omgewings, het Perdeberg die voordeel van verskillende mikroklimate en ’n groot verskeidenheid grondsoorte. Die natuurlike variasie in weer, grond, dreinering en hoogte van wingerd tot wingerd stel die kelder in staat om ’n wye reeks wyne met kenmerkende gehalte en karakter te maak.

In die kelder word wyn gemaak deur die sinergie van kuns, intuïsie en wetenskap om die beste uitdrukking te gee van dit wat uit die wingerde gehaal is. Hier word ’n wynlandgoed-geïnspireerde proses gevolg, insluitende intensiewe wingerdbestuur, die pluk van druiwe met die hand in klein kratte, klein parsmasjiene en veroudering in vate om uitsonderlike gehalte te bewerkstellig.

Die inspirasie vir die etiket kom van Perdeberg se biodiversiteitspogings in die wingerde.