Voorste Nieu-Seeland-wynmaker kom hou oog op SA Sauvignon Blanc
Emile Joubert
Sauvignon blanc gaan in die kollig wees by Suid-Afrika se voorste wynkompetisie. Vir die eerste keer in die bestaan van die Michelangelo International Wine and Spirits Awards sal die kompetisie ‘n Nieu-Seelandse Sauvignon Blanc-kenner op sy beoordelaarspaneel verwelkom. Ben Glover van Marlborough, die tuiste van sommige van die wêreld se beste en gewildste Sauvignon Blanc-wyne, gaan in Augustus by die paneel internasionale wynbeoordelaars aansluit wat inskrywings vir vanjaar se Michelangelo sal assesseer.
Glover was voorheen die hoofwymaker by Wither Hills, een van Marborough se baanbreker sauvignon blanc-wynkelders, asook voormalige Nieu-Seelandse hoofwynmaker vir die multinasionale wynreus Accolade. Hy staan tans aan die stuur van sy familiewynonderneming Glover Family Vineyards en die Zephyr-wynreeks. Glover is ook ‘n mede-eienaar van The Coterie, ‘n organiese en samewerkende kleinskaalwynmaakfasiliteit vir eendersdenkende wynprodusente.
Hy is ook ‘n gerespekteerde wynbeoordelaar met meer as 25 jaar se internasionale beoordelingservaring. Hy was voorheen die voorsitter van die Bragato Wine Show wat enkelwingerdwynverbouing bevorder en is tans die ondervoorsitter van die New Zealand Wine of the Year-kompetisie.
Volgens Glover sien hy baie daarna uit om Suid-Afrika te besoek as beoordelaar vir die Michelangelo-toekennings en die diversiteit en wynstyle regoor alle druifsoorte en streke te verstaan. En, natuurlik, om meer uit te vind oor die land se sauvignon blanc-bedryf.
“Dit is wonderlik om te weet dat sauvignon blanc in Suid-Afrika, net soos in Nieu-Seeland, die gewildste en topverkopende kultivar is, asook een van die grootste kategorieë wat ingekryf is vir die Michelangelo-toekennings,” sê Glover.
“My blootstelling aan wyne van Suid-Afrika is dalk beperk, maar ek het al wel ervaar dat die wyne goed gemaak word en oor ‘n tipiese geurprofiel beskik – die soort wat verbruikers regoor die wêreld lief maak vir hierdie druifsoort. Dit is ‘n groot voorreg om gevra te word om te beoordeel by die land se grootste wynkompetisie en aangesien Sauvignon Blanc een van die grootste kategorieë is, sal ek en die res van die paneel ‘n uitdagende taak hê.
“Dit is ‘n fantastiese geleentheid en ek sien geweldig baie uit daarna. Ek is ook gretig om vir ‘n rukkie in die Kaap aan te bly om ‘n paar wynvriende te besoek en die wingerde en wynkelders te sien. Daar was die afgelope tyd so baie verwikkelinge in Suid-Afrika, dat dit ‘n onontbeerlike bestemming geword het vir wynmense wat wil sien wat rondom die wêreld gebeur in terme van tendense.”
Lorraine Immelman, stigter en uitvoerende hoof van die Michelangelo Wine and Spirits Awards, sê dat ‘n Nieu-Seelandse sauvignon blanc-kenner spesifiek vir vanjaar se kompetisie uitgesoek is.
“Dit is ‘n baie belangrike kategorie vir Michelangelo aangesien sauvignon blanc Suid-Afrika se topverkoperwitwyn is en boonop die winsgewendste een in die uitvoermarkte,” sê sy.
“Michelangelo poog altyd om wynprodusente die beste beoordelaars te gee om spesifieke kategorieë en klasse te beoordeel en daarop kommentaar te lewer, om ons in staat te stel om nie net ‘n aanbieder van toekennings te wees nie, maar ook terugvoer te kan gee oor die beoordeelde produkte.
“Ons is baie bly om in Ben ‘n jong en hoogaangeskrewe wynmaker en gerespekteerde beoordelaar te hê om ons te help met die sauvignon blanc-beoordeling vanjaar,” sê sy. “Nieu-Seeland mag dalk tans ‘n voorsprong bo Suid-Afrika op die rugbyveld hê, maar wat sauvignon blanc betref, sal ek die voorspelling waag dat ‘n groot verrassing op ons Kiwi-beoordelaar wag.”