Vlagskip-reeks word in beperkte hoeveelhede én net in uitsonderlike jare produseer
’n Reeks beperkte hoeveelheid wyne, wat beloof om besonderse insigte in van Suid-Afrika se beste terroir in Stellenbosch te gee, is pas vrygestel. Die portefeulje, wat Sense of Place gedoop is, vertoon die uitdrukkings-diversiteit waartoe wingerde op hul kruin in staat is.
Dit neem trots die plek in as Stellenbosch Hills se vlagskip-versameling en die eerste wyne wat nou beskikbaar is, is ’n gehoute chenin blanc 2017, genaamd Kastanjeberg en ’n Kaapse versnit, Suikerboschrand 2015. Hulle word binnekort aangevul deur ’n MCC (Méthode Cap Classique).
“Ons is baie opgewonde oor hierdie reeks, want dit bied ons die geleentheid om die kollig op die kern van ons wingerd-kwaliteit te laat skyn. Ons is ook verheug om spesifiek hierdie wyne bekend te stel,” sê James Ochse, wynmaker. “Alhoewel beide gemaak is van wingerde wat deurlopend kwaliteit vrugte lewer, bestaan albei uit druifvariëteite wat hul basis in die Suid-Afrikaanse erfenis het.
“Hulle staan uit as Stellenbosch-wyne, maar ook as kwaliteit Suid-Afrikaanse wyne,” sê hy.
Sense of Place is waar die wynmaker se kuns waarlik tot uiting kom.
Kastanjeberg – kompleks en elegant
Hierdie gehoute chenin blanc het sy naam te danke aan die plaas waar dié unieke enkel-wingerdblok chenin blanc groei, hoog teen die hange wat oor Valsbaai uitkyk. Kastanje is ’n verwysing na die wilde kastaiingbome (Calodendrum capense), wat in die vroeë 1800’s aan die Kaap floreer het.
Die Kastanjeberg 2017 is ryk en kompleks en vertoon aangename aromas van steenvrug, heuning, gedroogde appelkose, viooltjies en vanielje eikehout-speserye. Die smaak is vol, met ’n goeie middel-smaak, wat gebalanseer word deur ’n romerige tekstuur en vars suur. Hierdie witwyn ontplof met peer- en perskegeure, tesame met skeutjies vanielje, amandels, met ’n talmende smaak.
“Die wyn is die perfekte pasmaat vir krakerige varklies, sowel as speseryagtige Asiese kos en roomdisse,” sê James.
Suikerboschrand – ’n glorieryke Kaapse versnit
Suikerboschrand 2015 kwalifiseer as ’n Kaapse versnit, met 33% wat deur die Suid-Afrikaanse pinotage-variëteit beslaan word. Dit sluit ook 29% shiraz, 14% cabernet sauvignon, 14% merlot en 10% petit verdot, in. Die wyn is vernoem na die endemiese suikerbos-protea (Protea repens) wat deel vorm van die Kaapse blommeryk.
Al die komponente is apart gemaak, voor dit versny en gebottelleer is.
Die resultaat vir hierdie eerste oesjaar is ’n volronde wyn met geure ryp bessievrug, donker sjokolade en sigaarboks. Die houtgeure van die keurig-uitgesoekte eikehoutvate, dra die wyn pragtig en ondersteun die struktuur.
Die tanniene verseker ’n talmende nasmaak met ’n skeutjie vars speserye en James merk dat dit op sy heel beste sal vertoon as dit met rooivleis – gebraai, gerook of gebak – of met romerige disse, bedien word.
Die storie agter Sense of Place
Die naam en ontwerp onderskryf die wyn se filosofie, sowel as die inhoud. Sense of Place is ’n top-gehalte reeks, bestem vir die connoisseur wat daarna smag om die individuele wingerd-komponente tot die wynmaker se beskikking, te verstaan.
Die reeks se verbintenis tot sy herkoms, word op die etiket beklemtoon en huldig die bande tussen wyn en die natuur. Die kunstige embleem verteenwoordig spesies wat op die plaas voorkom en is die breinkind van die Stellenbosch-gebaseerde Haumann Smal Design Studio.
Sense of Place is slegs in beperkte hoeveelhede beskikbaar en die wyn sal net in die jare wat die wingerde op hul beste vertoon, vrygestel word. “Die oesjaar sal deur die oesseisoen bepaal word,” sê James.
Streng vrug-seleksie en die beste kelderpraktyke word in die proses toegepas. “Hierdie wyne is die uitdrukking van passie. Hulle vertoon ons heel beste,” sê hy.
Kastanjeberg 2017 is te koop teen ongeveer R285 en die Suikerboschrand 2015, vir ongeveer R385.