SA Jongwynskou gaan weer voorste jongwyne vereer

Voornemende Jongwynsterre vir 2019 vir eerste keer binne kelder  beoordeel

Altesaam 1 455 voornemende sterre van die 2019-oesjaar ding mee om goue medaljes en trofeë by die SA Jongwynskou-beoordeling in die Nederburg-wynkelder in die Paarl vandeesweek wat van 22 tot 26 Julie gehou is.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die skou dat die beoordeling binne ʼn wynkelder plaasvind.

Die SA Jongwynskou, nou in sy 187ste jaar, is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld en dateer terug tot 1833.  Die wyne ding mee om 17 pragtrofeë in die verskillende klasse, met slegs een inskrywing wat bekroon sal word as die algehele kampioen jongwyn van die jaar en wat die gesogte Genl Smuts-trofee sal ontvang. Terselfdertyd sal die Pietman Hugo-trofee toegeken word aan die kelder wat die hoogste totale punte kry vir inskrywings in vyf kategorieë. Daar is 17 panele en ʼn totaal van meer as 130 beoordelaars wat die wenwyne sal identifiseer.

Vir die eerste keer in ʼn geruime tyd, het die chenin blanc-klas vanjaar die meeste inskrywings ontvang (152), gevolg deur enige rooi kultivar versnit (122), shiraz (117), sauvignon blanc (113) en pinotage (109).

Altesaam 17 SA Jongwyn-trofeë is op die spel. In die witwynklasse is dit vir chenin blanc, sauvignon blanc, chardonnay, sémillon, ander  wit kultivars, droë wit versnitte, effe-droë witwyne en edel Laatoes. In die klasse vir rooiwyne, word trofeë toegeken vir die beste pinotage, shiraz, cabernet sauvignon, merlot, ander rooi kultivars en droë rooi versnitte. Versterkte wyn-klasse behels trofeë  vir uitnemende port, dessertwyn en muskadel.

Die 2019-oesjaar was weer eens ʼn uitdagende jaar vir die land se wynmakers en wingerdboukundiges. Die voorsitter van die SA Jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê dat moeilike weerstoestande vanjaar bygedra het tot ʼn kleiner oes. Ondanks die kleiner oes, is daar ʼn gees van groot afwagting en opwinding in die bedryf om te sien wat die uitslae sal wees van ʼn moeilike oesjaar, wat wel die  belofte van goeie gehalte wyne inhou.

Volgens Francois Viljoen, wingerdboukundige konsultasiebestuurder by Vinpro, het ernstige weerskommelinge gedurende die seisoen bygedra tot minder trosse en kleiner korrels. Kleiner korrels het egter ʼn hoër konsentrasie van geure.  In die algemeen het die wyne goeie suur- en suikervlakke en elegansie wat ʼn potensiaal vir goeie gehalte aandui.

Die Jongwynskou vervul ʼn belangrike rol met die opleiding van jong wynproewers vir wyn-evaluasie. Benewens die sewe hoogs-gekwalifiseerde beoordelaars in elke kategorie, word ʼn agste opleidings-beoordelaar by elke paneel ingesluit. Die junior beoordelaars se puntetoekennings word nie bygereken in die finale punte nie.

“Ons berei ʼn toekomstige geslag van wynbeoordelaars voor vir hierdie kompetisie, sowel as vir die wynbedryf as geheel,” het Bennie Howard, ondervoorsitter van die skou, gesê.

Die wenners sal by die 2019 SA Jongwynskou gala-dinee aangekondig word, aangebied deur die Robertson Wynvallei by die Angora Stud-funksielokaal buite Bonnievale op Saterdag 24 Augustus.

Vir die eerste keer in die 187-jarige bestaan van die bestaan van die SA Jongwynskou is wyne verlede week binne ‘n kelder beoordeel- die wynkelder van Nederburg in die Paarl.