Pret vir hele gesin by Perdebergfees

Perdeberg-gesinsfees terug

Na ’n kort afwesigheid keer die jaarlikse Perdeberg-gesinsfees terug. Hierdie gewilde fees word op Saterdag, 26 November, op die pragtige Vryguns-plaas in die Paardeberg-area van die Paarl aangebied. Dit sal van 10:00 tot 17:00 plaasvind.

Hierdie is die ideale geleentheid om van die stad se gejaagdheid weg te breek en ’n juweel van die Kaapse wynlande te verkenk op ’n dag wat beloof om ’n fees van lekker kos, puik wyn en vermaak vir oud en jonk te wees, terwyl Desmond Wells sorg vir die musiek. Vier die somer met familie en vriende in die platteland.

Daar sal ook spesiale aanbiedings wees van die plaas se restaurant, Eat @ Perdeberg. Die sjef, Rob Hahn, sal ’n verskeidenheid gesinstylgeregte opdis, terwyl verskeie kostrokke ook teenwoordig sal wees om die hongerpyne te stil. Niemand sal honger huiswaarts keer nie!

Maar kos sonder wyn is mos soos die somer sonder son. Die fees sal gaste die kans bied om ’n verskeidenheid wyne, vonkelwyne en spesialisbier te proe wat deur Perdeberg gemaak word. Dit sluit in die gewilde Soft Smooth-reeks, die plaas se eie Classic-reeks, die stylvolle Vineyard Collection-wyne en die kenmerkende Dryland Collection-reeks, en daar sal ’n toegewyde sjampanjestalletjie wees waar ’n verskeidenheid Cap Classiques en vonkelwyne aangebied sal word.

Kaartjies vir die Perdeberg-Gesinsfees kos R175 per persoon en sluit in toegang, ’n proeglas, 10 wynproekoepons en die dag se vermaak. Kinders onder 18 betaal slegs R50 elk. Bespreek kaartjies direk by www.webtickets.co.za of by die Perdeberg-proelokaal.

Gaan en geniet die prag en praal van die Paardeberg-area, Perdeberg se groot verskeidenheid wyne, kos uit ’n verskeidenheid kombuise, lewende musiek, vermaak en veel meer.

 Perdeberg-kelder is geleë aan die voet van die Paardeberg buite Paarl, een van die beste wynbougebiede in die Kaap. Die vernaamste kenmerk van Perdeberg, en die een wat hom die meeste onderskei, is sy gebruik van hoofsaaklik onbesproeide wingerde, bekend as droëlandwingerde. Hierdie wingerde moet strawwe toestande weerstaan en lewer gevolglik klein druiwekorrels met gekonsentreerde geur en kleur wat tot uitmuntende wyne aanleiding gee. Die wynmakery se ryk geskiedenis dateer terug tot 1941 toe ’n visionêre wynboer, Jan Rossouw, voorgestel het dat die area se boere hul eie wyn maak. Perdeberg se kenmerkende naam is afgelei van die groot getalle Kaapse bergkwaggas wat eens in die Paardeberg-area gevind is. Hulle is aanvanklik aangesien vir wilde perde deur die plaaslike inwoners.

Met wingerde wat meer as 3 000 hektaar dek, hoofsaaklik in die Paarl- en Swartland-streke, baat Perdeberg by verskillende grondsoorte en mikroklimate. Die natuurlike variasie in weer, grond, dreinering en hoogte van wingerd tot wingerd stel die wynmakery in staat om ’n wye reeks wyne te maak met kenmerkende karakter en eienskappe. In die kelder word die wyne geskep deur die sinergie tussen kuns, intuïsie en wetenskap om die beste te onthul van dit wat na die kelder gebring is vanuit die wingerde. ’n Wynlangoedbenadering word by die wynmakery gevolg, insluitende intensiewe wingerdbestuur, die pluk van druiwe per hand in klein kratte, klein parsmasjiene en veroudering in vate, om uitsonderlike gehalte te handhaaf.