Wynbedryf leer werkers met e-leer
Vir die eerste keer ooit kan wingerdwerkers hul vaardighede aanlyn opskerp, danksy die bekendstelling van ʼn e-leerplatform vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Winetech-mensontwikkeling, die bedryfsliggaam wat gemoeid is daarmee om die wynbedryf se strategie rondom die ontwikkeling van mense uit te rol, het die aanlyn platform ontwikkel met die doel om aan persone van regoor die wynbedryfwaardeketting topgehalte opleiding in ʼn eenvoudige en toeganklike formaat aan te bied.
“Dit was die eerste logiese stap om op plaasvlak te begin, en danksy Vinpro se wingerdwerker-opleidingspakket wat reeds oor uitstekende leermateriaal, videos en assesserings beskik het, kon ons dit maklik op die platform integreer,” sê Kachné Ross, bestuurder van Winetech-mensontwikkeling. Die platform gaan oor die volgende paar jaar uitgebrei word om ook op wynbereiding, bemarking en verkope, asook logistiek en verspreiding te fokus.
Vinpro se jaarlikse wingerdwerkeropleiding is alombekend in die wynbedryf, met meer as 5 000 persone wat hul praktiese vaardighede oor die afgelope sewe jaar opgeskerp het. Die fisiese opleiding is op ʼn DVD-opleidingspakket geskoei, waarvan die 10 modules nou aanlyn beskikbaar gestel word. Dit sluit snoei, wingerdvestiging, stokontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifisering van siektes en plae, besproeiing, bemesting, die oes van wyndruiwe en grondkunde in.
“Mense is die onderbou van ons bedryf, en daarom is dit belangrik dat ons aan hulle die geleentheid bied om hul kennis en vaardighede deurlopend uit te brei,” sê Conrad Schutte, Vinpro-konsultasiediensbestuurder. “Deur te begryp hoekom en hoe hulle aksies op ʼn sekere manier uitvoer, gee aan hulle ʼn gevoel van trots en sin vir verantwoordelikheid in hul werk, wat produktiwiteit opstoot. Hierdie nuwe gerieflike aanlyn platform gee leerders die geleentheid om teen hul eie tempo en op tye wat hulle pas deur die leermateriaal te werk.”
Hoe dit werk
Die e-leerplatform word as ʼn een jaar lisensie aan wynondernemings beskikbaar gestel, en die koste wissel na gelang van die aantal werknemers wat per instansie geregistreer word.
Indien ʼn plaas of kelder daarin belangstel om hul span vir die e-leerplatform aan te teken, kan die spanleier of plaasbestuurder ʼn epos stuur na lms@winetech.co.za. Hierna sal ʼn opleidingsverteenwoordiger hulle kontak om die registrasieproses te verduidelik en ʼn datum vas te maak vir ʼn fisiese “lei die opleier op”-sessie, waartydens ʼn Vinpro-kundige hulle van alle nodige inligting voorsien oor hoe die stelsel werk, en hoe die spanleiers en spanne saam die opleiding op die mees doeltreffende manier kan benut.
Spanleiers kan dan hul spanlede op die stelsel laai, waarna elkeen toegang tot die e-leerplatform sal verkry deur hul slimfoon of rekenaar, en die wingerdspanne met hul opwindende nuwe opleidingsreis kan begin. Spanleiers dien dus as opleiers wat hul eie wingerdwerkers se leer fasiliteer onder begeleiding van die Vinpro-opleidingspan. Deur die suksesvolle afhandeling van die eerste groep werkers se opleiding sal die spanleiers geregistreer word by die SA wynbedryf se professionele liggaam, SAWIPB, as wingerdwerkervoormanne met spesiale status en erkenning.
Buiten die leermateriaal en video’s waardeur spanne saam of op hul eie kan werk, kan individue ook kort toetse oor elke onderafdeling binne ʼn module voltooi sodat hulle en hul spanleier tred kan hou met hul vordering. Elkeen wat ʼn module suksesvol voltooi met ʼn assessering van bo 80%, ontvang ʼn e-sertifikaat wat hulle kan aflaai en druk, of op hul profiel kan hou indien hulle dit vorentoe nodig sou hê.

