Proe, koop 145 Stellenbosch-wyne onder een dak

Reuse wynemporium huisves 145 Stellenbosch-wyne onder een dak

Liefhebbers van Stellenbosch-wyne regoor die wêreld, kan nou die beste van hierdie gevierde wynstreek koop – alles op een plek, aanlyn en teen proelokaal-pryse. Die Simon-wynemporium, in samewerking met Stellenbosch-wynroetes, is eksklusief toegewy aan die Wyn van Oorsprong Stellenbosch-etiket, wat dit die eerste van sy soort in Suid-Afrika maak.

Die aanlyn wynemporium het tans 145 top wyne van nie minder nie as 73 ledeladgoedre van die Stellenbosch-wynroetes. ’n Kundige komitee het die portefeulje noukeurig saamgestel, om die uitblinkers van die streek se wyne en kultivars ten beste te vertoon. Wynliefhebbers wat aanlyn bestel, sal dieselfde pryse as by die landgoedere se proelokale betaal en aflewering geskied direk van die wynplase.

Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch-wynroetes, sê Stellenbosch-wynroetes het ’n geskiedenis wat oor 50 jaar strek en bied plaaslike wyne aan gevestigde wyndrinkers én dit word aan potensiële nuwelinge voorgestel.

“Ons is besonder trots op hierdie nuutste mylpaal. Die Simon-wynemporium sit nie net hierdie tradisie voort nie, maar ook die tradisie van samewerking, wat nog altyd deel van die sukses van Stellenbosch-wyne was,” sê hy.

Daniël Kriel, mede-eienaar van De Warenmarkt sê: “Dit verskaf ons groot plesier om die nuwe unieke wynemporium, sowel aanlyn as by De Warenmarkt, aan wynliefhebbers regoor die wêreld te bring. Of jy nou in Kaapstad of Kyoto woon, jy het nou toegang tot die beste Stellenbosch-wyne, alles op een plek of net een kliek weg.”

Die Stellenbosch-streek spog met ’n wynmaaktradisie wat tot die middel 17de eeu terugdateer en De Warenmarkt het sedert sy opening in 2015, Stellenbosch Wyn van Oorsprong ondersteun.

“Ons was nog altyd trots dat ons die eerste Suid-Afrikaanse eetplek was wat ’n ‘eksklusief Stellenbosch’-wynlys gehad het, wat net fokus op die beste bekroonde landgoedere om die dorp.

“Die Simon-wynemporium is ’n natuurlike uitvloeisel van ons jarelange verbintenis met Stellenbosch-wynroetes,” sê Daniël.

Die wyne wat te koop aangebied word, verteenwoordig al vyf sub-roetes van die Stellenbosch-wynlande: Groter Simonsberg, Stellenboschberg, Stellenbosch-vallei, Helderberg en Bottelary Heuwels. Noukeurige proenotas is vir elke wyn saamgestel, asook inligting oor die wynlandgoedere en onderskeie kultivars én hulp met kos pasmaats.

Die lys sluit onder meer die kultivars sauvignon blanc, chenin blanc, chardonnay, cabernet sauvignon, pinotage en shiraz, asook rooi versnitte in. Dit bevat ook die ‘ou wingerd’-wyne wat deur die Old Vine Project verteenwoordig word, sowel as ’n versameling van die streek se ikoniese wyne.

Vir die wynkenners wat ’n spesifieke kultivar verkies, maar verskillende wynlandgoedere se aanbiedinge wil vergelyk, het die paneel ’n boks van ses wyne van die sub-roetes van die Stellenbosse wynlande saamgestel en dit is in drie kategorieë beskikbaar: ontspanne vir elke dag se genot, premium en waarlik uitstaande. Kopers kan ook hul eie ses-bottel-boks uit die Simon-wynemporium-portefeulje saamstel, wat uit ’n spesifieke kultivar uit die vyf sub-roetes, óf ’n mengsel van verskillende wynlandgoedere bestaan – teen geen ekstra koste nie.

Daar is ook wyne op spesiale aanbieding teen pryse wat spesiaal tussen die Simon-wynemporium-span en die onderskeie wynmakers, beding is. Hierdie wyne is vir ’n beperkte tyd beskikbaar teen selfs laer as proelokaalpryse.

Bo en behalwe die uitgebreide Simon-wynemporium-portefeulje is daar ook skaars, ouer wyne wat dikwels onbekombaar is, op die lys. Hierdie uitmuntende wyne kom gewoonlik direk van die wynmakers se kelders en is eksklusief aan kliënte van die Simon-wynemporium beskikbaar.

Plaaslike wynliefhebbers wat van die wyne wat te koop is, wil proe, kan die Simon-wynemporium in die historiese De Warenmarkt in Stellenbosch besoek. Daar is proeë volgens kultivars en temas gegroepeer en sommeliers is byderhand om inligting te gee, of digitale proenotas te verskaf.

Boonop sal proeë in die wynmakers se eie kelders aangebied word en De Warenmarkt sal voortgaan om die kos-en-wyn-pasmaats aan te bied, wat ongelooflik gewild geword het onder kos-en- wynliefhebbers. Gaste wat by hierdie geleenthede wyne wil koop, sal gehelp word om hul bestellings aanlyn te plaas – steeds teen kelderdeurpryse.

Die emporium se ligging, op die hoek van Van Ryneveld- en Van Riebeeckstraat in Stellenbosch, is ook belangrik. Die ‘Simon’ in die naam is ’n ode aan die dorp se stigter, Simon van der Stel, terwyl die 18de eeuse gebou wat sy tuiste is, op die kruising van Stellenbosch se polsende kulturele distrik lê. De Warenmarkt is al geruime tyd die dorp se gunsteling eetplek en oesterkroeg en nou is dit ook die vertoonvenster vir wyne van die Stellenbosch-streek.

  • Die Simon Wyn Emporium by De Warenmarkt is van Maandag tot Saterdag van 11:00 tot 18:00 en Sondag van 11:00 tot 15:00 oop. Deel jou besoek aan die emporium en haak @stellwineroute op Facebook, Twitter en Instagram.

    Meer as 145 topwyne uit die Stellenbosch-streek word in die nuwe wyn-emporium aangebied.