Wynbedryf hou streeksinligtingsdae
Winetech en Vinpro bring die nuutste wynbedryf- en wingerdkundige tendense en navorsing na jou voorstoep tydens ʼn reeks streeksinligtingsdae van 10 tot 18 Mei.
“Hierdie oggendsessies in vyf wyndruifverbouingstreke bied die ideale geleentheid vir wyndruifprodusente, kelderverteenwoordigers, wingerdboukundiges en ander belangegroepe in die wynbedryf om hulself met kennis toe te rus vir die jaar vorentoe,” sê Conrad Schutte, Vinpro-konsultasiediensbestuurder.
Hoe kan die Suid-Afrikaanse wynbedryf vorentoe bons gegewe die huidige handelsomgewing? Vinpro-kundiges Conrad Schutte, Christo Conradie en Pierre-André Rabie gaan ʼn oorsig gee oor die bedryf se vernaamste uitdagings, geleenthede en pad vorentoe.
Van daar beweeg ons plaasvlak toe met ʼn tydgleuf relevant tot elke streek, onder andere die bestuur van swamsiektes, spesifiek witroes en donsskimmel, asook verbruikersgerigte wynproduksie.
Emma Carkeek van die Gen-Z Wingerdprojek deel vordering en bevindinge van wingerddemonstrasies in die onderskeie streke en Lucinda Heyns van Winetech gee ʼn oorsig oor navorsingsprojekte en -aktiwiteite waarmee dié bedryfsorganisasie tans besig is.
“Ons is ook opgewonde daaroor om ʼn splinternuwe boek deur die befaamde navorser dr Johan Fourie, Cover crops in South African Vineyards, tydens die streeksinligtingsdae bekend te stel,” sê Lucinda. Elke bywoner ontvang ʼn gratis eksemplaar van die boek wat moontlik gemaak is deur die SA Tafeldruifbedryf (SATI), Winetech en Villa.
Die datums van die streeksinligtingsdae is soos volg:
10 Mei: Worcester/Breedekloof
11 Mei: Robertson/Klein Karoo
12 Mei: Olifantsrivier
17 Mei: Paarl/Swartland
18 Mei: Stellenbosch/Kaap Suidkus
Die bywoningskoste vir die onderskeie streeksdae wissel tussen R150 en R250 per persoon. Registreer by https://sales.vinpro.co.za/ of kontak Lesley Paulse by 021 276 0432, lesley@vinpro.co.za.