SA se sauvignon blanc van wêreldgehalte
Wêreldklas, interessant en vol uitdrukking van die spesifieke terroir is van die eienskappe wat die beoordelaars van Suid-Afrikaanse sauvignon blanc opgewonde maak. Die beoordelaars van die 2021 Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie was mateloos beïndruk met die gehalte, uitmuntende wynbereidingstegnieke én kompleksiteit van die verskeie oesjare en style.
Altesaam 157 wyne van 96 produsente is van Dinsdag 31 Augustus tot Donderdag 2 September by Uitkyk-Landgoed deur ʼn uitgesoekte paneel van beoordelaars geproe. Vanjaar se kompetisie word met die ondersteuning van FNB en Ever Solutions aangebied.
Die beoordelaarspaneel het bestaan uit dr Winifred Bowman, Kaapse wynmeester en paneelsameroeper, Charles Hopkins, keldermeester van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Rüdger van Wyk, wynmaker van Stark-Condé Wyne, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, asook twee protégés, Kelsey Shungking van Mullineux en Leeu en Victoria Davis van Boekenhoutskloof.
“Sauvignon blanc is ʼn belangrike wynkategorie in Suid-Afrika,” sê Bowman. “Altesaam 4.4 miljoen kissies (van 6 bottels) word jaarliks op plaaslike bodem hiervan verbruik. Ons was hoogs beïndruk met die gehalte van die wyne, en veral die feit dat daar deurgaans min foutwyne was.”
Die grootste kategorie tydens vanjaar se beoordeling was van die 2021-oesjaar met ongehoute wyne. “Die 2021-oesjaar het veral goed vertoon,” sê Johann Fourie. “Daar was bitter min foutwyne weens beter gistingsbestuur deur wynmakers asook al die navorsing wat die verskaffers van wynchemikalieë, gis en voedingstowwe onderneem om die beste produk aan die wynmaker te lewer.”
Die wyne vanjaar het ʼn verskeidenheid van sauvignon blanc-geure opgelewer wat Rüdger van Wyk, veral beïndruk het. “Hierdie verskille in uitdrukking maak sauvignon blanc ʼn baie interessante druifsoort om mee te werk.”
Sure was ook goed in die wyne geïntegreer, aldus Fiona McDonald. “Die wyne vanjaar toon ʼn lieflike varsheid met goed ontwikkelde sure. Wat ons nou sien is delikate en sjarmante wyne wat meer bied as net suurlemoen- of sitrusgeure. Die wyne is eiesoortig met subtiele wenke van tropiese vrug of swartbessies/vlierblomme.”
Wat die gehoute klasse betref was die beoordelaars dit eens dat daar voortreflike bestuur van hout was. “Die ouer gehoute wyne het beter vertoon omdat dit ʼn jaar of wat teruggehou word voordat dit by kompetisies inskryf, om die wyn op sy beste te laat vertoon,” sê Charles Hopkins. “Suid-Afrika maak wêreldklas gehoute sauvignon blanc en dit is iets waarop ons met reg kan trots wees,” voeg Bowman by.
Daar is vanjaar weer pasgemaakte tegnologie op tablette ingespan om die proses Covid-19-vriendelik, vinniger en meer akkuraat te maak. Beoordelaartellings is ten volle vasgevang, terwyl wynprofiele en meer bruikbare kultivarinligting in samewerking met die Departement Wingerd- en Wynkunde van die Universiteit Stellenbosch ingesamel is. Die beoordelaars het ook saamgestem dat hierdie tegnologie beslis veiliger, meer eko-vriendelik en akkuraat is en die weg vir beoordeling na die toekoms baan.
Vanjaar is die eerste jaar wat protégés ten volle deel was van die beoordeling van die kompetisie en die daaglikse besprekings asook die finale uitproe van die wenwyne was uiters waardevol vir kennisoordrag en die persoonlike groei van die toekomstige wynbeoordelaars van hierdie land.
“Dit was ʼn ongelooflike leerkurwe en -ervaring om as jong wynmaker deel van die beoordelingsproses te wees,” sê protégé Kelsey Shunking. “Hierdie geleentheid help my om die bedryfstandaarde in terme van kwaliteit te verstaan asook meer kennis op te doen van die style wat ons in Suid-Afrika maak.”
Die Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie – wat reeds sedert 2007 aangebied word – se Top 20-finaliste word later vandeesmaand aangekondig. Die Top 10 word tydens ʼn toekenningsgeleentheid op Woensdag 13 Oktober 2021 aangekondig. ʼn Tegniese seminaar wat inligting rondom die Top 10 deurgee, word op Woensdag 17 November 2021 in Franschhoek gehou.
Sauvignon Blanc SA bevorder Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc se gehalte plaaslik en internasionaal. Enigeen kan ʼn lid van Sauvignon Blanc SA word om die voordele van gedeelde kundigheid te geniet. Vir meer inligting, of om in te teken op die Sauvignon Blanc SA-nuusbrief, besoek www.sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440. Word deel van gesprekke op sosiale media oor die #SauvignonBlancSATop10 en volg Sauvignon Blanc SA op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.