Bonnievale verower nasionale cabernet sauvignon-trofee by Jongwynskou
Bonnievale Wines het tydens die 2021 SA Nasionale Jongwynskou geseëvier deur die gesogde Roberto Moni-trofee vir die SA Kampioen cabernet sauvignon te wen.
Wat die toekenning ekstra spesiaal maak is dat cabernet sauvignon een van die mees mededingendste klasse tydens die Suid-Afrikaanse Jongwynskou is. Die toekenningsfunksie het onlangs by Nederburg in die Paarl plaasgevind.
Bonnievale Wines was reeds in Augustus op die wenpad met hul cabernet sauvignon (gehout) wat vir die vierde agtereenvolgende jaar as die beste jongwyn in dié katogrie by die Robertson-streeksjongwynskou aangewys is. Die kelder was ook klaswenner in vyf kategorieë en wenner van 20 medaljes, waaronder twee goues.
“Dit is wonderlike nuus vir almal betrokke,” sê Marthinus Rademeyer, hoofwynmaker van Bonnievale Wines. “Die bedryf het ‘n baie moeilike tyd beleef en om op hierdie manier erken te word, bevestig beslis ons geloof in ons terroir en fokus op kwaliteit. ”
Bekendstelling
Die prestasie kan nie meer geskik wees nie. Internasionale cabernet sauvignondag is op 2 September gevier – die dag waarop Bonnievale Wines sy premium 2019 Limited Release Cabernet Sauvignon vrystel. Die gewildheid van die wyn word weerspieël in die vinnige uitverkoop van elke oesjaar sedert sy bekendstelling drie jaar gelede.
As ‘n algehele kampioen van cabernet sauvignon van enige gesaghebbende wynskou, is dit ‘n beduidende oorwinning inaggenome die mededingingsvlak tussen produsente en wynstreke. Cabernet sauvignon is een van die duurste wyne en word dus die gretigste nagestreef.
Bonnievale-terroir
‘n Groot voordeel wat Bonnievale Wyne geniet, is die groot gebied waaroor die wingerde in die Breederiviervallei versprei is. Aangesien verskillende grond tipes, hellings en klimaatstoestande die karakter van die vrugte bepaal, het die wynmaak- en wingerdbouspan ‘n baie wye palet om van die beste druiwe te kies.
Sowat 100 lidplase verskaf die wynkelder van druiwe en is daartoe verbind om kwaliteit vrugte te lewer. “Samewerking is ‘n hoeksteen van ons sukses wat gepaard gaan met die talent en ervaring van kollegas soos wingerdboukundige, Sakkie Bosman,” sê Marthinus.
Wie het dié wyn gemaak
Met die bepaling van die wyn wat vir die SA Jongwynskou ingeskryf moet word, moes die Bonnievale-span cabernet sauvignon uit sy vier produksiekelders kies. Elkeen is geproe en die wenwyn – gemaak deur Edwin Mathambo – is gekies om Bonnievale Wines te verteenwoordig.
SA Jongwynskou
Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou word jaarliks die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskou Vereniging (SANWV) aangebied en stel wynmakers in staat om hul beste wyne van die huidige oesjaar te vergelyk, lank voordat dit gebottel word.

Bonnievale Wines se wynmaker, Marthinus Rademeyer.

Edwin Mathambo het die wenwyn gemaak.