Verhoogde alkholbelasting kan volhoubaarheid van wynbedryf knou
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is ernstig gekant teen voorgestelde verhogings in aksynsbelasting op wyn wat die tariewe met tot 80% kan laat styg.
South Africa Wine, die nasionale liggaam wat die land se wyndruifprodusente en belanghebbendes in die bedryf verteenwoordig, is sterk gekant hierteen en meen hierdie drastiese maatreël, wat in die onlangse besprekingsdokument oor alkoholbelasting uiteengesit is, hou ’n ernstige bedreiging in vir die volhoubaarheid van die wynsektor en die noemenswaardige sosio-ekonomiese bydraes.
Die wynbedryf funksioneer reeds in ’n hoogs gereguleerde omgewing, en daar is ’n behoefte aan beleidsekerheid.
“Hierdie voorstelle kan ons bedryf verwoes, werksverliese dryf en produsente uit die mark dwing,” waarsku Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine. “Die wynbedryf ondersteun meer as 270 000 werksgeleenthede, dra R56 miljard tot die ekonomie by en speel ’n belangrike rol in landelike ontwikkeling. Die voorgestelde oormatige aksynsverhoging sal hierdie kritieke sektor destabiliseer en gemeenskappe benadeel wat reeds ekonomiese swaarkry in die gesig staar.”
Dit is die nasionale tesourie se bedoeling om die nuwe aksynsraamwerk en voorgestelde aanpassings tydens die begrotingsrede in Februarie 2025 aan te kondig, wat die bedryf met slegs ’n 30-dae indieningsperdatum laat van 13 Desember 2024. South Africa Wine glo dat hierdie tydslyn onwerkbaar is omdat dit nie voldoende geleentheid bied vir sinvolle konsultasie of impakstudies nie.
“Ons doen ’n dringende beroep op die regering om die sperdatum te verleng en hierdie voorstelle te heroorweeg,” sê Basson. “Die huidige aksynsregime is belyn met internasionale standaarde, en bereik openbare gesondheids- en inkomstedoelwitte sonder om die bedryf se volhoubaarheid in die gedrang te bring. Eerder as om produsente wat aan die regulasies voldoen te penaliseer, moet die regering fokus op die bekamping van onwettige handel en die versterking van wetstoepassing.”
Die handel in onwettige alkohol, wat reeds meer as 22% van alle alkohol in Suid-Afrika uitmaak, sal deur hoë aksyns vererger word. Dit bedreig openbare gesondheid, erodeer staatsinkomste en ondermyn wettige besighede. South Africa Wine beklemtoon dat hierdie kwessie beter deur verbeterde toesig en ’n meer doeltreffende beleidsbenadering aangespreek sal word. Vanuit ’n internasionale perspektief kan ons van ander wynproduserende lande soos Frankryk, Italië en Spanje leer, wat byna geen aksyns het nie. Ons beskou die wyn- en toerismestrategie as ’n skatkamer, en in die gees van die GNU is nou die tyd om beleggings aan te moedig en enige twyfel uit ’n belegger se perspektief uit te wis.
“Die wynbedryf is nie net ’n ekonomiese dryfveer nie. Dit is ’n kulturele hoeksteen van Suid-Afrika,” voeg Basson by. “Beleidsekerheid is noodsaaklik om die hele waardeketting, van wingerdwerkers tot uitvoerders, te beskerm en te verseker dat die bedryf kan voortgaan om volhoubaarheid in alle opsigte te verwesentlik, as ’n betroubare drywer van indiensneming, toerisme en belegging.”
South Africa Wine bly daartoe verbind om konstruktief met die regering te skakel om oplossings te vind wat die sektor ondersteun, terwyl openbare gesondheid en fiskale doelwitte bereik word.
“Ons doen ’n beroep op die regering om saam met die wynbedryf te werk om ’n meer gebalanseerde en volhoubare benadering tot alkoholbelasting te vind, enige finale besluite uit te stel tot ná omvattende konsultasies, en om die wynaksynsverhoging tot ʼn maksimum van VPI in Februarie 2025 te beperk,” het Basson gesê.