Gesogte internasionale erkenning vir SA-vrou
Die Internasionale Organisasie vir Wingerd en Wyn (OIV) het hul gesogte OIV-merietetoekenning aan Wendy Jonker Hanekom, administrerende beampte van Suid-Afrika se wet op drankprodukte en wetenskaplike bestuurder: subdirektoraat drankprodukte, toegeken vir haar uitstaande bydraes tot die internasionale wynbedryf.
As professionele natuurwetenskaplike en voormalige vise-president van die OIV se wetenskaplike komitee, was Jonker Hanekom instrumenteel in die bevordering van Suid-Afrika se posisie in die internasionale wyngemeenskap. Haar kundigheid strek oor die tegniese, regulatoriese en handelsaspekte van die wynbedryf, wat haar ‘n onmisbare verteenwoordiger in bilaterale en multilaterale onderhandelinge maak.
Noemenswaardige prestasies onder Jonker Hanekom se leierskap sluit in die ontwikkeling van ‘n innoverende aanlyn uitvoerplatform, die versterking van handelsbetrekkinge deur die EUSADU (Europese Unie–Suider-Afrikaanse Doeane-unie) ekonomiese vennootskapsooreenkoms, en die handhawing van sterk internasionale vennootskappe om handelsversperrings te oorkom.
“Dit is ‘n groot eer, en hierdie toekenning maak my nederig. My lewensleuse is integriteit in alles wat jy doen, gepaard met harde werk en toewyding,” sê Jonker Hanekom.
“My liefde vir die wynbedryf en alle tegnologie motiveer my. Ek is lief vir stelsels, en met Suid-Afrika se fokus op elektroniese sertifisering en data-uitruiling, is daar nog baie voordele wat ontsluit kan word om handel in Suid-Afrikaanse wyn en die res van die wêreld te vereenvoudig en te verbeter.”
As Suid-Afrika se tegniese wynkenner in die OIV en Wêreld Wynhandelsgroep (WWTG), het Jonker Hanekom deurgaans haar toewyding getoon om volhoubare groei in die wynsektor te bevorder deur verbeterde bestuur en internasionale samewerking.
“Hierdie erkenning van die OIV-bestuurskomitee beklemtoon die kardinale belangrikheid van tegniese kundigheid en toewyding in die bevordering van die wynbedryf,” sê South Africa Wine se bestuurshoof Rico Basson.
“Wendy se werk agter die skerms was instrumenteel in die skep van nuwe geleenthede vir Suid-Afrikaanse wyn op die wêreldtoneel.”