Ses oesjare presteer by SA Shiraz-uitdaging

16 shiraz-wenners in 3 kategorieë

Die wenners van die 12de jaarlikse Shiraz SA Challenge is deur Shiraz SA bekend gemaak, met ses oesjare uit ‘n wye verskeidenheid streke wat presteer het. Finaliste en bekendes in die wynbedryf het op Donderdag 15 Augustus 2024 in die Paarl vir die toekenningsgeleentheid by Simonsvlei-wynkelder byeengekom. Die hoofborg was Vinventions, wat reeds etlike jare by Shiraz SA betrokke is.

Sestien wenners is in die Shiraz SA-uitdaging se drie kategorieë aangewys. Zandvliet-wynlandgoed het uitstekend presteer deur twee plekke in die Top-12-Shiraz te behaal:

Die Top-12-Shiraz van 2024 is:

  • Bon Courage The Pepper Tree Shiraz 2022
  • De Morgenzon Reserve Syrah 2019
  • Kleine Zalze Family Reserve Syrah 2020
  • Leeuwenkuil Shiraz 2023
  • Lomond Single Vineyard Conebush Shiraz 2021
  • Nederburg The Winemasters Shiraz 2022
  • Survivor Wines Syrah 2022
  • Saronsberg Provenance Shiraz 2022
  • Spier Seaward Shiraz 2022
  • Stellenbosch Reserve Kruithuis Syrah 2022
  • Zandvliet Kalkveld Shiraz 2020
  • Zandvliet Hill of Enon Shiraz 2021

 

 

 

 

 

Die 2024 Shiraz-versnitwenners is:

  • Benguela Cove Lighthouse Collection Moody Lagoon 2021
  • Eagle’s Cliff Wines Arendskloof Shiraz Tannat 2020
  • KWV Roodeberg Dr Charles Niehaus 2020

 

 

 

 

 

Die 2024 Shiraz Rosé-wenner is:

* Eerste Hoop Shiraz Rosé 2024

Gehalte beïndruk

‘n Paneel van vooraanstaande wynkenners, onder leiding van De Grendel se keldermeester, Charles Hopkins, het die inskrywings van 16 tot 19 Julie by Nederburg beoordeel. Saam met Hopkins op die paneel was die Kaapse Wynmeester Bennie Howard, ondervoorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging, Heidi Kritzinger van Kanonkop Wynlandgoed, Nongcebo Langa, wynmaker van Delheim Wines, RJ Botha, keldermeester van Kleine Zalze, en Karabelo Masoleng van De Grendel as protégée.

Volgens Hopkins was die paneel beïndruk met die verskeidenheid en die gehalte van die inskrywings. “Die wenners is almal puik wyne wat met vertroue die vlag kan dra van Shiraz in Suid-Afrika,” sê Hopkins. “Terwyl die meeste van die 100% Shiraz-inskrywings uit die 2022- en 2021-oesjare was, het ons ook uitstekende wyne uit ouer oesjare geproe. Die verskeidenheid van ons Shiraz-style is indrukwekkend, van groot, komplekse wyne, tot moderne, meer delikate style met ‘n laer alkoholinhoud, gemaak van heel trosse van druiwe wat vroeër geoes word en wat ‘n unieke peperagtige karakter aan die wyne gee.”

Wine MS het die beoordelaars bygestaan en Exceed Group het die proses en die uitslae geoudit. Crystal Direct het glase geborg en Lebone Paarl Labels het die bottelseëls verskaf. ‘n Hoeveelheid van die wyne wat nie gebruik is nie, is aan die Pebbles Projek geskenk.

Jordan ook vereer

Shiraz SA het Jordan Wine Estate aangewys as die derde wenner van die jaarlikse Bellingham Bernard Podlashuk Shiraz-trofee, wat ’n kontantprys van R30 000, geborg deur Bellingham, insluit.

Hierdie manjifieke trofee is vernoem na die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”, Bernard Podlashuk. Hy en sy vrou Fredagh het in 1943 die plaas Bellingham in Franschhoek gekoop en was baanbrekers wat Suid-Afrika se eerste enkelkultivar-Shiraz in 1956 gebotteleer het.

Saronsberg was in 2022 die eerste ontvanger van die toekenning vir die beste algehele prestasie oor die eerste tien jaar van die Shiraz SA Challenge. Creation Wines is in 2023 as die tweede wenner bekroon ná die toekomstige kriteria in samewerking met Andrew Harris van Bellingham vasgestel is as “volhoubaarheid, uitnemendheid, innovering, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid”.

Vanjaar se beoordelaarspaneel het bestaan uit Francois Haasbroek van Shiraz SA se Bestuurskomitee, dr Etienne Terblanche van Vinpro, prof Jako Volschenk van die Universiteit Stellenbosch Besigheidskool en Gerard Martin, South Africa Wine se Bestuurder van Navorsing, Ontwikkeling en Innovasie. Drie finaliste is aangewys, met Jordan wat twee ander waardige aanspraakmakers, Babylonstoren en Stellenrust, uitgestof het.

2024 Shiraz SA wenners

Voor van links Izele van Blerk (KWV), Leander Lubbe (Lomond), Heidi Dietstein (Spier), Lizemari Geldenhuys (Kleine Zalze), Zinaschke Steyn (Nederburg), Marinelle Cilliers (Zandvliet) en Daniela Jansen (Saronsberg). Agter, van links: Christiaan Groenewald (Eagle’s Cliff), Edmund Terblanche (Shiraz SA Chairperson), Lawrie Moore (Eerste Hoop), Johann Fourie (Benguela Cove), Philip Viljoen (Bon Courage), Pieter Carstens (Leeuwenkuil), Ingus Ferreira (Stellenbosch Reserve), Anthony Sanvido (De Morgenzon), Pierre Wahl (Survivor Wines), Tracey Lange (MC) en Johan Conradie (Vinventions)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

2024 Bellingham Bernard Podlashuk Shiraz-trofeewenners

Van links staan: Tracey Lange (seremoniemeester), Bianke Ohle (Jordan Wine Estate), Alex Jordan (Jordan Wine Estate) en Stephan Joubert (Bellingham Wyne).