Grendeltyd keer nie spoggeleentheid
Ten spyte van die grendeltyd en wat dit alles behels het, kon die beoordeling vir die 8ste Shiraz Challenge voortgaan en is die wyne, wat die hoogste punte behaal het, hierdie week tydens ‘n aanlyn toekenningsfunksie aangekondig.
Die bekende en sjarmante TV-persoonlikheid Marciel Hopkins was die aanbieder wat die wyne wat die kollig gesteel het, bekend gemaak het.
Produsente, medialede en verbruikers is uitgenooi om aan te teken vir die funksie wat deur die kultivar-organisasie Shiraz SA aangebied is.
“Tot ons spyt kon ons nie die gebruiklike proe van finaliste, middagete en aankondiging van die wenners opdis nie en moes toe maar vrede maak met die tweede prys van ‘n aanlyn produksie” het Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz SA verduidelik.
En die 12 Shiraz uitblinkers vir 2020 is …(in geen spesifieke volgorde)
- Koelfontein Shiraz 2017 • Kunjani Shiraz 2015
- Benguela Cove Estate Syrah 2018 • Saronsberg Shiraz 2018
- Trizanne Reserve Syrah 2018 • Flagstone Dark Horse Shiraz 2016
- Babylonstoren Shiraz 2018 • Lomond Estate Syrah 2018
- De Grendel Elim Shiraz 2018
- Old Road Wine Co Pepper Wind Syrah 2017 • Wildeberg Red (Boutinot)
- Leeuwenkuil Family Vineyards Heritage Syrah
Die naaswenners in die shiraz-kategorie is: La Motte Pierneef Syrah Viognier 2017, Bloemendal Tierberg Syrah 2014, Rust en Vrede Estate Vineyards Syrah 2017, De Grendel Shiraz 2016, Alto Shiraz 2017, Rickety Bridge Shiraz 2017, Benguela Cove Lighthouse Syrah 2018 en Stellenview Cape Five Reserve Shiraz 2017.
Die shiraz-versnitte wat met die louere weggestap het is:
- Saronsberg Full Circle 2018
- Babylonstoren Babel 2018
- Strandveld The Navigator 2017
Lomond Belladonna SMV 2018, Idiom SMV 2015 en KWV Roodeberg Dr Charles Niehaus 2016 is aangewys as die naaswenners in die versnitkategorie.
Vanjaar is ‘n nuwe kategorie vir Shiraz Rosé bekendgestel en die wyn wat koning gekraai het is die Stellenbosch Hills Polkadraai Rosé 2020 met Zandvliet Shiraz Rosé 2020 en Kleinood Katherien Rosé 2019 kort op sy hakke.
“Alhoewel die aantal rosé-inskrywings betreklik min was, verwag ons dat dit ‘n kategorie is wat sal groei inaggenome die toename in gewildheid wat hierdie wynstyl dwarsdeur die wêreld toon” meen Terblanche.
Dr Andy Roediger, voorsitter van die proepaneel en Kaapse Wynmeester, het opgemerk dat die wyne in hierdie kategorie deur die bank droog en elegant was met bittermin verskil tussen hul ligte blos kleure. Volgens hom het die wyne ‘n lewendige karakter vertoon met geure van rooi vrugte, gesteun deur gedempte aromas van speserye.
“Die shiraz-versnitte was pragtig gebalanseerd met ander variëteite wat nooit die karakter oorskadu het soos partykeer in die verlede. Oor die algemeen het die wyne goeie struktuur vertoon met uitstekende bestuur van houtveroudering.
“Verbasend genoeg was dit die ouer oesjare wat die oog gevang het. Net weer ‘n bewys dat Shiraz-versnitte ook grasieus kan verouder,” aldus Roediger.
Terblanche, wat ook ‘n lid van die proepaneel was, was van mening dat die algehele kwaliteit van die shiraz-kategorie van ‘n uiters hoogstaande gehalte was wat al die verskillende style soos peperagtig, vruggedrewe en spesery-agtig ingesluit het. Hier het die jonger oesjare van 2017 tot 2019 sowaar die veelbesproke oesjaar van 2015 die stof laat byt.
Roediger het bygevoeg: “Hierdie kategorie was by verre die beste wat ek nog die afgelope klompie jare beoordeel het as dit by Shiraz kom. Weer eens ‘n bewys dat Suid-Afrikaanse Shiraz enige dag kan kersvashou by dié van ander lande in die wêreld.”
Die unieke proeformaat wat inter-sessie wynbespreking uitskakel en verg dat elke beoordelaar in sy eie spesifieke volgorde proe, is weer gevolg.
“Ons was verplig om die proepaneel en werkende personeel te verminder, asook om ‘n hele paar maatreëls vir Covid-19 in plek te sit.” het Terblanche opgemerk en bygevoeg, “Maar, gelukkig het alles klopdisselboom verloop en kon ons die beoordeling sonder enige haakplekke binne vier dae afhandel.”
Hierdie jaar se gedugte paneel is saamgestel uit ‘n span ervare proëers en dr Roediger is bygestaan deur Shiraz SA se voorsitter en keldermeester van La Motte, Edmund Terblanche, De Grendel se keldermeester Charles Hopkins, keldermeester van Fairview, Anthony de Jager en eienaar/wynmaker en Kaapse Wynmeester Janno Briere-Louw van Eenzaamheid.
Vinventions SA is die hoofborg van die 2020 Shiraz Challenge en volgens die besturende direkteur, Johan Conradie, is die firma trots om die afgelope 8 jaar met hierdie kompetisie verbind te word. Ander instansies wat ook betrokke is, is Nederburg, waar die beoordeling gewoonlik plaasvind, Wine MS wat na die sagteware en program vir beoordeling omsien en, die Exceed Groep, wat die beoordeling kontroleer en die resultate oudit.
Shiraz SA, wat in 2008 gestig is, is tans die grootste kultivarorganisasie met sowat 230 lede. Produsente van Suid-Afrikaanse shiraz word verteenwoordig en hul oogmerk is om ‘n bewusmaking te skep vir die voortreflike en bekroonde wyne wat plaaslik van hierdie edelkultivar gemaak word.