Terroir gaan wenners bepaal
Die 17de aanbieding van die SA Terroir Wyntoekennings word vanjaar gehou en die beoordeling vind vandeesweek (12 – 14 Julie) by Nederburg en die Manor Restaurant in die Paarl plaas.
Sedert die stigting van die SA Terroir Wyntoekennings in 2006 is duidelik bewys dat die Kaapse wynland nie net geseënd is met top gehalte wyne van die voorste druifkultivars nie, maar ook van verskeie minder bekende kultivars. Suid-Afrika is immers een van die wêreld se beste wynproduserende lande, wat ‘n wye verskeidenheid gehalte kultivars verbou.
Daar word om vyf spog-trofeë meegeding vir die algehele top wyn, top landgoed, top enkelwingerdwyn, top produsent en top wyk. Daarbenewens word nasionale wenners van al die kultivars en style wat vanjaar vir die Terroir-toekennings ingeskryf is, ook aangewys.
Slegs wyne wat gesertifiseer is as enkelwingerdwyn, landgoed-geproduseerde wyn en wyn uit ʼn wyk of ʼn distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, word beoordeel.
Die afgelope jaar het die Wyn-en-Spiritusraad se afbakeningskommitee nog drie nuwe wyke in die Kaapse wynland afgebaken as eiesoortige wynterreine. Hulle is Piket-Bo-Berg in die Swartland, Groenfontein in Calitzdorp en Kweekvallei in Prins Albert. Uit al die land se wyngebiede is daar tans in totaal 96 afgebakende wyke.
Daar is drie nuwe finansiële vennote wat die SA Terroir Wyntoekennings vanjaar ondersteun, naamlik WinField United South Africa, SA Litho en Ontbytsake van DSTV se kykNET kanaal.
WinField United South Africa bied innoverende oplossings en projekte om te help om vooruitgang in landbou te dryf. Een van die projekte waarby dié maatskappy sterk betrokke is, is die Climate Smart Agriculture (CSA)-projek. Onder die CSA-projek installeer Metos SA 200 weerstasies in die Wes-Kaap, en TerraClim gebruik die weerstasiedata om klimaatsverandering in hierdie provinsie teen ‘n hoër resolusie te modelleer. Sodoende word die landboubedryf toegerus en die risiko’s van klimaatsverandering word beter bestuur..
Die wynbedryf word gekenmerk deur ‘n sterk fokus op die impak van klimaat daarop en Niel Kruger, hoof van bemarking van WinField United South Africa, sê: “Ons vennootskap by die SA Terroir-kompetisie is die eerste stap om by die spogwyne van Suid-Afrika betrokke te raak, reg van die wingerd tot by die eindproduk in die bottel.”
SA Litho Label Printers, op hul beurt, sê hulle glo dat ‘n groot produk niks is sonder groot verpakking nie. In vandag se mededingende kleinhandel-omgewing, tel dit werklik om jou eerste indruk ‘n blywende een te maak.
Wat Ontbytsake as vennoot betref, het hulle aan die einde van 2021 van eienaars verwissel en die program word gesien as die ideale platform om sake te bevorder wat ná aan die nuwe eienaars se harte lê. Hierdie ‘hartsake’ sluit onder meer in die bevordering van toerisme en verwante bedrywe soos die wynbedryf. Daar word weekliks op Ontbytsake, kykNET-kanale 144 en 145, ruim blootstelling aan verskeie wynprodusente gegee, insluitend nuwe toetreders in Suid Afrika, maar teen ‘n fraksie van normale lugtydkostes.
“Deur as borg toe te tree en ook met blootstelling aan die SA Terroir-kompetisie, gee ons die kykers kans om met uitsoekwyne kennis te maak en dan ook vir ons om daarmee saam die wynmakers erkenning te gee vir hul uitsonderlike vaardighede,” volgens Louis Mclaren, eienaar en uitvoerende vervaardiger.
Christo Pienaar, voorsitter van SA Nasionale Wynskou Vereniging, wat die SA Terroir Wyntoekennings aanbied, sê hulle sien uit daarna om saam met die nuwe vennote te werk. “Dis opwindende nuus om maatskappye te hê wat verder in die wynbedryf wil belê!”
By hierdie steeds groeiende en vooruitstrewende kompetisie, word wyne waarvan al die druiwe uit spesifieke wynterreine kom, beoordeel; vandaar die term “terroir-wyntoekennings” – wat iets besonders vir die Kaapse wynland en vir wynliefhebbers met ʼn passie vir die land se uitnemende en uiteenlopende terreine verteenwoordig.
Die SA Terroir-kompetisie het ontstaan uit die hoogaangeskrewe Wyn van Oorsprong-stelsel wat 50 jaar gelede gestig is kragtens die Wet op Wyn, Ander Gegiste Dranke en Spiritus, Wet 1957 in 1972. Dit het op 1 September 1973 in werking getree en is sedertdien verskeie kere gewysig. Dit word wêreldwyd as een van die heel beste stelsels beskou om die integriteit van wyn in die bottel en wat op die etiket verskyn, te bevestig.
Die beoordelaarspaneel bestaan uit Jeff Grier (voorsitter), eienaar-keldermeester van Villiera Wyne en Kaapse wynmeester, Elunda Basson, keldermeester van Steenberg, Brendan Butler, wynmaker en bestuurder van Meinert Wyne en Kaapse wynmeester, Samarie Smith, wynskrywer en wynspesialis, en Anton Swarts, senior wynmaker en wynaankoopbestuurder by Spier en Kaapse wynmeester.
Volgens die Kaapse Wynmeester en voorsitter van die Terroir-toekennings se beoordelaarspaneel, Jeff Grier, is die terroir-konsep krities belangrik op die internasionale wyntoneel. “Dit help om die unieke karaktereienskappe wat daardie grond en klimaat in die wyn oplewer na vore te bring. Om te verseker dat hierdie invloede op die wyndruif die prioriteit is, moet die natuur se rol beklemtoon word weens die grond en klimaat se groot bydrae en dít is deel van die terroir-begrip. Terroir het al hoe meer ‘n belangrike term vir ervare en passievolle wynliefhebbers geword.”
Die uitslae en wenners word by ‘n middagete op 18 Augustus bekendgemaak en gebeeldsaai op Ontbytsake op Saterdag, 3 September op kanaal 144.