Stellenbosch Hills se langverwagte 2022 Muscat de Hambourg is hier
Die jongste oesjaar van Stellenbosch Hills se bekende en skaar Muscat de Hambourg, ’n versamelaarsitem as die enigste gefortifiseerde wyn in sy soort in Suid-Afrika, is nou beskikbaar. Die wyn word net in uitsonderlike oesjare vrygestel en was in 2020 laas beskikbaar.
Stellenbosch Hills is een van slegs twee kommersiële Suid-Afrikaanse produsente wat die Muscat de Hambourg-variëteit produseer, maar die enigste wynkelder om dit as enkel-kultivar te botteleer. Die wingerd is oorspronklik in 1987 geplant, maar moes in 2001 vervang word. Vandag beslaan die opgeleide wingerde net minder as een hektaar.
Die wynkelder stel hierdie jongste oesjaar met ’n splinternuwe gesofistikeerde voorkoms vry, wat sy uitsonderlike kwaliteit en erfenis beklemtoon. ’n Nuwe etiket illustreer die sensualiteit en die wyn se misterie en nuwe helder glasbottels vertoon die manjifieke sonsondergang-kleure daarbinne.
Hierdie Stellenbosch Hills Muscat de Hambourg kom uit die 2022 oesjaar wat uitgestaan het vir sy koeler nagtemperature, wat die kleur en geur in die wyn beklemtoon het.
In die glas het die wyn intense geure met skeutjies spookasem, gekookte lekkers, roosblare en viooltjies. Dit tuimel op die tong in heerlike balans en eindig met ’n lang bevredigende fluweelagtige afronding.
Die wyn is perfek as ‘n aperitif of na-ete drankie en moet in die winter teen kamertemperatuur bedien word. Dit is ewe lekker wanneer dit oor gebreekte ys, of vanieljeroomys en aarbeie, bedien word.
Muscat de Hambourg is oorspronklik in Duitsland ontwikkel en die kultivar is ’n kruising tussen Muscat d’Alexandrie en Frankenthal. Stellenbosch Hills maak die wyn in ’n Jerepigo-styl, wat beteken die ongegiste druiwesap word met ’n wynspiritus gefortifiseer, om ’n wonderlike ervaring-in-’n-glas te verseker.
Die Stellenbosch Hills wynkelder en proelokaal is geleë op die hoek van die R310 en Vlottenburgpad, naby Stellenbosch.