Spijker en Bessie gee nuwe betekenis vir bure

Koeitjies en kalfies en ‘n lekker wyn

Goeie buurmanskap, ingeperktheid tydens die covid-19-pandemie en ‘n liefde vir wyn, gemeng met ‘n tikkie humor en meelewendheid van bekendes in die Stellenbosse wynmaakomgewing, het aanleiding gegee tot twee nuwe wyne wat deur Annelie Viljoen op die mark geplaas is. Annelie is die eggenote van DeWet Viljoen, wynmaker van Neethlingshof en werk self as wingerdboukundige op Kanonkop.

“Die twee wyne het ontstaan danksy ons liewe bure van Lovane wat my ook ‘n kansie gegee en gehelp het om my eie ding te doen – veral in hierdie moeilike tye. En vandaar ook sommer die naam van ons besigheid, Buurman en Buurvrou-wyne,” vertel Annelie.

“Duimpie Bayly is ‘n goeie vriend en mentor vir my en sy groot trots is sy bul Spijker. Hulle bly baie naby aan ons en Spijker is die ‘pa’ van ons beeste wat ons by Lovane laat wei. Lovane se eienaars, Hennie en Theresa Visser, het ook paar beeste en hul gunsteling koei se naam is Bessie.

“Sy gooi kalwers dat die biesies bewe – en is baie baie vrugbaar. So, Bessie is die ma van ons besies. Ons beplan om volgende jaar ‘n groot pinotage uit te bring wat nou al in die vate lê. Sy naam is waarskynlik  Beest. Maar wie weet, dalk is daar ook ‘n nuwe ‘Kalfie’-chenin blanc en  Blommetjie of Blommie, of so iets.

“Ek was net lus vir eenvoud – soveel mense het my al gesê hulle voel vreeslik geïntimideerd as hulle voor die wynrakke staan want almal probeer tog so ‘fancy’ wees. Net daar besluit ek toe om die teenoorgestelde te doen – iets plain Jane en Afrikaans. Vir wat moet alles altyd Engels wees?

“Ek het 5000l van elke wyn gemaak en dit lê in die kelder by Lovane waar ons dit een-vir-een bottel en kurk en dan etiketteer ek elke bottel self op ‘n stokoue houtkis wat uit Noag se ark kom.

“Hopelik sal die volume een dag groot genoeg wees om dit kommersieel te laat doen. Kinders help ook saans en verdien ‘n lekker sakgeldjie.

“Eers het ek gedink om dit sommer net aan vriende en familie te verkoop, maar dit wil lyk of die belangstelling groter is as dit. Ek’t nog baaaaie om te leer, maar die mense in hierdie bedryf is fantasties en almal help waar hul kan.”

Die sauvignon blanc kos R80 per bottel en die malbec R130. Skakel Annelie direk vir bestellings en aflewering of bestel by spijkerbessie@gmail.com

Bessie? Of is dit nou Spijker? Hul name is nou op wynetikette verewig.

Spijker

Die wyne word almal met die hand geëtiketteer.

Duimpie se beeste is die hoofkaraters in hierdie wynverhaal.

Annelie Viljoen is die dryfveer agter die twee nuwe wyne.

Duimpie Bayly, wat amper beskou kan word as die vader van Spijker, het hand bygesit met die nuwe wyne.