Delheim, Stellenbosch se eie 80-jarige wyn-ikoon, is een van die wynlandgoedere wat kan spog met wyne wat uitstekende verouderingspotensiaal en -waarde het.
Die wynkelder het ’n reuse-aanhang ontwikkel met sy wyne se verouderingspotensiaal. Kliënte wat tydens die inperking genoodsaak is om van hul ouer Delheim-oesjare te drink, se uitstekende terugvoer het die plaas gemotiveer om hierdie goeie nuus wyd en syd te deel.
“Nie alle wyne is veronderstel om met ouderdom te verbeter nie. Die meeste word gemaak om markgereed te wees, sodra dit gebottel is,” sê wynmaker Roelof Lotriet. “Delheim se Ou Wêreld-erfenis onderskryf ons meer klassieke aanslag en die rede agter ons gebalanseerde portefeulje goedgemaakte, maklik drinkbare wyne wat net beter word met ouderdom.”
Versamelaars kan oorweeg om met hierdie Delheim-trio weg te spring: ’n rooi-, wit- en soetwyn – elkeen ’n Stellenbosch-ikoon in eie reg. Twee van dié wyne – die Vera Cruz Pinotage 2017 en die Edelspatz 2019 – het pas 95/100 in die VK-gebaseerde Master of Wine Tim Atkin, se South Africa Special Report 2020, behaal. Laasgenoemde wyn is ook onder die top 10 wat uitgesonder is in Winemag.co.za se onlangse Prescient Dessert Wine Report. Die trio is voltallig met die ewe indrukwekkende Chardonnay Sur Lie 2019, met sy uitmuntende verouderingspotensiaal.
Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie verskillende versamelwyne.
Die Vera Cruz Pinotage 2017 (voor-vrystelling) is die jongste oesjaar van die wyn en slegs as ’n voor-bestelling beskikbaar. Die Vera Cruz word nét in jare gemaak waar uitstaande kwaliteit behaal word. Dis ’n enkelwingerdwyn wat die beste wat Delheim kan bied, ten toon stel. Die druiwe vir die wyn word sorgvuldig uit ’n gedeelte van Delheim se Vera Cruz-wingerd uitgesoek.
“Dieprooi kleur, ryp, donker vrug en blomgeure met skeutjies spesery en mokka,” beskryf Lotriet hierdie die 2017-oesjaar en voeg by: “Volrond met ’n oordadige tannien-struktuur, sappige smaak wat met ouderdom sal beloon.
“Noukeurige veroudering sal hierdie wyn toelaat om grasieus vir ten minste die volgende 10 jaar te verouder.”
Die Vera Cruz Pinotage 2016-oesjaar, wat ook voorheen 95 punte by Tim Atkin ontvang het, is ook onlangs aangewys as finalis in die ABSA Top 10 Pinotage-kompetisie, wie se wenners later vandeesmaand aangekondig sal word.
Die Edelspatz is een van Suid-Afrika se mees geliefde wyne, wat sy reputasie oor baie jare verstewig het. Van aanstaande jaar sal die wyn deel word van die Old Vine Project (OVP), die Suid-Afrikaanse inisiatief om wyne wat van wingerde ouer as 35 jaar gemaak word. Die blok Weisser Riesling waarvan die wyn gemaak word, is in 1985 geplant en lewer een van die uitsonderlikste edellaatoes- wyne in die land. Dit sal ook die eerste riesling-wingerd wees wat by die OVP geregistreer word.
Ook hier word die wyn net gemaak as die toestande gunstig is. Vir die 2019-oes is die druiwe sorgvuldig uitgesoek voor dit heeltros gepars is en in Franse eikehoutvate gegis het en toe vir nege maande verouder is. “Dit was een van die beste edellaatoesvrot in meer as ’n dekade en die wyn toon klassieke botrytis-karaktereienskappe op die neus en word gekomplementeer deur geure van kanferfoelie, gedroogde perskes en marmelade,” sê Lotriet. “Die wyn vertoon perfekte balans tussen suiker en suur, en het lae helder vrugte – en lemoenbloeisel-geure. Geniet dit nou of bewaar dit in jou kelder vir tot 30 jaar.”
Delheim se Chardonnay Sur Lie word teruggehou vir addisionele bottelveroudering voor dit vrygestel word. Die 2019 is die jongste oesjaar van hierdie wyn en dis ongetwyfeld geskik om vir nog vyf jaar te verouder. Die vrugte is ook hier handgepluk en heeltros gepars. Die sap is in Franse eikehoutvate gegis – ’n kombinasie van 500- en 225-liter-vate met 15% nuwe hout. Die wyn is vir nege maande op die gismoer gelaat – die tegniek waaraan die wyn sy naam te danke het – voor dit versny en gebottel is.
In die glas lewer dit aromas van vars appels, sitrus, steenvrug en kweper, met subtiele nuanses eikehout. Dit dra by tot die gestruktureerde smaak. “Elegant en goed gebalanseerd, met ’n mineraalagtigheid op die einde,” beskryf Lotriet die wyn se vernaamste kenmerke.
Die Chardonnay Sur Lie 2019 is heerlik op sy eie of alternatiewelik saam met geelstert op die kole of ’n romerige Dijon-Dragon-hoenderdis.
Die beraamde handelsprys vir die Chardonnay Sur Lie 2019 is R195, die Vera Cruz Pinotage 2017, R470 en die 375ml Edelspatz 2019, R310.

Die Delheim Vera Cruz

Delheim se Edelspatz is een van Suid-Afrika se bekendste edellaatoeswyne.

Roelof Lotriet, wynmaker op Delheim.