Staat sleep voete met wyn-hofsaak

Frustrasie neem toe oor Vinpro-saak

Die wynprodusenteliggaam Vinpro se regsgeding teen die Suid-Afrikaanse nasionale regering, waarvolgens hulle spesifieke aspekte van die besluitneming rondom die verbod op drankverkope betwis, is tot Augustus 2021 uitgestel.

Die saak wat op 28 en 29 April 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof voor ʼn volbank regters aangehoor sou word, kon nie voortgaan nie omdat die nasionale regering hul antwoordende verklarings laat ingedien het. Benewens die laat indiening van die antwoordende verklarings, wil die regering meer as 1 000 bladsye materiaal uit ʼn ander hofsaak (SA Brouery se uitdaging van die verbod) by Vinpro se saak insluit, wat nie binne die beperkte tyd hanteer kon word nie.

“Ons is uiters teleurgesteld deur die uitstel van hierdie hofsaak, maar die laat indiening en inkorporering van addisionele beëdigde verklarings wat nie verband hou met die kern van Vinpro se regsgeding nie, het noodgedwonge tot die uitstel gelei,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Omdat die saak uitgestel gaan word, moes nuwe beskikbare datums gevind word vir die regspanne en regters wat aan die saak toegewys is. Nasionale regering word ook deur drie spanne advokate verteenwoordig en ʼn vroeëre datum wat geskik is vir al die advokate kon nie gevind word nie.

“Vinpro het van meet af aan beswaar gemaak teen die groot kontingent van advokate wat die nasionale regering verteenwoordig,” sê Basson. “Dit is inderdaad ironies dat die nasionale regering vir soveel regsverteenwoordigers betaal, terwyl hulle in die hofstukke sê dat hulle nie oor genoeg hulpbronne beskik om meer doelgerigte inperkingsmaatreëls te polisieer nie, soos om padversperrings te beman en ʼn verbod op verkope slegs in brandpuntgebiede in te stel nie.”

Vinpro sal dus voortgaan met sy hofsaak, waarin die organisasie onder meer aanvoer dat nie net die verkeerde regeringsvlak (nasionale teenoor provinsiaal) tot op hede besluitneming rondom die kleinhandelverkope van drank tydens die nasionale ramptoestand behartig het nie, maar dat die implementering en instandhouding van meer as een landwye verbod deur die nasionale regering oormatig, onnodig, ongeregverdig en inderdaad teenproduktief was.

“Die nasionale regering voer veral aan dat hy die Wes-Kaap of ander provinsies nie van ʼn toekomstige drankverbod kan vrystel nie – selfs al is daar meer as genoeg beskikbare hospitaalbeddens – omdat die regering nie oor die hulpbronne beskik om padversperrings op te stel om te voorkom dat drank na ander provinsies vervoer word nie,” sê Basson.

Vinpro se regspan sal nou die addisionele tyd gebruik om hul reagerende verklarings af te handel en hul argument voor te berei. ʼn Ooreenkoms is ook met die regsverteenwoordigers vir nasionale regering gesluit waarvolgens onverwante en irrelevante dele van die SAB-materiaal wat die nasionale regering gepoog het om ter verwysing in te sluit, wel uitgesluit sal word.

In die geval dat ʼn verdere verbod ingestel word voor die volgende hofdatum, sal Vinpro sy reg uitoefen om dringende tussentydse regshulp van die Kaapse Hooggeregshof aan te vra, en versoek dat die premier van die Wes-Kaap Provinsie die mag gegee word om van die nasionale regulasies af te wyk en die verkoop van drank vir binne- en buiteverbruik in die provinsie toe te laat. Uiteindelik sal soortgelyke verligting ten opsigte van ander provinsies versoek word.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf gaan steeds onder ernstige finansiële druk gebuk, namate besighede sukkel om te herstel van ʼn langdurige verbod op drankverkope oor die afgelope jaar, en hulle verskeie ander uitdagings soos hoë voorraadvlakke, logistieke probleme by hawens wat uitvoere belemmer en stygende insetkoste moet oorkom. “Heelparty ondernemings moes sluit, wat tot werkverliese gelei het, en ernstige nagevolge ingehou het vir die hardwerkende mans en vroue wat van die bedryf afhanklik is vir hul lewensbestaan,” sê Basson.

Oor Vinpro

Vinpro verteenwoordig 2 582 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en ander wynverwante ondernemings wat ʼn wesenlike werksmag ondersteun, en wat almal afhanklik is van die wynbedryf vir hul lewensbestaan. Heelwat van Vinpro se lede verkoop en versprei ook hul wyne na gelisensieerde restaurante en hotelle, en bedryf self ook gelisensieerde restaurante op hul eie plase waar hulle wynproeë aan verbruikers bied.

“Ons is uiters teleurgesteld deur die uitstel van hierdie hofsaak, maar die laat indiening en inkorporering van addisionele beëdigde verklarings wat nie verband hou met die kern van Vinpro se regsgeding nie, het noodgedwonge tot die uitstel gelei,” Rico Basson, Vinpro HUB.