Oes dalk effens beter as in 2019, goeie gehalte verwag
Die 2020-wynoes het by die meeste wynplase in die Stellenbosch-streek in alle erns begin en wynboere is versigtig optimisties oor die oes.
Op Tokara in die Helshoogtepas is dinge ook al aan die gebeur. Die eerste chenin blanc-druiwe van die nuwe seisoen is reeds in die kelder.
Sommige van die werkers is al meer as 20 jaar by die plaas betrokke en help steeds om die beste druiwe vir hul wyne in te samel.
Volgens die kelderwerkers is daar vroeë aanduidings dat dit ’n fantastiese seisoen gaan wees.
Op Simonsig, een van die streek se voorste wynplase, dreun die trekkers al van vroeg verlede week in die wingerde.
Volgens sy wynmaker Michael Malan is aanduidings dat dit een van die beste oesjare die afgelope vyf jaar kan wees.
“Die trosse raak eweredig ryp en is gesond en dit is ’n goeie teken. Soos met die meeste wingerde in die Stellenbosch-streek, het ons op Simonsig ’n koue winter gehad, ’n koel groeiseisoen en gematigde seisoen sedert die wingerde in September begin blom het. Oktober en November, belangrike maande vir korrel-vorming, was ook sonder uiter-mate hitte en dit het baie bygedra tot ’n goeie korrelvormingstadium.
“Tans lyk ons opbrengs, ’n belangrike faktor vir enige kelder, ook beter as verlede jaar toe die droogte sy tol geëis het. Ons het ongeveer 530 mm reën gekry, steeds effens minder as ons gemiddelde van 650 mm, maar dit help om die grond klam te hou en ons opbrengs weer tot op vorige vlakke te help,” sê hy.
Malan meen sekere kultivars soos shiraz groei vinnig en die trosgroottes is bemoedigend ondanks die feit dat baie nog besig is om ryp te word.
Nic van Aarde, wynmaker van Oldenburg-wyne in die Helshoogtepas, is een van die gelukkiges wat nog ’n blaaskans het.
“Ons oes begin waarskynlik in die eerste week van Februarie. Dit is ongeveer 10 dae vroeër as verlede jaar. In dit is waarskynlik viognier en chardonnay wat eerste aan die beurt gaan kom.
“Ons het genoeg water en hitte om goeie wingerdgroei te bevorder. Die wingerde voel egter steeds die nagevolge van die laaste paar jaar se droogte. Ons verwag dus dat die oes kleiner as gemiddeld gaan wees, maar dat die gehalte van die druiwe, en natuurlik ons wyne, vir uitstekend sal wees.
“Ek verwag dat ons in tonnemaat meer gaan oes as in 2019, maar steeds ’n bietjie onder die gemiddelde weens die afgelope paar jaar se droogte. Die druiwe lyk egter deurgaans goed ondanks ’n bietjie windskade hier en daar,” meen Van Aarde.
Genoegsame water en ’n matige rypwordingsperiode het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse wyndruifoes van 2020 ietwat groter as in 2019 kan wees, maar steeds kleiner as die langtermyngemiddelde.
Volgens die wynbedryf se inligtingsorganisasie, Sawis, het wynboere in 2019 ’n opbrengs van 1,244 miljoen ton gelewer en die gemiddelde oes oor die afgelope vyf jaar beloop 1,360 miljoen ton. Wingerdkundiges en kelders het die nuutste oesskatting middel Januarie ingedien nadat die eerste skatting reeds in Desember uitgereik is.
Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, het by die Nedbank Vinpro-inligtingsdag verlede week vertel dat die 2020-parsseisoen oor die algemeen minstens ’n week vroeër begin het.
Redes vir die nuutste oesskatting sluit ’n verskeidenheid klimaatsfaktore in.
“Blom en set was oor die algemeen goed en ’n verbetering op wat ons in die vorige seisoen gesien het. Genoegsame water en hitte het wingerdgroei bevorder en die wingerde se lowers is daartoe in staat om ’n goeie oes ryp te maak. Deurslaan was vroeg, vinnig en egalig,” sê Conrad.
Tot dusver is die somergroeitoestande oor die algemeen koel en gematig. Wynboere het vanjaar meer water beskikbaar as in die vorige seisoen, dus kan besproeiing gedurende die rypwordingsfase toegepas word indien nodig.
Conrad sê hoewel dinge in hierdie stadium meer rooskleurig daar uitsien vir die meeste streke, het die Noord-Kaapstreek grootskaalse rypskade ondervind, die Olifantsrivierstreek herstel steeds na die vorige jare se droogte en dele van die Klein Karoo gaan nog gebuk onder die voortslepende droogte. In hierdie streke word ondergemiddelde oeste verwag.
“Ons sien in die kelders wat reeds begin pars het, dat hulle goeie tonnemate afgehaal het, en dat die druiwe ’n mooi kleur, hoë sure en lae pH’s het,” sê Conrad opgewonde.
Hy raai produsente aan om baie tyd gedurende parstyd in die wingerd deur te bring om trosmonsters te neem en grondwaterinhoud gereeld te monitor vir doeltreffende watertoediening.
Kyk na Nic se video op die tuisblad en luister na sy mening oor die komende wynoes. Video: Thys Lombard Photography