Suid-Afrika reg vir goeie oes ondanks Covid-19-inperking

 Voortreflike wyne verwag van 2020-wyndruifoes
Die plaaslike wynbedryf oes tans die laaste paar ton druiwe in agt van die 10 wynstreke, als te danke aan ’n toegewing deur die Suid Afrikaanse regering dat produsente en kelders die pars kan afhandel en kan voortgaan met wynmaakaktiwiteite gedurende die landwye COVID-19 inperking van tot aan die einde van April 2020.
Volgens ʼn beraming van die wynbedryfliggaam SAWIS (SA Wynbedryf Inligting & Stelsels) in die derde week van Maart, verwag wingerdboukundiges en kelderprodusente ʼn effe groter oes as die vorige jaar, maar steeds kleiner as die vyf jaar gemiddeld van 1.36 miljoen ton.
“Hoewel daar groot verskille in oesgrootte vanweë die geografiese verspreiding van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, kan die geskatte oesgrootte aan kleiner korrelgroottes, die voorkoms van botritisvrot en die voortslepende droogte in sekere gebiede toegeskryf word,” sê Conrad Schutte, bestuurder van die wynbedryforganisasie Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.
Die voorkoms van wind gedurende die groei- en rypwordingsperiode in sekere streke het bygedra tot kleiner korrelgroottes, wat weer ligter oeste en laer sapverhalings tot gevolg gehad het. “Kleiner korrels het meer geur- en kleurkonsentrasie wat tot uitnemende kwaliteit in die wyn sal lei,” sê Schutte.
Hoewel die voortslepende droogte in die Klein Karoo steeds ʼn negatiewe effek op die oes in dié streek het, het die Olifantsrivierstreek wat veral voorheen deur die droogte geteister is, ʼn verbasend goeie oes gelewer danksy gematigde rypwordingstoestande, aanpassings in verbouingstegnieke en wingerde wat beter as verwag herstel het.
Oes gaan voort, maar wynverkope opgeskort
Toe die Suid-Afrikaanse regering die COVID-19 regulasies tydens die inperking op 25 Maart 2020 aangekondig het, is alle wynbedryfaktiwiteite verbied, insluitend die produksie, verspreiding en verkope van alkoholiese drankies (beide plaaslike verkope en uitvoere) van middernag op 26 Maart tot middernag op 16 April.
Voorspraak deur verskeie bedryfsorganisasies het egter daartoe gelei dat die regering op die nippertjie, net voor middernag op 26 Maart, ʼn toegewing gemaak het dat “oes- en bergingsaktiwiteite wat nodig is om die vermorsing van primêre landbougoedere te voorkom” as noodsaaklike dienste beskou word en mag voortgaan gedurende die inperking.
Vinpro, die verteenwoordigende liggaam vir nagenoeg 2 500 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en wynverwante besighede, het sy dank uitgespreek oor die toegewing deur die regering en ʼn beroep op alle lede gedoen om aan die regulasies te voldoen, insluitend streng higiëniese beheermaatreëls tydens vervoer en in die werkplek, en voorsiening van die nodige permitte aan alle personeellede wat vir werkdoeleindes moet reis.
Intussen is plaaslike verkope, uitvoer en die verspreiding van alkoholiese drank steeds verbode tydens die inperking, insluitend die aflewering van aanlyn-wynbestellings.
“Ons verstaan die erns van die globale COVID-19-pandemie en ondersteun president Cyril Ramaphosa in sy besluit om uiterste maatreëls te tref om die veiligheid van die land te verseker,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro. “Die verbod op uitvoere en kapasiteitsbeperkings by ons belangrikste hawens sal egter ’n omvangryke uitwerking hê op die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, en selfs nog belangriker, die lewensbestaan van die byna 300 000 individue wat in die waardeketting werk.”
Nagenoeg die helfte van Suid-Afrika se wyn word uitgevoer. Vinpro, SA Liquor Brand Owners Association (SALBA) en Wines of South Africa (WoSA) het intussen ’n taakspan vir die bevordering van uitvoere saamgestel om voortgesette beraadslaging met die regering te versterk, en hoop op ʼn gunstige uitkoms.

Moeilike tye vra vir samewerking

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente is innoverend en het die afgelope paar jaar baie gedoen om aan te pas by ʼn verskeidenheid moeilike situasies, insluitend veranderende weerpatrone, ’n uitdagende ekonomiese klimaat en politieke onsekerheid.

Gedurende die COVID-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap weer eens bewys hoe hulle koersvas saam staan om parstyd onder uitdagende omstandighede en met beperkings voort te sit om die laaste druiwe vir 2020 in te bring.

“Onder buitengewone omstandighede is produsente en landbouwerkers ʼn uitstekende voorbeeld van ons Reënboognasie wat saamgestaan het en vinnig opgetree het om ekstra veiligheidsmaatreëls in plek te stel en seker te maak hulle voldoen aan die regulasies soos deur die regering uiteengesit,” sê Basson.

Suid-Afrika bied uitsonderlike gehalte

Ondanks ’n magdom uitdagings wat die bedryf in die gesig gestaar het, is die erkenning wat die land vir die gehalte van die wyne in onlangse tye ontvang het, bemoedigend, sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van WoSA.

Hetsy deur ʼn goeie woord van wynmeester Tim Atkin, of toekennings by internasionale kompetisies soos die International Wine & Spirit Competition en Decanter World Wine Awards, toon Suid-Afrikaanse wyne deurgaans ʼn flair en buitengewone gehalte wat met wyndrinkers reg oor die wêreld aanklank vind.

“Regdeur die spektrum is ons fokus steeds op premiumisering van ons wyn,” sê Thopmson. “Hoewel ons aanbod steeds uiters kompeterend in ʼn globale mark is, het ons produsente die waarde van ons wyn begin besef. Om die speelveld gelyk te maak, het ons nodig gehad om ons pryse te lig om meer in lyn met ons kompetisie te wees. Ons het ons kwaliteit opgeskerp en daarom is hoër pryse aan die orde van die dag.”

Hoewel die COVID-19 pandemie groot gevolge mag inhou nie slegs vir die wynbedryf nie, maar baie ander bedrywe ook, sal daar waarskynlik ’n groot verandering wees in die manier waarop die bedryf sake doen. Virtuele proeë mag die nuwe normaal word namate produsente aanlyntoepassings soos Zoom en Houseparty gebruik om met hul invoerders, agente en selfs hul verbruikers oor die hele wêreld in gesprek te tree.

Thompson is van mening dat dit die Suid-Afrikaanse wynbedryf in staat sal stel om sy reikwydte te vergroot en kan lei tot groei in nuwe markte wat voorheen nog nie ondersoek is nie. “Ons moet hierdie verandering aangryp en die geleentheid sien wat voorlê.”
“As ʼn bedryf het ons nog altyd positief gebly en ons sal voortgaan om positief te bly ondanks ons huidige uitdagings. Wanneer als weer na normaal teruggekeer het en besigheid voortgaan soos vroeër, sal ons produsente gereed wees met verkope en bemarking van Suid-Afrikaanse wyn. En hopelik in die jare wat voorlê sal ons hierdie tyd onthou as een van introspeksie, waar ons bymekaargekom het en selfs sterker as tevore uit die stryd getree het,” sê Siobhan.
Die volledige 2020 Suid-Afrikaanse Wynoesverslag word op 5 Mei 2020 uitgereik.