Terroir-toekennings gaan ook voort – onder streng Covid-19-riglyne

Novare SA Terroir bekroon eiesoortige wyne 

Die Novare SA Terroir Wyntoekennings se sluitingsdatum is voor die deur nadat die kompetisie met meer as ʼn maand uitgestel is. Die nuwe sluitingsdatum is 17 Julie.

Dié besluit is geneem nadat die organiseerders – die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) – deeglik oor die aanbied van sy verskillende wynkompetisies tydens die Covid-19-inperkings besin het in oorlegpleging met Vinpro, Wines of South Africa (WoSA) en ander rolspelers in die wynbedryf.

Die uitwerking van die Covid-19-pandemie en die gevolglike beperkings op velerlei  ekonomiese en ander bedrywighede in Suid-Afrika, het daartoe gelei dat normale bedrywighede aangepas moes word om wel binne hierdie veranderde omstandighede te kan voortgaan.

Die SANWSV en Novare as borg van die Terroir Wyntoekennings is terdeë bewus van die noodsaaklikheid dat die veiligheidsmaatreëls vir die voortsetting van dié kompetisie onder Vlak 3, nagekom word. Noukeurige protokolle is gereed om die beoordeling van die wyne wat ingeskryf word so te hanteer dat dit voldoen aan alle gesondheids- en veiligheidsvereistes vir die beoordelaars, beamptes en personeel betrokke by die proesessies.

Dié kompetisie, wat vanjaar vir die 15de keer aangebied word, evalueer wyne waarvan al die druiwe van ʼn spesifieke terrein kom en deur die paneel as van uitnemende gehalte aangewys moet word om erkenning te kry. Die nasionale wenners van al die style en kultivars het die afgelope 14 jaar uit verskeie wyngebiede gekom.

Die top presteerders sluit in Bon Courage van Klaasvoogds (Robertson), Nuy Wynkelder van Nuy  (Worcester), Jordan en Neethlingshof in Stellenboschkloof, D’Aria in Durbanville, Groot Constantia in Constantia, Wildekrans by Botrivier, Hermanuspietersfontein in Walker Bay, Springfontein in Stanford, Doolhof in die Limiet Wyk (Wellington), Bergsig in die Breedekloof, Anura van Simonsberg-Paarl, Ormonde in Darling en Cederberg Privaat Kelder met wyne uit Elim en Cederberg.

Volgens Pieter du Toit, bemarker van Cederberg Privaat Kelder, wat al verskeie nasionale wenners opgelewer het, is dié kompetisie die afgelope jare ʼn belangrike een in hul dagboek.

“Die rede is eenvoudig – dit dui die beste wyn aan binne die area of streek waarvandaan dit kom. So word dit  ʼn maatstaf en rigtingaanwyser vir ander wyne binne dieselfde gebied. Sou ʼn wyn meer as een maal wen, weet die res waarna hul moet streef. Ons wil meer kelders aanmoedig om deel te neem, want dit het die potensiaal om ook dié kompetisie vir wynmakers te word, iets vir die binnekring,” sê Pieter.

Doolhof Landgoed in die Limietberg Wyk aan die voet van Bainskloofpas by  Wellington, het die heel eerste Novare Trofee ooit vir Suid-Afrika se top enkelwingerdwyn verower en dit verlede jaar weer vermag. Volgens wynmaker Gielie Beukes is die Terroir-kompetisie een van die belangrikste platforms om hul wyne ten toon te stel.

“Die groot fokus om die landgoed se wyne veral as enkelwingerd-wyne te laat skitter is ʼn belangrike strategie en een van ons groot hoekstene en dryfvere tot sukses. Die Toekennings maak voorsiening vir hierdie tipe fokus. Die Limietberg Wyk is uniek en ons is baie trots as die wyne goeie resultate behaal in die Terroir-kompetisie,” sê Gielie.

Jordan Landgoed in Stellenbosch het in 2014 die eerste Novare Trofee vir Suid-Afrika se Top Terroir Produsent ontvang, met drie nasionale wenners asook die Novare Trofee vir SA Terroir Top Wynlandgoed. ʼn Paar maande later het dié landgoed by die Internasionale Wyn- en Spiritualieë Kompetisie in Londen die trofee vir top Suid-Afrikaanse Wynprodusent van die Jaar ontvang.

Volgens hul wynmaker, Sjaak Nelson, is dit vir hulle die uitbeelding van die grond en klimaat wat hulle op die landgoed uitleef. “Terroir wys nie net hoe die wyn homself in ons wynstreek verteenwoordig nie, maar dit beklemtoon ook die belangrikheid van die impak van die terroir-kenmerke in ons spesifieke kleiner gebied,” sê Sjaak.

Die Wyn- en Spiritusraad se Afbakeningskomitee het onlangs nog ʼn nuwe distrik en nuwe wyke afgebaken as eiesoortige wynterreine. Hulle is die Sentraal-Oranjerivier Distrik en die nuwe wyke Groblershoop, Grootdrink, Kakamas, Keimoes en Upington. Die Kaapse wynland het nou 89 wyke wat as eiesoortige wyngebiede deur die Afbakeningskomitee geïdentifiseer is.

Slegs wyne wat by die Wyn-en-Spiritusraad gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ʼn spesifieke wyk, ʼn distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ʼn landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn mag aan die Novare SA Terroir Wyntoekennings deelneem.

Die Wyntoekennings se nasionale wenners van terroir-gedrewe kultivarwyne, rooi- en wit versnitwyne, rosé, natuurlike en gefortifiseerde soetwyne en ou wingerd-wyn (Certified Heritage Vineyard) word met sertifikate vereer. Die wenners in die kategorie-terreine word in die amptelike dokumentasie aangekondig en sertifikate kan bestel word. Bottel-seëls is vir beide die nasionale wenners en distrik/wyk-wenners beskikbaar.

Die Novare Trofeë vir die Top Enkelwingerdwyn, Top Landgoed, Top Wyn-area, Top Terroir Produsent en Top Wyn van die kompetisie word toegeken.

Die inskrywings vir die kompetisie sluit op 17 Julie en die aflewering van monsters vir beoordeling is vir 23 en 24 Julie geskeduleer. Die beoordeling vind van 3 – 7 Augustus plaas. Die volume-vereiste vir inskrywings is slegs 180 liter. Die datum vir die oorhandigingsfunksie sal later bekendgemaak word.

Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by www.terroirwineawards.co.za

Paul Kruger (Nuy) , Ola Leepile (uitvoerende hoof van Navara Holdings) en Christo Pienaar (Nuy).